EFESIËRS 2:1-10
Datum: 14 Maart 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
- Inleiding. Wie van ons waardeer nie van tyd tot tyd ’n kompliment nie? ’n Eerlike, goed bedoelde kompliment is regtig suurstof vir ons menswees. Elkeen van ons het soms “tel-my-op – tyd” nodig. Vanoggend is so ’n tel-my-op-geleentheid.
Want die afgelope jaar het ons menswees nie goed gedoen nie. Daar was ’n eerste vlaag, volgepak met onsekerheid omrede niemand regtig geweet het wat vir ons voorlê nie. Vroeg in Desember het die tweede vlaag ons getref. ’n Vlaag waartydens getalle name gekry het. Name naby aan ons. Natuurlik het dit aan ons harte geruk! En of ons dit wil erken of nie wil erken nie, mens se selfbeeld het skade gekry. Die selfversekerde ek moes plek maak vir iemand wat heeltyd moes koes en keer tussen al die COVID – kartetse wat heeltyd rondom ons ontplof. Siekte, dood, werksverlies, emosionele pyn, ondraaglike isolasie. Noem maar op. Vir baie van ons is die letsels, die merke op ons menswees regtig groot en soms onhanteerbaar. Ja, juis in hierdie tye waarin ons tans leef het elkeen van ons “tel-my-op “-tyd nodig.
- Die grootste kompliment. En vanoggend kom Paulus in vers 10 en hy tel ons op: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Dink hieroor na – ons is God se handewerk – Ons is God se meesterstuk. Paulus probeer nie sê dat ons perfek is nie. Hy probeer nie sê dat ons beter is as ander mense nie. Om die waarheid te sê begin Paulus hierdie skrifgedeelte deur te beskryf watter uitvaagsels ons was. Paulus skryf, “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes.” Maar dan skryf Paulus die woorde wat my hart laat bokspring: “5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!
Ons is God se handewerk as gevolg van wat God deur Jesus vir ons gedoen het. Dit is waarin ons identiteit vasgegom behoort te wees. Dit is wie ons veronderstel is om te wees.
Maar hoe sien jy jouself? Sien jy jouself deur die oë van die wêreld? Luister jy na die stemme wat daar buite baie oor jou te sê het? Laat jy toe dat mense jou in ’n boks plaas en jou her-definieer vir wie jy nie werklik is nie?
Vanoggend praat hierdie teks met my. In die afgelope tyd het ek baie begin twyfel in myself. Daar is soveel uitdagings in hierdie Covid-tyd. Ek moes stilstaan en selfliefde definieer, is ek nog iets werd, hoe lyk my selfbeeld, wie is ek? Want kom ons wees eerlik met mekaar. Ons het die afgelope tyd baie duike op ons bakwerke bygekry. Die merke sit daar en ons het begin twyfel in onsself.
Die tyd het aangebreek dat ons doof word vir die opmerkings wat die wêreld oor ons maak. As ’n Christen het ek vertroue nodig in wat God sê wie ek regtig is. Nie selfvertroue nie, maar Goddelike vertroue. Nie vertroue in wat mense sê en dink wie ek is nie. Goddelike vertroue.
Vanoggend hoor ons dat elkeen van ons spesiaal gemaak is in die hemelse fabriek. Ons is handgemaak deur God. God se meesterstuk! En as dit jou nie in nederigheid laat goed en dankbaar voel nie, sal niks op aarde jou kan laat dankbaar voel nie.
Daarom moet ons vanoggend vir mekaar afvra. Wat definieer jou? Daarom....
- ......is dit nooit te laat om op ’n ander manier oor jouself te begin dink nie. Ek weet wat sommige van julle dink. Julle dink, “Chris, jy ken my nie so goed nie. Ek is niks werd nie. En dit is te laat om te verander. Jy ken nie my seer nie. Jy weet nie hoe diep en seer COVID sy tande in my ingeslaan het nie. Jy weet nie van alles wat ek verloor het nie. Jy weet nie....
Jy weet nie wat ek heeltyd moet aanhoor nie. Ek is ’n “has been”. Afgeskryf. Verwerp. Daar is geen hoop vir my nie.
Maar daar is hoop. Motiveringsprekers sê altyd dat jy êrens ’n foto van jou groot droom in jou huis moet opplak. Teen jou yskas of teen jou spieël in die badkamer. Kan ek vanoggend ’n ander foto voorstel? ’n Foto van ’n skaapwagter met ’n lammetjie in Sy arms. En daardie lammetjie is jy. Sien in jou gedagtes nog ’n foto van Jesus wat met oop arms en ’n glimlag op Sy gesig vir jou wag. Hy wil jou vashou en jou laat voel hoe kosbaar jy is. Dit is nooit te laat nie om deur die Here se genade anders te begin dink oor jouself nie. Ek en jy is na God se beeld geskape. Na God se beeld en nie selfbeeld nie. Ons is God se kinders.
Paulus skryf : “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Kan jy jouself indink wat Paulus oor jou lewe sê” Dit maak nie saak wat jy al in die lewe aangevang het nie. Dit maak nie saak dat jy drooggemaak het in die lewe nie. Dit maak geensins saak van waar jy kom en wat ook al met jou in die verlede gebeur het nie. Jy is God se meesterstuk! Met Sy hulp kan ons ons morsige lewens in meesterstukke omskep.
- Wanneer jy anders oor jouself begin dink, begin jy anders leef!
Hierdie anders leef beteken nie dat ek van die wêreld onttrek of met die werklikheid breek nie. Dit is ’n oorgang van die selfsugtige eie-ek motiewe tot ’n saamwees met Christus. Dit is ’n oorgang van oorheersing deur die duiwel tot ’n lewe wat begin tot einde deur God beheer word. Dit is ’n oorgang daarvan wat die mens van nature is tot wat dit deur genade word. Dis die oorgang waar die fokus vanaf aanspreeklikheid onder God se oordeel verskuif na die ervaring van God se barmhartigheid, liefde en eindelose genade.
En my nuwe lewe begin wanneer ek verstaan dat ek handgemaak is deur God. Ek is Sy meesterstuk – en dat Hy ’n plan het vir my lewe. Dan is ons op die pad waarop ons ons lewe wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Selfs in hierdie isolasietye waarin ons onsself bevind
AMEN