Jes. 61: 1 11
Datum: 13 Desember 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
- Lofsang: Lied 370:1,3 2. By die doop: Lied 355:1,2
- Slotsang: Lied 292:1,2
Toe ek die week begin besig raak met Jesaja 61 het die teks so half by my ‘n klokkie gelui. So al asof ek dit vantevore al gepreek het. Toe loop kyk ek wat sê my rekenaar daarvan. En ja, wil jy glo, ek het wel Jesjaja 61 al gepreek. Nie dat ek baie bang is julle sal daardie preek woordeliks onthou nie. Want jy sien, dit was in 1994. Toe Sarli, wat vanoggend met haar babatjie voor die kansel gaan kom staan, in die Pre-primêr was. So ek vermoed Sarli gaan dit nie te goed onthou nie. Dis darem baie jare gelede!
Maar dit net so terloops. Wat my toe eintlik interesseer, is toe ek begin nadink oor 1994, en die ooreenkomste tussen 1994 en 2020. Onthou jy nog 1994? Onthou jy die histerie voor die verkiesing? Destyds was dit net nie toiletpapier wat mense opgehoop het nie – dit was blikkieskos. Ek onthou ‘n ou op Mosselbaar vir homself ‘n fort gebou het, met tonne blikkieskos in sy kelderverdieping. Ek vermoed hy eet nou nog Bullybeef. Maar dis nie net sy senuwees wat op was nie. Maar toe ek Jesaja 61 aan die einde van 1994 gepreek het, het die stof eintlik al gaan lê. Dit was toe nie so erg soos die doemprofete voorspel het nie. Ons kon weer asemhaal. Na al die drama het die ergste toe nie gebeur nie.
En nou het ons vir 2020 beleef. Die Covid-jaar. En in baie opsigte was dit nog erger as 1994. Wéér het die doemprofete die einde voorspel, en wéér het mense desperaat voorrade opgepot vir die groot krisis. Maar ook as ons aan die einde van 2020 terugkyk, besef ons dat die Here vir ons baie goed was in 2020. Dit was erg, maar dit kon eindeloos erger gewees het. Die veldhospitale is reeds opgeruim, en die massagrafte is toe nooit gebruik nie. Ons kan weer asemhaal. Maar steeds hang daar maar ‘n wolk oor ons. Hulle noem dit die tweede golf infeksies...
Maar wat die hele storie selfs nog interessanter maak, is as ons agterkom dat God se mense in Jesaja 61 eintlik in presies hierdie selfde bootjie was. Ook hulle het die grootste krisis in die volk se bestaan pas afgeweer, en hulle het dit oorleef. Die Ballingskap. Dit het ‘n hoë prys gekos, maar na 49 jaar was dit verby, en was God se mense weer op pad terughuis toe, terug na Jerusalem toe, om weer te gaan opbou wat die Babiloniërs afgebreek het. Dink net hoe bly hulle was! Dit was net te goed om waar te wees...
Maar ook vir hulle het die hemel toe nie op aarde neergedaal nie. Alles was nie net ewe skielik reg nie. Om mee te begin, het vyande die hele dag vir hulle op loer gelê. Jou lewe was eintlik niks werd nie. En daarby het baie mense die krisis misbruik om hulleself te bevoordeel. Hulle het mekaar uitgebuit en verkul. In plaas van hemel op aarde, het hulle nuwe bedeling net ellende en verarming – en korrupsie - gebring.
Ek gaan niks verder sê nie. Behalwe dat hierdie bitterlike donker prentjie ongelukkig vir ons al bekender klink...
- Maak Kersfees nog sin?
En nou is dit Kersfees. Ek sien die een advertensie sê: “It’s starting to feel like Christmas” en dis waar. Oral sien jy liggies en bome, en in die winkelsentrums gee almal geld uit wat hulle nie regtig het nie. Oral hoor jy kersusiek. "Stille nag", en "Die Heiland is gebore", en natuurlik daarmee saam ook "We wish you a Merry Christmas" en die alewige "Jingle Bells". Ons deurmekaar wêreld begin voel na Kersfees. Maar hoekom sou enigiemand vanjaar wou Kersfees vier? Miskien kan Jesaja ons vanoggend hiermee help. Kom luister wat sê die Here deur Jesaja vir sy mense in hulle moeilike omstandighede.
Die eerste ding wat Jesaja vir ons sê, is "Daar is nog 'n God". Al lyk dit dalk nie aldag vir jou so nie. Daar is nog ‘n God, en Hy weet hoe dit met julle gaan. Hy weet van die ellende in ons stukkende wêreld. Ons God staan NIE véraf en onbetrokke. Ons seer en ons krisisse gaan nie by Hom verby nie. Dit ráák God as onskuldige mense sterf, as huwelike breek, as kindertjies swaarkry. Daar is nog 'n God, sê Jesaja, en sy hart bréék saam met ons, oor hoe ons wêreld lyk en oor elkeen wat swaarkry. Oor die geweld en die lyding, oor die armoede en die uitbuiting, oor die afval en verderf, want dis nie hoe Hy dit wou hê nie.
