Jesaja 52:7-12; Luk. 2:8-14

Datum: 25 Desember 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

As jy een dag in die jaar moet uitsonder, gaan ek raai dat dit gaan heel waarskynlik Kersdag wees. Kersdag is selfs lekkerder as ons verjaardag! Dis wonderlik om weer die ou verhaal te hoor, die ou liedere te sing, en te hoor hoe die engel ons kom verseker van die vrede van God wat hierdie kindjie bring vir die mense in wie God ‘n welbehae het. Wat kan wonderliker wees as dit?

 

En tog is vanjaar bietjie anders. Dis of ons byna nie die vrymoedigheid het om vanjaar Kersfees te vier nie. Want hoe praat jy oor vrede op aarde, en juig saam oor die engelelied, oor die Vredevors wat gebore is - ‘n babatjie in ‘n stal in Betlehem – dit terwyl ons weet dat Oekraïne verwoes lê? Terwyl ons daagliks stories van geweld en onreg hoor, van oor die hele wêreld? Hoe sing jy in die donker van vrede op aarde terwyl beurtkrag ons ekonomie en ons mense ontwrig? Hoe kry jy dit reg om vanjaar stil te raak langs die krip, om jou te verwonder aan wat ons gesang noem ons grootste kersgeskenk?

 

Hoe vier jy Kersfees terwyl jy net mooi niks sien van hierdie vrede waarvan die engele sing, van God wat in mense ‘n welbehae het nie? Dalk sou dit nog gehelp het as ons kerkmense lewende vertoonvensters van hierdie vrede op aarde was. Maar dis ongelukkig nie waar nie. Ons is ook maar pal in mekaar se hare, en oorhoops met mekaar – kyk maar hoe moet die moderamen kort-kort weer vure doodslaan. En nou is dit Kersfees. En ons lees vanoggend weer van vrede op aarde. En dan moet jy nog preek daaroor ook...

 

  1. Die mense aan wie Jesaja skrywe

Dis natuurlik nie ‘n nuwe probleem nie. Jy lees baie kere daarvan in die Bybel ook - hoe God se mense half verleë staan oor dit wat om hulle gebeur. Soos die Jode hier in Jesaja 52. Onthou, alles waarin hierdie klompie Jode vas geglo het, het ineengestort. Die Stad van Dawid was veronderstel om oninneembaar te wees. Die tempel op die berg Sion was veronderstel om vir ewig God se plek te wees, onaantasbaar vir enige bedreiging. En natuurlik was God se mense veronderstel om self veilig te wees. Hulle is dan God se volk! En nou? Nou lê alles verwoes en verlate. Daar is niks oor van die stad met sy indrukwekkende mure nie, en daar is niks ook van Salomo se asembenemende tempel wat aan die Here gewy was nie.

Hulle moes staan en kyk hoe stort alles waarin hulle geglo het, ineen. En elke liewe dag daarna moes hulle hoor hoe ongelowige heidene die Here uitlag en belaster.

 

Geen wonder hulle sit vol vrae nie. Wat het dan nou hier skeefgeloop? En veral die groot vraag: wat het van God geword? Hulle is totaal oorweldig deur die omstandighede om hulle. Hulle kan op geen manier daar verbykyk nie. Hulle verstaan net mooi niks daarvan nie... En dan stuur God sy profeet na hulle toe.

 

  1. ‘n Boodskap vir die ballinge

Luister! Spits julle ore! sê die Here vir hulle. Luister baie fyn - jy kan al die voetstappe op die berge hoor. Die voetstappe van een wat jou kom verseker dat God jou nie vergeet het nie, wat vir jou die goeie nuus bring dat God steeds in beheer is, dat Hy ‘n plan het. Luister mooi as God jou kom vertel dat sy vrede aan die deurbreek is soos die son na ‘n donderbui; dat daar ‘n nuwe dag wag vir God se mense. Luister mooi as die stem vir jou kom sê dat hierdie gebrokenheid om ons nie die laaste woord sal hê in ons wêreld nie. Die puinhope wat eens Jerusalem was, en die bouvalle van die Oekraïne, en die donkerte wat ons letterlik en figuurlik wurg in Suid-Afrika, sal nie die laaste woord hê nie.

