Matteus 8:1-4

Datum: 16 Julie 2017

Prediker: Jandré Viljoen

Fresco is 'n tegniek wat hul gebruik vir muurskilderye. Baie soos die skildery van Michaelangelo op die muur van die sistynse Kapel waar Adam en God poog om aan mekaar te raak.

Hoe fresco - die verf tegniek - werk is baie interessant. Nat kalkgips word as ‘n pleister op ‘n muur geplaas. Terwyl die kalkgips nog klam is aan die muur, verf die kunstenaar dan met waterverf op die kalkgips. Wat dan gebeur is ongelooflik. Die nat kalkgips en waterverf raak integraal deel van mekaar. ‘n Tipe simbiose vind plaas tussen die kalkgips en die waterverf.

Vanoggend se skrifgedeelte kom herinner ons dan juis hieraan. Wat Jesus aan hierdie melaatse man gedoen het, was meer as net genees. Jesus het homself kom inverf in die storie – pyn, hopeloosheid, nood – van hierdie melaatse man.

Die melaatse man was die nat brose kalkgips pleister en Jesus het homself kom inverf in hierdie melaatse man se storie. Dit is wat Jesus se wese so mooi maak. Hy kom skilder die mooiste prente oor die melaatse man se hopeloosheid.

Hoe het Jesus dit gedoen? Om iets hiervan te verstaan wil ek ons graag terug neem na die konteks van die Ou Testament, want daarin lê vir ons ‘n prentjie oor die konteks van die melaatse man.

Ons moet verstaan dat binne die Joodse kultuur was melaatsheid ‘n baie groot emosionele en fisiese ding. Levitikus 13 – 14: 57 help ons om iets daarvan te verstaan.

Melaatsheid

Die diagnose van melaatsheid was ‘n lang en duursame proses. Dit was baie vernederend en alleen. Hoe dit gewerk het was regtig tragies.

Indien jy vermoed het, dat jy melaatsheid het, het jy deur die volgende proses gegaan. Ons kan die proses in drie fases opdeel.

Fase 1 - Visuele ondersoek deur die priester – As jy opmerk dat jy die volgende simptome het - ‘n rash, brandwond, of ‘n vel irritasie – het jy na die priester toe gegaan vir ‘n ondersoek. As die priester dan opmerk dat jy die volgende simptome het, gee hy jou die nodige voorskrif – dit was nie terapeuties van aard nie, maar meer ‘n verklaring van onreinheid / sanitêre voorskrifte / kleding voorskrifte.

Fase 2 – Week in afsondering geplaas – Jy word letterlik vir ‘n week verwyder van die samelewing, jou familie, die tempel, van alles. Na afloop van die week word jy weer deur die priester ondersoek. Indien jy nie gesond word nie, word jy weer vir ‘n week (7 dae) in afsondering geplaas – totale isolasie. Na ‘n week kom jy terug, en dan stel die priester weer ondersoek in.

Fase 3 – Indien jou melaatsheid kronies is – Was dit net so goed soos ‘n doodstraf - fisies en emosioneel. Jy moes dan jou klere skeer, jou kop en mond bedek met geskeurde lap. Jy was verbied om enige kontak met die samelewing te hê, en was saam met ander melaatses in ‘n kamp geplaas. Indien jy in ‘n gesonde samelewing beweeg het, moes jy op ‘n hout blokkie kap en die heeltyd skreeu, “Onrein, Onrein, Onrein.” Die ergste van hierdie – jy was afgekap van enige geloofsgemeenskap. Jy was letterlik onrein verklaar voor God. Dit het dan beteken dat jy afgekap was van hoop en van God. Dit was net so goed jy sterf van fisiese pyn en emosionele pyn.

Met in agneming van hierdie konteks moet ons besef dat dit wat Jesus gedoen het, bloot merkwaardig was.

Binne die konteks van Matteus se narratief, kom Jesus en doen net mooi die teenoorgestelde van wat die norm was van die tyd. In plaas daarvan dat Jesus die man wegjaag, bring hy die man binne in die geloofsgemeenskap om deel te raak van die geloofsgemeenskap. Hy bring ‘n onrein man in die middel van ‘n rein gemeenskap in. Buiten dit, raak hy aan die man.

