1 Samuel 17:(1a, 4-11, 19-23) 32-49
Datum: 20 Junie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Die tema vanoggend is:Jy hoef jouself nie teen die oënskynlike GOLIAT blind te staar nie. En die verhaal van Dawid en Goliat kan ons vanoggend baie hiermee help. Ek gaan drie punte aanspreek wat jy gerus kan gaan toepas in jou persoonlike lewe en liewe ouers, leer dit asseblief vir julle kinders. Op hierdie vadersdag bid ek dat elke vader in hierdie land, by sy kinders die volgende drie punte sal indril en dat julle as vaders voor stap en dit aan ons kinders modelleer. Hulle verdien dit!
- DAWID WAS VOORBEREID
Alhoewel Dawid geweet het waar sy hulp vandaan kom en dat hy behendig was met sy slingervel, tel hy vyf klippies op. Vanoggend moet ons dit onthou, nie sodat ons hieroor kan spekuleer en allegoriseer nie, maar omdat Dawid voorsiening wou maak vir ingeval hy misgooi. As hy die eerste maal sou misgooi – wat onwaarskynlik was – sou hy nog vier kanse gehad het. Daar is nie ’n plaasvervanger vir goeie beplanning nie. Maar ons lees ook dat Dawid al leeus en bere doodgeslaan wat lammers gevang het.
Ons weet dat Dawid Jahwe vertrou het, maar ook op sy vaardigheid en vernuf staatgemaak het.
Oor watter vernuf beskik jy? Watter vaardighede het jy? Hoe begelei ons ons kinders om hulle vaardighede te ontwikkel. Praat ons met ons kinders oor hulle vaardighede en dat ons elke dag daaraan moet werk sodat ons elke dag vlymskerp kan wees. In my tyd as soldaat het ons altyd die volgende gesê: Poor Planning, Poor Performance.
Daardie pyle in jou koker kom handig te pas wanneer daar moeilikheid is, veral wanneer dit voel asof ons moedeloos raak. God is ín en déúr ons besig. Ook ons kan God vertrou. Ons kan daarom ook staatmaak op ons vaardighede en vernuf. Ons kan weet dat God beter uitkomste bewerk – of vind! – al het ons nie in onsself of in ons omstandighede sekerheid en hoop nie.
- DAWID WAS HOMSELF GEWEES
Terwyl Saul besig was om aan Dawid gevegsuitrusting uit te reik, besef Dawid dat hy nie daarin gemaklik is nie. Dawid besef onmiddellik dat, as hy die geveg wil wen, hy gemaklik in homself moet wees. Dawid besef dat hy op sy eie instinkte moet vertrou en dat hy nie alleen is nie. God het jou jy gemaak. Dit is presies wie jy lewenslank moet wees. Vind jou vrede en jou vreugde in die Here. Vind jou waarde heel eerste in wie jy is voor God. Weet dat die Here tevrede is wanneer jy stylvol jouself is in sy teenwoordigheid, en ook tussen ander mense. Wees vir ‘n slag jouself.
- DIE HERE WAS IN DAWID SE LEWE SIGBAAR
Dawid het die Here se hand in sy verlede raakgesien en benader die geveg met “… ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel” (v 45). Dawid het geglo dat die Here Goliat (en die Filistyne) in sy mag sou oorgee én dat dit sou wees “sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het” (v 46). Dit is wat ons aan ons kinders moet modelleer. Dit is wat jy onbeskaamd moet uitleef. “Ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige....
SLOT
Ek wil saamvat met die volgende gedagte. Een van ons grootste uitdagings in die lewe is om verby moedverloor te kom. Die Filistynse bedreiging was vir die Israeliete oënskynlik té groot om te oorkom. Die grootte van die oormag deur die groot gestalte van die reus Goliat word groter gemaak as wat dit regtig is.
Op die oog af, is Dawid ’n liggewig. Hy is jonk en nie ’n soldaat nie. Hy kan nie eens met ’n soldaat se wapenrusting aan, gestap kry nie, hoe gaan hy kan veg? Vir die destydse Israeliete het die vooruitsig op ’n toekoms onmoontlik gelyk.
Vir baie van ons is die lewe en toekoms ook uitsigloos. Dit kan ons so maklik moedeloos maak. Dalk moet ons eerder verby die oënskynlike kyk. Ja, die reis na buite is belangrik, maar net so ook die reis na binne. Wanneer jy weer ’n Goliat trotseer wil ek vra dat jy na binne begin kyk en daardie drie punte sal onthou, wees voorbereid, wees jouself en weet dat die Here by jou is en dan....dan tackle ons die probleem en sê: “… ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel” (v 45).
AMEN