LUKAS 2:1-7
Datum: 25 Desember 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Hierdie is gewoonlik die tyd wanneer ons, ons koppe leegmaak sodat dit volgemaak kan word met inspirasie en lekker dinge sodat ons die nuwe jaar met entoesiasme en dinamika kan stormloop. En nou kan baie van ons nie die seehuisies en kampplekke besoek nie. Ons Prez het strande gesluit as gevolg van die tweede golf Covid-19 se breekbranders wat almal van ons onverhoeds vang. Moenie toelaat dat hierdie Corona-brander wat oor ons breek ons voete onder ons uitslaan en ons van stryk af bring nie. Kom ons staan sterk, vat hande, geanker in God se beloftes en Sy Woord terwyl hierdie fratsbrander oor ons spoel.
Tog het daar in hierdie dae ‘n vraag by my bly vassteek. ‘n Vraag wat heeltyd vastrapplek wou kry was die een oor die sin van die lewe. Wat het vir my sin gemaak oor die afgelope jare in my lewe? Ek kom agter dat die lewe na 60 my baie laat terugdink aan die dinge wat vir my kosbaar is. Daar is baie van hulle. Kosbare dinge wat my laat asemhaal sodat ek kan vorentoe beur deur al die dinge wat my wil aftrek tot op hulle vlak.
My kinders se geboortes was hoogtepunte. Die voorbereiding van die babakamers. Daardie eerste sonars. Daardie toesien dat my vrou haar nie ooreis nie. Dat Carina gemaklik moet wees ter wille van haarself en die baba.
En dit het my laat dink aan Josef en Maria. Uitgeput, moeg en ongemaklik moes sy wees na die lang reis tussen Nasaret en Betlehem. En moedeloos. Want nou lyk dit asof daar vanaand nêrens plek vir hulle in die dorpie is nie en sy kan voel dat die geboorte naby is.
Na ure se rondvra, ontferm iemand hom tog oor die man en vrou wat so gedaan lyk. Hulle kan die nag in sy stal slaap, sê hy. Maria se aanvoeling was reg. Daardie nag word die Kind gebore en sien sy met teerheid hoe Josef Hom in doeke toedraai en in die voerbak neerlê.
“Here, is dit regtig u Seun wat hier tussen mens en dier op die strooi lê en slaap?
Kon U nie maar gesorg het vir ‘n beter plek vir u Kind nie? Moet Hy, wat die heel belangrikste is, sy eerste nag in ‘n stal deurbring?” vra sy eerlik aan God voordat sy van moegheid aan die slaap raak.
As Josef vandag voor jou deur moes staan en vra of jy dalk plek het waar die Seun van God gebore kan word, sou jy sekerlik die beste kamer vir Hom gereed wou maak en jou heel mooiste vir Hom wou gee.
Die wonderlike is, ons kan steeds. Ons kan elke dag die mooiste van ons harte regmaak vir ons Here. Ons kan die beste deel van ons tyd, geld en aandag aan Hom gee; Hom die prioriteit in ons lewens maak; Hom met ons gawes en talente dien en met ons lewens vereer ...
of ... ons kan die minder goeie dele van ons hart vir Hom aanbied.
En hierdie keuse maak ons elke dag. Wanneer ons dagtaak, verpligtinge en mense al ons “goeie tyd” opslurp en ons net so nou en dan ’n paar vinnige woorde met Hom wissel, gee ons stal-tyd aan die Here. En as ons net ons laaste paar sente vir Hom gee, sê ons vir Hom dat daar nie plek vir Hom in die gastekamer van ons hart is nie ...
Wanneer Christus egter die beste deel van ons lewens kry, is dit nie Hý wat verander nie.
Maar óns. Ons dink, doen en praat ánders omdat sy VREDE elke aspek van ons lewens betrek:
V: Ons leef dan rustig in dié wete dat ons verloste mense is wat nie met gedurige skuldgevoelens hoef rond te loop nie.
R: Ons ervaar dan, ondanks ons omstandighede, ’n stuk rus in dié wete dat die Kripkind nou by die Vader is waar Hy elke dag vir ons intree en vir ons bid.
E: Ons kry dit reg om ons eie “Ek” te vervang met God se wil omdat ons weet dat ons slegs hemelse vrede kan kry wanneer Hy deur ons leef.
D: Ons beleef ’n oorstelpte gevoel van dankbaarheid omdat Hy ons help om tevrede te wees met wat ons het ... met wat ons ís.
E: Ons leef elke dag voluit, maar met verwagting. Ons weet immers dat ons ’n ewigheid saam met ons liefdevolle Here gaan deurbring.
Mag jy op hierdie Kersdag, Christus opnuut innooi in die beste deel van jou hart, die mooiste van jou lewe vir Hom gee en sy liefde ruimskoots uitdeel.
Ons “Drop en Go” wat deur Piet Rootman en Cedric hanteer word is ‘n bediening waar liefde ruimskoots as kersgeskenke uitgedeel word. En julle wat Dinsdae kos by die kerkgebou aflaai is deel van hierdie span wat Christus innooi in die beste deel van julle harte. Wanneer ‘n adres verlede Dinsdag ‘n kospakkie kom afhaal en by die huis dit oopmaak en daar is ‘n bederfie in. Eenvoudige botteltjie vyekonfyt, en daardie persoon onmiddellik ‘n broodjie met vyekonfyt eet, dan kom God se koninkryk. Wanneer ‘n amper nuwe matras vir ‘n gesin gegee word en die kinders vir die eerste keer op ‘n matras slaap terwyl daar ook plek vir mamma op die matras is, dan is De Eike besig om Jesus se liefde ruimskoots uit te deel. Ek kan jou heeldag besig hou met geloofstories waar Kersgeskenke by behoeftige adresse uitgedeel word.
Dit is praktiese eenvoudige geloofstories. En ek daag jou uit om sulke kersgeskenke in eenvoud uit te deel. Want dan sal jy ervaar wat dit regtig beteken wanneer ons sing: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het ...”. Lukas 2:14
AMEN