Ons moet verstaan dat rein en onrein ‘n groot ding was in die Joodse kultuur. So, in retrospek het Jesus kontak gemaak met ‘n onrein man. Daarom sou almal waarskynlik baie verbaas gewees het, met Jesus se reaksie. Dit maak wat Jesus gedoen het, soveel groter as wat ons kan begryp.

In werklikheid omvou Jesus die man se fisiese en emosionele pyn en maak dit sy eie - deur aan die man te raak. Jesus gaan teen die norm van die tyd. Jesus kom verf homself in die hopeloosheid van die man in. Daar vind ‘n stuk simbiose plaas tussen Jesus en die melaatse man.

Huidige konteks

Die verhaal klink vir my baie bekend. As ek deur die strate van Kuilsrivier ry sien ek dit. Hoor ek dit. Ek raak bewus van mense se gebroke stories. Mense wat ek en jy soms hanteer soos die melaatse man - as onrein.

Die realiteit is dat ons baie keer self sukkel en hopeloos voel en dan het ons net nie die krag vir ander mense nie. Ons is self weerloos, moeg en genadeloos. Baie soos die toeskouers om Jesus daardie dag. Baie soos Jesus se eie dissipels op daardie dag.

Hierdie verhaal leer opnuut vir ons dat ons moet juis rou wonde aanraak, sodat God se genesing dit verewig kan genees. Ons moet juis gebroke mense in nooi in die teenwoordigheid van God, omdat sy genesing vir almal is.

Oom Percy

Die verhaal laat my baie dink aan oom Percy. ‘n Oom in Wellington. Oom Percy was een van daardie mense. Hy was orig, het gestink, sy klere was geskeur, hy was onversorg, sy hande was vuil. ‘n Tipiese moderne melaatse.

Maar oom Percy het elke Sondag oggend en aand kerk toe gekom. Hy het so ‘n behoefte gehad om net iewers te behoort. Oom Percy het wel al die koekies geëet by ons Sondae aande dienste, maar ek wil glo dit is baie keer al wat hy kon eet.

Hy het so ‘n behoefte gehad om net oor sy duiwe te praat. Ek kon onthou hoe sy oë opgehelder het as jy oor sy duiwe begin praat. Oom Percy wil net gehad het iemand moet hom aanraak soos Jesus die Melaatse aangeraak het.

Maar mense het gelag vir oom Percy. Het nie langs hom gesit in die kerk nie. Wou hom nie groet nie, want oom Percy se hande was vuil – onrein. Het jy al so gevoel?

Verf jouself in…

Hierdie verhaal vra van ons om mense in te nooi. Om mense deel te maak. Hoe doen ons dit, eenvoudig, stel belang. Vra uit. Wys dat jy omgee.

Want hoe meer ons omgee, hoe meer laat ons Jesus toe om homself in mense se stories in te verf. Dit is dan presies wat geloof is. Geloof is ‘n geskenk wat God aan ons gee. Dit is ‘n werkwoord wat betekenis gee aan hopeloosheid.

Deur ons handeling van liefhê, omgee, belangstel, gee ons Jesus die kans om homself in mense se stories in te verf. Ons moet dalk net meer mense innooi. Ons hoef nie altyd geld te gee nie. Menswaardigheid moet ons wel gee.

Wat hierdie narratief vir ons los is die uitdaging. As jy nie bereid is om te luister nie, moet eerder nie geld gee nie. As jy nie kan vra hoe dit gaan nie, moet eerder nie geld gee nie. Een “hallo hoe gaan dit?,” is ‘n geleentheid vir Jesus om sy werk te doen. Ons hoef nie vir hom te besluit wie hy moet aanraak of verander nie. Ons moet dit net leef.

Ten slotte

Vanoggend se votum teks, Psalm 145: 18 – 21 som die essensie van hierdie narratief op.

18 Die Here is naby almal wat Hom aanroep,
almal wat Hom in opregtheid aanroep.
19 Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.
20 Die Here beskerm almal wat Hom lief het,
maar al die goddeloses verdelg Hy.
21 Ek sal die lof van die Here verkondig.
Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.

Die Here het ons die vermoë gegee om dit te doen. Die Here het ons die vermoë gegee om te dien. Die Here het ons die vermoë gegee om na hulp krete te luister. Die Here het ons die vermoë gegee om sy lof te verkondig. Hoe doen ons dit? Ons verkondig Jesus se lof deur die manier hoe ons ander lief het. Dit is so eenvoudig.