Daarom, Jesaja, mag jy nie stilbly nie. Jy moet jy dit gaan uitbasuin, waar almal kan hoor: Dis tyd vir ‘n nuwe era! Die tyd van God genade het gekom, die tyd van vertroosting en nuwe léwe is hier. Gaan vertel vir hulle wat swaar kry, Jesaja: ons gaan die Here weer met oorgawe dien, soos gewyde priesters, dienaars van die heilige God, sê vers 6. God maak jou deel van sy plan vir hierdie stukkende wêreld.
Daarom kán ons maar Kersfees vier. En vir mekaar presente koop, en saam bly wees. Ons kan maar die mooi liggies ophang, en die ou Kersliedere sing. "Ek is getrou", sê die Here. Ek laat julle nie aan julleself oor in hierdie stukkende wêreld nie. Ek sal nie roof en misdaad die laaste woord laat spreek nie, want "Ek is die Here; Ek het reg lief", sê vers 8, "Ek haat roof en misdaad. In my trou sal Ek aan my volk gee wat Ek beloof het, Ek sal 'n ewige verbond met hulle sluit".
- Dit bring vir die kerk verantwoordelikheid mee...
Maar dis natuurlik nog maar deel van die storie. Want as jy nou maar net hier uitgaan en lekker gaan Kersfees hou, verstaan jy hoegenaamd nog nie wat Kersfees is nie. Jy is ook deel van God se plan! God het op Kersdag sy lig die wêreld ingestuur, ook in jou lewe in, sodat jou lewe nie deel van die duisternis sal wees nie, maar jy deel van sy plan vir hierdie wêreld kan wees! Sodat jou lewe kan meewerk om die stukkendheid om ons te begin herstel! Kersfees herinner ons: Daar's werk vir jou.
- Ons moet dit gaan vertel.
Gaan vertel dit! Jy mag nie die goeie nuus net vir jouself hou nie! Jy moet dit help uitdra. Jou lewe moet ‘n wandelende advertensie daarvoor wees. Elke woord en elke daad moet daarvan getuig.
Dit help nie ons wag vir mekaar nie. Dit help nie ons dink die dominees of die kerkraad moet dit eerder doen nie. God het vir elke gelowige sy Gees gegee, om ons toe te rus om die Goeie Nuus van Verlossing uit te dra teenoor alle mense. Moenie swyg nie. Dra dit uit, want die wêreld moet dit hoor.
- Ons moet dit ook gaan dóén.
Maar dit gaan ook verder. Dit mag nie net by práát oor die goeie nuus bly nie. Ons moet dit veral ook gaan léwe. Ek en jy is nou agente vir Kersfees. Ons moet dit Kersfees gaan maak, waar ons ook al kom. Gaan wys vir mense dat God mense nuut maak. Gaan lewe die liefde van Jesus. Sodat jou lewe in hierdie barre wêreld vir mense oases skep, waar mense 'n koel plekkie kan vind. Waar mense kan asem skep. Weer héél kan word.
Ons kan nie maar net onbetrokke staan wanneer ander mense swaar kry nie. En mense kry wel deeglik swaar om ons! Daar is so baie vorme van swaarkry! Dit tráák jou, as kinders honger gaan slaap. Of saans hartseer gaan slaap. Dis jou saak, as daar iemand in jou straat bly, wat in hierdie tyd vergaan van die eensaamheid, terwyl ons vrolik Kersfees vier. Ons kan nie verbykyk, by hulle wie se lewens stukkend is nie.
Jy hoef nie 'n warm rooi pak aan te trek en met 'n slee rond te ry om geskenke uit te deel, om dit in mense se lewe regtig Kersfees te maak nie. Jy kan maar net omgee. Liefhê. En die moeite doen om dit te wys. Gaan, en gaan máák dit Kersfees, vir ander.
- Maar daarvoor moet ons werklik 'n gemeenskap van geloof raak.
Daar is twee plekke waar jy hierdie wonderlike nuus nie kan mis nie. Die een is langs die krip, saam met alles wat ons daaraan herinner – selfs die irriterende sogeneemde “kersmusiek” in die winkels. Hier rondom Kersfees, langs die krip, kan jy dit nie mis nie. Die nuwe era is hier!
Maar daar is ‘n tweede plek. En dit hier by die doopfont. Want hier sien jy God se genade in aksie. Hier sien jy God sy hand na ons toe uitsteek, voordat ons dit nog eens kan begryp, want dis hoe Hy werk, en bied Hy vir ons aan om lede van sy groot gesin te word. Om sy volgeling te word, sodat dit elke dag Kersfees in ons lewe kan wees. Hierdie is nie die oppervlakkige "Merry, merry", wat jy daar buite hoor nie. Die doop vertel van ‘n diep, bo-natuurlik vreugde wat die Gees in mens werk, wat nooit weggaan nie. Wat geen omsydndighede or pandemies van ons kan steel nie. Vreugde omdat God ons só lief gehad het, dat Hy vir ons sy enigste Seun in die krip in Betlehem gegee het. Sodat stukkendheid nóóít die laaste woord in ons wêreld sou hê nie... Sodat jy kan lewe.
Amen