Matteus 23:1-12
Datum: 5 November 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Wie sê die mense, is Ek? het Jesus hulle gevra.
In Matteus 16 lees ons hoe Jesus by geleentheid die dissipels vierkantig in die oë gekyk het en vir hulle gevra het: Wie sê die mense, is Ek? Dit was natuurlik ‘n baie slim manier van Jesus om die saak aan te voer, want hierdie vraag wat Jesus vir hulle gevra het, is mos totaal onbedreigend. Eintlik kan daar mos geen verkeerde antwoord op hierdie vraag wees nie. Jy kan maar ontspan, jou gedagtes bietjie laat gaan en al die opinies van mense wat jy al gehoor het, aanhaal. Dit is alles baie veilig. Ek moet sê, dit laat my terugdink aan al die kere in my bediening wat ek al iemand hoor sê het „die mense sê“. Dit sê mos eintlik heeltemal niks nie, en jy kan jou ook niks daaraan steur nie. Dis net anoniem en veilig. En natuurlik weet Jesus daar is baie antwoorde moontlik op hierdie vraag – en al die antwoorde sou irrelevant en korrek wees. Daar is die mense wat gemeen het Jesus is eintlik Moses wat uit die dood opgestaan het. Ander dink weer U is Elia, wat weer verskyn het soos voorspel is vir die koms van die Messias. Of dalk een van die profete...
Maar na al hierdie ydele spekulasie het Jesus na hulle toe gedraai en kom Hy met die eintlike vraag: Wie sê julle, is Ek...? En skielik verander alles. Want hierdie vraag laat nie toe dat jy agter enigiemand wegkruip nie. Hierdie vraag kom staan voor jou, en jy kan dit nie systap nie. Wie sê jy, is Jesus? Hierdie vraag bepaal jou totale lewe, want dit bepaal ten diepste: Wie is jy...?
Ons weet nou al teen hierdie tyd dat Petrus nou nie juis ‘n ou vir ongemaklike stiltes was nie. Ook nie hierdie slag nie. Voor enigiemand anders ‘n antwoord reg gehad het, het Petrus al geantwoord: „U is die Christus, die Seun van die lewende God...“ waarop Jesus toe vir hom sê: Jy is bevoorreg, Petrus. Want daardie antwoord het niemand uit homself nie. Dis net die Helige Gees wat dit vir jou gegee het om te kan glo en om dit te kan bely.
Dis al hoe ‘n mens kan bely dat Jesus die Here is, en hierdie is die belydenis waarop die kerk deur al die eeue staan of val... Dis die rots waarop die kerk gebou is en waarop die kerk vandag nog staan: Jesus is die Here. Dis die kern van ons godsdiens. Enigiets anders is eintlik net ‘n verduideliking of ‘n uitbreiding hierop. Enigiets anders is ondergeskik hieraan, ongeag wat die mense sê of ongeag wat ons eie voorkeur sou wees. „Jesus is die Here“ is die belydenis wat die deurslag gee in elke enkele situasie in die kerk. Dis waarby ons te alle tye staan of val. Dit gaan oor Jesus. En hierdie belydenis is die rots waarop ons gebou is.
- Dis gevaarlik om godsdiens verkeerd te verstaan:
Want ongelukkig, vriende, is dit ook moontlik om godsdiens heeltemal verkeerd te verstaan. Hiervan is die Fariseërs in Matteus 23 ‘n uitstekende voorbeeld. Maar miskien moet jy net eers my mooi verstaan: die Fariseërs was ook nie net sleg nie. Hulle was nie ‘n klomp bose demone nie – hulle het baie ernstig gevoel oor godsdiens. Kyk net met hoeveel toewyding probeer hulle God dien. Hulle wou seker maak dat elke deeltjie van die lewe onder sy heerskappy is, en daarop het hulle die Ou Testament uitgelê in duisende reëltjies. Daar was letterlik ‘n reël vir elke oomblik van jou dag, maak nie saak waarmee jy besig is nie. Natuurlik het dit ‘n ondraaglike las geraak. Niemand kon dit eers meer almal onthou nie, wat nog te sê van nakom. Dit het ook maar min verband getoon met die boodskap van die Bybel. Maar vir hulle was dit eindeloos belangrik. So toegewyd was hulle, dat hulle steeds net nog meer reëltjies uitgedink het, en van mense geeïs het.
