Romeine 15:4-13

Datum: 8 Desember 2019

Prediker: Hannes Burger

Ons het almal ons gunsteling-deel van die koerant. Ek ken party ouens wat hom altyd van agter af begin lees, om eerste die sportnuus te hoor. Ander weer blaai na die hoofberig, of lees selfs net die opskrifte. Jy kry selfs mense wat die briewe en die doodsberigte ook lees. Elkeen van ons lees hom op sy eie manier. Self blaai ek heel eerste na die spotprent toe, want dit voel my Fred Mouton sê gewoonlik vir my alles wat ek hoef te weet. En terwyl ek nou op daardie blad is, Kan ek dalk ook Saterdae daardie stukkie lees wat hulle “Geestelike Waardes” noem. Ek weet nie – dalk is dit ‘n dominee-ding. En soos met die res van die koerant, stem ek nie noodwendig altyd volmondig met die skrywer saam nie. Maar gewoonlik hoor ek darem iets oor waaroor ek bietjie kan dink.

Meeste van die tyd moet ek erken, weet ek nie eens wie die stukkie geskrywe het nie. Daar staan net voorletters onder-aan. Voorverlede Saterdag se stukkie was geteken RRV. Vroeër jare sou ek sê: Dis seker ‘n ou dominee wat ek nie ken nie. Deesdae sê ek: Dis seker ‘n jong dominee wat ek nie ken nie. Maar ek het darem navraag gedoen en Johan reken hy weet wie RRV is. Hy dink dis dalk Robert Vosloo by die kweekskool. Ten minste is dit een geheimenis wat opgeklaar is sonder dat ons die Zondo-kommissie betrek het.

  1. Die drie komste van Jesus

Maar ek dwaal al weer af. Eintlik wil ek gesels oor iets wat RRV voorverlede Sondag kwytgeraak het. Eintlik het hy ‘n ander ou aangehaal. Iemand met die naam van Bernardus van Clairvaux. Nou weet ek jy ken hom ewe min as vir RRV, so laat ek hom voorstel: Bernardus was ‘n besonder toegewyde kind van die Here, al was hy nie altyd ‘n baie maklike ou om oor die weg te kom nie, want hy was verskriklik streng. In die 12e eeu het hy ‘n hervorming van sy eie in die kerk gelei, omdat hy gevoel het kerklui het te wêrelds geword. Terloops, hy is ook die ou wat die hele Maria-verering van die Roomse kerk gevestig het. Nou ken julle ten minste darem vir Bernardus al beter as vir RRV.

Maar ek bly vanoggend afdwaal. Die punt is, ons het baie preke van Bernardus, en in een van hulle praat hy oor die drie komste van Jesus na ons wêreld toe. En toe ek dit lees, sit ek natuurlik dadelik ‘n bietjie regopper. Want ons weet almal van Jesus se eerste koms, toe hy die nag in die stal van Betlehem mens geword het, en vir dertig jaar tussen ons kom woon het. Dit was sy eerste koms, wat ons die tyd van die jaar in die Kerstyd vier. Ek daarby bely ons natuurlik ook amper elke Sondag dat ons glo in Jesus se tweede koms, wanneer Hy weer sal kom “om te oordeel oor dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.” Ons glo in die wederkoms, dat Jesus op ‘n dag wat niemand vooraf weet nie, weer sal kom.

Dis dan mos sy tweede koms. Maar ek weet nie lekker van ‘n derde koms nie. Ek weet die Adventiste glo dat Jesus gekom het en toe net so weer terug is hemel toe toe Hy sien ons vier nie meer die Sabbat nie – maar glo net hulle dit. Die res van ons bely dat God in Jesus twee keer na ons toe kom – eers in die verlede op Kersfees, en dan in die toekoms weer met die wederkoms. Dis dié dat ou Bernardus se preek oor die drie komste my so half verbaas laat opkyk het.

  1. Wanneer Jesus in en deur ons begin kom...

En toe begin ek verstaan. Daar is ‘n derde manier, sê Benardus, waarop God na ons wêreld toe kom. En dis in ons en deur ons. Want ek weet God bly mos nou binne-in ons. Dit beteken: oral waar jy kom, kom God ook. In jou woorde en jou dade en jou glimlag. In jou deernis vir stukkende mense van wie jy niks in ruil kan verwag nie. In jou sagte oë wanneer jy na die mense om jou kyk. Elke keer wanneer ek en jy die vrug van die Gees vertoon in ons donker wêreld. Bernardus was reg. God roep jou en my, om só in Jesus se voetspore te lewe, dat ons God daagliks op honderde maniere na ons wêreld toe te laat kom.