 

Want daar was ‘n nag – ‘n nag toe die engele op die velde buite Jerusalem gesing het. Daar was ‘n engel wat kom vertel het van vrede op aarde, omdat God in mense ‘n welbehae het, en van ‘n Kersgeskenk in die krip wat ons vir ewig vry kom maak. “Hoe lieflik op die berge is die voete van ‘n boodskapper van vrede, een wat vrede verkondig, wat ’n goeie boodskap bring, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!””

 

  1. Dit help ons vorentoe kyk

Jesaja val byna oor sy woorde om vir sy beleërde mense hierdie wonderlike nuus te bring. Om vir hulle te kom herinner: Julle God is steeds Koning! Hou op oor julle skouers terugkyk na die verwoesting wat agter lê, die straf wat julle oor julleself gehaal het met julle ontrou aan God. Kom los uit die draaikolk van eindelose vrae waarop daar geen antwoorde is nie. Tel julle koppe op, en begin vorentoe kyk...

 

En dis waarin die wonder van Kersfees lê. Hierdie babatjie in die krip kom jou ook vandag in 2022 oproep. Kom sing vandag saam, kom breek uit in ‘n gejubel, ten spyte van al die onsekerhede waarin ons lewe, ten spyte van ‘n slegte jaar wat jy dalk agter die rug het, ten spyte van donker wolke wat maak dat jy maar bra sukkel om opgewonde te raak oor 2023. Wéét dat ons God Koning is! Weet dat hierdie babatjie in die krip die sleutel is waarmee God die toekoms vir my en jou kom oopsluit. Waarmee God sy mense los kom koop het...

Dalk sukkel jy vanoggend om dit te sien. Dalk is daar net te veel ander spookbeelde wat voor jou kom staan en maak dat jy sukkel om oor die krip se rand te loer. Maar geloof is om die onsienlike raak te sien. Geloof is om met die genade van God verder te kyk as die onmiddellike, om bo-oor jou omstandighede te kan kyk. Geloof sê soos Job, al sit hy op daardie stadium nog op die ashoop: “Ek weet dat my Losser lewe...” Dis wat geloof doen.

 

En natuurlik is hierdie geloof ‘n gawe van God. Dis nie iets wat ons nie sommer uit onsself het nie. God gee dit vir ons. Maar aan die ander kant, vra dit van jou ook ook ‘n bewuste besluit. Om terwyl jy oor die krip loer, in verwondering net te prewel: “Here, ek glo! Maar help my! Kom tog my ongeloof te hulp.” Geloof is om bewustelik te kies om te glo – en weet jy, dis al wat God van ons vra. En dan neem die Gees oor. En maak die Gees jou geloofoë en jou geloofsore oop, sodat jy die voetstappe op die berge kan hoor, en saam kan jubel oor die boodskap van vrede, oor die Een wat die goeie boodskap bring, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

 

En dan is hierdie wonderlik gewyde oomblik verby. En sluit Jesaja sy boodskap aan God af met ‘n interessante waarskuwing. Wat nou? Moet nou net nie op hol raak nie, waarsku hy. Moenie nou sommer oppak en net begin trek terug Jerusalem toe nie. Dit sou rampspoedig wees. Nee, wag net eers. En luister. Wag dat die Here vir jou wys wat sy wil is, wat reg is en wanneer die regte tyd reg is. Want dis wat hierdie goeie nuus doen. Dit sit jou nie dadelik self ook aan die hol die berge uit nie. Nee, dit bring jou op jou knieë. Dis die regte reaksie op Kersdag. Om hier langs die krip stil te word. Die krip is ‘n plek van toewyding, ‘n plek van buig voor die volmaakte wil van God, van soek na die stem van die Here.

 

Ek staan elke jaar verstom oor die karikatuur wat ons van Kersfees gemaak het.  Op die een of ander manier het ons mensdom die stille, heilige oomblik van die Kersnag die mees chaotiese tyd van die jaar gemaak. Dalk is dit ook hoe jy die afgelope laaste paar weke ervaar het. Maar dis nog nie te laat nie. Moenie dat dit jou verder meesleur nie. Maak seker dat jy iewers vandag net stil word. En die pragtige geluid van die voetstappe op die berge hoor. Die voetstappe wat jou kom verseker: Jou God is Koning! Ook in 2023...

 

Die wêreld is nog altyd ‘n deurmekaar plek. Maar niks kan Kersfees weer van ons wegvat nie. God het aan jou ‘n welbehae. En Hy wil aan jou ‘n geseënde Kersfees gee. Vrede op aarde. Ontvang dit net...

AMEN