Hebreërs 9:23-28

Datum: 11 November 2018

Prediker: Hannes Burger

Dit bly vir my net wonderlik dat die Here ons so verskillend gemaak het. Nie twee van ons is dieselfde nie. Selfs ‘n tweeling ontwikkel elkeen op sy eie manier, met die verskillende goed waardeur ons gevorm word. Veral geniet ek om op te let om na mense te luister, en ‘n bietjie kyk waaroor elkeen van hulle opgewonde raak. Jy sal verstom staan. Ek ken dan selfs ‘n ou wat sommer so half kortasem raak as hy oor Loftus praat, en ‘n hele paar wat nie verlede Saterdag kon slaap na dat die skeidsregter so lelik met ons was nie. Ouens raak regtig half irrasioneel as dit by sport kom. Maar natuurlik nie net ouens nie. Want my eie dogter se gunsteling-tydverdryf is dan om maratons te hardloop! Waar kom sy vandaan, kan jy met reg vra. Maar so is daar mense wat so voel oor mooi en vinnige karre, of deftige klere, of smart juwele, wat ook al. Elkeen van ons het iets wat ons hart vinniger laat klop.

Toe wonder ek nogal oor myself. Wat fassineer my die meeste aan mense? Ek dink dis mense se kreatiwiteit. Ek kan rasend opgewonde raak oor dit wat mense kan doen. Toe ons nou vir die kinders gaan kuier het, was die heel lekkerste uitstappie vir my die een na die National Gallery toe. En daar het ek net loop sit. En my verwonder. Trouens, ek het my soveel verwonder dat ek ‘n week later teruggegaan het en weer daar gaan sit het. En myself van voor af verwonder het.

Dit voel so half vir my kreatiwiteit bring die mooiste in mense uit. Ongelukkig, omdat ons in ‘n stukkende wêreld lewe, partykeer sekerlik die minder goeie ook, maar dis nou nie waaroor ek vanoggend praat nie. Daar is net dat niks my nader aan die Here laat voel as wanneer ek verstom staan oor dit waartoe hy mense in staat stel nie. Of wanneer ek op my eie beskeie manier ook ietsie kreatief doen nie.

  1. Ons God is die Skepper

Maar moenie daaroor verbaas wees nie. Dis dan presies wat die Bybel heel eerste oor God vertel! Ons God is Kreatief met ‘n hoofletter. Lees maar weer Genesis 1 en 2. Van ewig af was daar niks. Net duisternis en chaos. En toe bekyk God die spulletjie soos ek my kan voorstel Rembrandt na ‘n skoon doek gekyk het. Maar anders as Rembrandt of wie anders ook al, het God nie iets gevat en die aarde daaruit gemaak nie. Hy het geen rou materiaal of instrumente gebruik nie. Sy enigste instrument was die skeppingsmag van sy stem.

Hy het net ‘n woord gesê, en alles wat jy om jou kan sien en selfs ook nie kan sien nie, was daar. En dan vertel die Bybel selfs vir ons hoe Hy teruggestaan het en alles bekyk het, en gesê het: Dis alles baie goed! Dis waar alle kreatiwiteit begin. “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde...”

Maar daar stop dit natuurlik nie. God het nie na sewe dae ophou skep nie. Want toe Hy vir Abraham in Haran gaan haal, het God weereens uit niks vir Homself ‘n volk geskep. Hy vat ‘n ou man en sy ou, weliswaar baie mooi ou vrou, en doen dit wat menslik onmoontlik is: Hy skep vir Hom ‘n reuse volk. Hy loop haal daardie verguisde slawe-volk in Egipte en gee hulle ‘n nuwe tuiste, skep ‘n nuwe verbond waarbinne hulle Hom kon dien en Hy hulle God kan wees. Dwarsdeur die Ou Testament, staan jy verstom aan die kreatiwiteit van God.

  1. Maar nou vir die toppunt van goddelike kreatiwiteit...

Maar met alle respek gesê, dit was eintlik nog niks. Want ek vrees daar het nie veel gekom van God se skeppingskrag in die Ou Testament nie. Die mens wat Hy gemaak het, was ‘n reuse teleurstelling. Hy het spoedig al die verhoudinge waarin hy staan, vertroebel. Van die harmonie van die tuin van Eden was weinig oor. En daarvandaan het hy aangegaan en die natuur begin verwoes eerder as mooi daarna te kyk, soos God van hom gevra het. En ja, kort voor lank het hulle verder ook mekaar begin uitroei.