Die probleem is natuurlik dat hulle dit self ook nie gedoen het nie. Jy kan sê, hulle maak nie soos hulle leer nie. Hulle stel die dwarslat vir gelowiges net al hoër en hoër, maar self wend hulle geen poging aan om daaroor te seil nie. Eintlik maak hulle net van Godsdiens ‘n ondraaglike las. Hulle verstaan godsdiens heeltemal verkeerd: Hulle verstaan nie van oorgawe aan die Here nie, van totale afhanklikheid van sy genade, en van lewe in sy liefde nie. Hulle verstaan nie dat ware godsdiens is om beheer van jou lewe af te staan aan die Here, en Hom toe te laat om jou te herskep om te wees soos Hy wil hê jy moet wees nie. Maar dalk is dit juis hulle grootste probleem: self sien hulle nie kans om te verander nie.
Verlede week was dit Hervormingsondag, en Chris het baie mooi vir ons verduidelik wat die implikasies van die verskillende slagspreuke van die Hervorming is. Maar dalk is die heel belangrikste ding wat ons uit die Hervorming leer: dat dit gaan oor 'n verhouding, nie oor reëls nie! Godsdiens gaan daaroor dat jy in ‘n lewende verhouding met die Here lewe elke dag. Solank jy jou blind staar teen reëls, teen moets en moenies, mis jy nog heeltemal die punt. Dan is jy nog op heeltemal die verkeerde pad. Dis eers wat jy leer om te lewe as kind van die Here, naby Hom en afhanklik van Hom, wat jy leer wat godsdiens is, en wat jy die ware vrede en blydskap ontdek wat die Here vir sy kinders gee.
- Hulle ontbreek ook aan beskeidenheid en nederigheid:
Nou hoekom dink jy, het die Fariseërs eerder hulle toevlug tot reëls geneem, al was dit nooit wat die Here van ons gevra het nie? Laat Jesus self vir ons die antwoord gee: Dis omdat dit ten diepste vir hulle net oor hulleself gegaan het: hulle het gehou van die aandag wat hulle op hulleself gevestig het, dat mense vertel het hoe wonderlik toegewyd hulle is, en hulle behandel asof hulle regtig iets baie besonders is. Selfs waar hulle nog God se bevele gehooorsaam het, het hulle dit misbruik om aandag te trek. Die gebedsrieme, en die tossels aan hulle klere wat hulle aan God moes herinner, het hulle eerder gebruik om aandag te trek.
Dis ook hoekom hulle so gesteld was op ereplekke en eretitels. Almal moes weet hoe belangrik hulle was. En dit druis in teen die ander groot les wat die Hervorming ons geleer het. Chris het verlede week die slagspreuk aangehaal wat sê: Soli Deo Gloria! Alleen aan God die eer. Nie aan my nie. Ek is ‘n dienaar. Ek is ‘n kindjie in sy teenwoordigheid, gering voor ander. Net aan God behoort al die eer!
- Hoe behoort ons dan te lyk?
„Die grootste onder julle moet bereid wees om almal te dien“, sê Jesus. Julle My navolg, en soos Ek, moet julle anders wees. Moenie wegkruip agter reëls nie. Ons godsdiens is nie ‘n wettiese godsdiens nie – ons staan in ‘n verhouding met die lewende God, ons Vader. Ons is nie sy kinders omdat ons legio reëls gehoorsaam nie. Ons is sy kinders omdat Hy ons dit gemaak het, en ons lyk soos Jesus. Daarom dien ons soos broers mekaar in nederigheid. Soos Jesus ons geleer het, en soos Jesus ons gedien het.
En na dit alles staan ons ook vanoggend in die kring wanneer Jesus vra: Wie sê die ander mense, wie is Ek? Wel, jy kan aanhaal wat jy die dominee hoor sê het, of die blokleier. Jy kan aanhaal wat jou kollegas by die werk sê of jou pelle Saterdagaand. Jy kan selfs aanhaal wat jou ouers jou geleer het, of die Kinderkranstannie. Alles relevante antwoorde.
Maar dan kom die eintlike vraag: Wie sê jy, is Ek? Wat bely jy – maar veral ook, wat is die belydenis wat elke dag uit jou optrede blyk? Vergeet van reëls en wette. Jy is nie ‘n Fariseër of ‘n Jehowa-getuie nie. Lewe jy naby aan Jesus, en lyk jy soos Hy? Dit is die vraag...
AMEN