Toe onthou ek iets soortgelyks wat ‘n ander kerkvader al in die eerste eeu na Christus gesê het. Hy was Clemens van alexandrië, en hy het in ‘n preek gesê dat ons roeping as gelowiges is om Jesus te wees vir die wêreld. ‘n Vreemde ding om te sê! Dis tog onmooontlik – hoe kan ‘n swakke mens soos ek en jy die Verlosser van die wêreld wees? Maar onthou, in Clemens se tyd het baie min mense Bybels gehad. Dis net wanneer Jesus se volgelinge Jesus begin lewe het, wat die wêreld vir Jesus gesien en begin leer ken het. Hulle het Jesus leer ken sonder om ooit die Bybel te lees, want hulle kon Hom in sy volgelinge sien. Hulle was Jesus vir die wêreld. En dis presies hoe God ook in jóú omgewing kan kom. Wanner jy vir Jesus teenwoordig begin maak in jou wêreld, as jy soos Hy begin raak, soos Hy begin dink, en leer om soos Hy te begin dien.

Dis Jesus se derde koms: wanneer Hy in ons en deur ons optrede, kom in ons wêreld.

En dis presies waaroor Romeine 15 ook gaan. Paulus praat hier baie duidelik oor die andersheid van die kerk. Natuurlik is ons ook maar mense. Ons het presies dieselfde geneigdheid as die res van die wêreld, om onsself ten alle koste te probeer handhaaf en net aan ons eie belange te dink. Dis ingebore in elke mens. Maar nou het daar iets in ons lewe gebeur, wat alles verander het. En daardie iets noem mens Kersfees. Christus het nie aan Homself gedink nie, maar vir ons mens geword. Hy het as Seun van God Homself ontledig en ter wille van ons ‘n dienskneg geword. En dit het alles verander. Daarom kan ons nou vry kom, en liefdevol en verdraagsaam begin wees. Daarom kan ons begin wegkyk van onsself, om ander wat swaar kry te begin raaksien, sodat ons hulle kan optel en dra. Dis hoekom mense hier welkom is wat nêrens anders ‘n plekkie kan kry nie. Want ons is anders...

  1. Die Praktiese implikasies

Daarom is hoekom dit my so ontstel het toe ek die afgelope week een van ons lidmate vol brawade hoor sê: Ek kan nie langer behoort aan ‘n kerk waarmee ek nie nie kan saamstem nie. Dit het my geweldig ontstel, sodat ek die nag daaroor wakker gelê het. Want hoe kan ons so sê? Van wanneer af is die kerk één omdat ons almal honderd persent in alles met mekaar saamstem? As dit die basis van ons eenheid is, is dit regtig niks besonders nie. Oral in die wêreld kom mense baie goed oordie weg met almal met wie hulle saamstem. Dan is daar geen probleem nie.

Maar die nie waarop ons eenheid gebaseer is nie. Ons is nie een omdat ons almal heeltyd presies dieselfde dink nie. Ons eenheid lê in Christus, wat na ons wêreld toe gekom het om ons saam te bind in sy liggaam en deur sy bloed. Dis ‘n bo-natuurlike eenheid, omdat ons saamgebind word deur die één ding wat sterker is as ons eie opinies oor goed. Ons word saamgebind deur sy liefde en sy offer vir ons. Jy kan maar sê: omdat Kersfees ons saambind. Hierdie eensgesindheid beteken nie dat ons altyd saamstem nie – dit beteken dat sy Koninkryk bo alles ons topprioriteit is.

Ek weet nie of jy dit al agtergekom het nie, maar dis lankal tyd dat Jesus weer in ons wêreld kom. En jy is die een wat Hom daar moet indra. Daar is geen beter tyd daarvoor as Advent nie. Dis nou die tyd dat God regtig in jou gesin kom, in jou gesprekke hierdie feestyd om die braaivleisvure. En dis waar jy inkom. Wat dis bo alles tyd dat jy Jesus laat kom, Jesus begin sigbaar maak deur jou eie optrede. Maar daarvoor sal dit eers weer regtig ‘n slag Kersfees moet word in jou eie lewe. Jy sal opnuut weer jouself moet verloor daar langs die krip in Betlehem; sodat jy vir jouself ‘n klein bietjie minder belangrik kan raak. Sodat jy kan begin plek maak vir ander, en hulle kan begin aanvaar. Die wat met jou saamstem, natuurlik – dis immers maklik. Maar dis veral wanneer jy hulle verdra wat van jou verskil, wat dalk party keer soos sand tussen jou tande is, dis dán wat jy vir Jesus laat kom...

Dit een van die dae Kersfees. En ek gaan nie waag om jou ‘n white Christmas te belowe nie. Dit sal heel waarskynlik eerder ‘n vuurwarm Kaapse een wees. ‘n Helder Somer-Kersfees. Maar een ding kan ek jou wel waarborg. Ek kan jou ‘n lewensveranderende, diep geestelike ervaring van Kersfees waarborg – as jy Jesus wil toelaat om in hierdie Kerstyd deur jou te kom. Begin sommer in jou eie huis, in jou huwelik, jou gesin. In jou familie – ook met daardie wat elke Kersfees net wil dwarstrek en moeilikheid maak. En dan veral ook in die kerk. Want ons is mos ‘n familie. Ons het mekaar nodig. Ja, ons is anders – ons aanvaar mekaar onvoorwaardelik. En daarin lê ons getuienis...

AMEN