1 Samuel 17:31-46
Datum: 11 Junie 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
- Inleiding. Wat kan ons uit hierdie boeiende eeue oue verhaal leer? Hoe beïnvloed dit ons lewens vandag en wat is die tydlose lesse wat ons uit hierdie wonderlike verhaal kan leer? Daar is een belangrike waarheid wat ons vanoggend van kennis moet neem: Een of ander tyd sal elkeen van ons 'n reus moet trotseer! En daardie reus kan in verskillende vorms voor jou kom staan. Hoe het Dawid die situasie benader? Wat kan ons by Dawid leer?
- Wees jouself. Wanneer jy 'n reus moet trotseer, wanneer jy 'n slegte dag moet trotseer, wees jouself! In vers 39 lees ons dat Dawid nie Saul se wapenrusting kon dra nie. Weet jy hoekom nie? Want hy was nie Saul nie! Hy was Dawid! Saul se wapenrusting sou nie vir hom werk nie. Dit het nie gepas nie. Toe hy dit aantrek, het dit ongemaklik gevoel en hy het belaglik daarin gelyk. Dawid moes homself wees! Hy moes dit op sy manier doen! En dit is vanoggend ons eerste les wat ons leer. Wees eg. Wees outentiek. Wees opreg. Wees jouself.
- Tweedens. Kry jou krag by God. Wanneer jy 'n reus moet trotseer is daar net een bron vanwaar jy jou krag kan kry. Luister gou na die volgende verse. 45Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan. Dawid het sy vasberadenheid, sy krag en sy vertroue geput uit die absolute sekerheid dat God in sy lewe teenwoordig was. Wanneer jy 'n reus in die gesig moet staar... eerstens... Wees jouself..., tweedens... Kry jou krag van God af. By God is daar nie beurtkrag nie.
- Derdens....Vertrou op God om jou deur te sien. Sy naam is Wessel, my goeie vriend en oud Lugmag-kollega. Wessel baklei tans teen die grootste, die mees vreesaanjaende reus wat hy nog ooit gekonfronteer het. Sy Goliat is longkanker. "Hoe gaan dit?", het ek die afgelope Maandag vir hom gevra toe ek en Carina saam met hom en sy vrou ontbyt gaan eet het. "Dit is moeilik," het hy gesê, "regtig moeilik, ... maar ek is hoopvol, ek is optimisties ... Ek weet nie presies hoe dit alles sal uitdraai nie, maar een ding wat ek weet is dat God deur Jesus en die Heilige Gees by my is … en Hy sal my deursien!”
- Slot. Soos Dawid … wanneer ons 'n slegte dag moet trotseer …moet ons die volgende onthou:
- Ons kan onsself wees,
- Ons kan krag by God put,
- En ons kan God vertrou om ons deur te sien.