Selfs die verhouding wat God tussen Hom en sy volk geskep het, die verbond wat God daargestel het, het die mens geminag en vernietig. Sy eie volk wat Hy verlos het het geen erg aan Hom gehad nie, en eerder agter lewelose afgode aangeloop. Dit het regtig begin lyk asof God se kreatiwiteit bitter min bereik het.

En toe breek daar ‘n dag aan, waarop die term kreatiwiteit heeltemal nuwe betekenis kry. Een mooi dag kom wys God ons toe waartoe Hy in staat is. Daardie dag het ‘n naam. Ons noem dit Kersdag. Op Kersdag kom vee God as’t ware die skilderdoek leeg en kom begin van voor af. Toe die babatjie sy eerste skree in die stal in Betlehem gee, lui dit ‘n totaal nuwe era in. God kom begin heel van voor af met die mens.

En vandag mag ek en jy Kersfees vier! Ek en jy is so bevoorreg: ons mag nie net daardie dag jaarliks herdenk nie, maar eindeloos meer nog - ons mag elke dag daarin lewe!!! Ons is deel van die nuwe era, die vrug van die goddelike kreatiwiteit.

  1. Maar nou stop dit selfs ook nie daar nie.

Maar dis nog nie al nie. Want het jy al ooit opgelet dat kreatiwiteit oorerflik is? Daarom was ek absoluut verwonderd toe ek die dag agterkom al drie my kinders is musikaal en kan sing, net soos hulle ma. Want dis hoe dit werk. Ons aard na ons ouers. Party keer ten goede en party keer minder so. Maar dit bly maar wonderlik.

Maar nou is die wonderlikste dat ons ook iets van ons hemelse Vader se kreatiwiteit geërf het. Dis deel van die beeld van God wat Hy in ons ingeskep het. Ons lyk soos Hy, want onder andere kan ons ook bietjie kreatief wees.

Dis hoekom jy mense kry wat musikaal is. Party kan noot hou, wat al wonderlik is. En ander kan ‘n simfonie skrywe. En jy kry ook mense wat skeppende kuns kan beoefen. Party kan darem ‘n leeu teken, en ander kan die Nagwag skilder. Party kan ‘n boek skryf, en ander kan Hamlet skrywe. Nog ander kan fantasties tuin uitlê, of ‘n trourok maak, of selfs net ‘n sweetpak aanmekaarstik. Maar elke keer as jy dit doen, wys jy dat jy ‘n klein bietjie na jou Vader aard. En dis wonderlik.

Maar dit gaan ook eindeloos dieper as dit. Wamt al daardie goed lê half buite ons. Maar God het ons ook kreatief gemaak, in die sin dat jy nooit maar net tevrede hoef te wees met goed soos dit is nie. Jy is ‘n kind van die  Skepper. Jy hoef nie op ‘n hopie te sit en kla oor hierdie treurige land waarin ons woon nie. Jy kan uitgaan en ‘n verskil gaan maak. Jy hoef nie in sak en as te sit oor jou huwelik wat so onbevredigend is, of jou verhouding met jou kinders wat nie na wense is nie. God roep jou om aan die gang te kom, en iets te gaan doen daaraan. God roep jou om vandag ‘n nuwe begin te maak. Gaan huis toe en loop doen in hemelsnaam iets aan die verhouding wat jy so onbevredigend vind. Gaan tel die telefoon op en bel iemand, stap oor, reik uit, maak ‘n verskil!

Dalk skud jy al klaar jou kop. Nee wag, Hannes, nou is jy by die verkeerde adres. Wat jy nie verstaan nie, is dat ek nie ‘n kreatiewe haar op my kop het nie. (Ek ook nie, nou dat ek daaraan dink). Maar ek kan nie. Ek is net glad nie kreatief nie!

Maar wag net ‘n bietjie. Het jy dan nie gesê die Gees woon binne-in jou nie? En is dit nie hierdie selfde Gees wat nuwe lewe kan skep waar daar niks is nie, wat destyds Kersfees begin het deur lewe in ‘n jong meisie met die naam Maria te wek, sodat sy God se Seun in die wêreld kon bring nie? Moet nooit weer sê dat jy nie kreatief is nie! As die Gees in jou is, kan jy enigiets doen, selfs ongehoorde en onverwagste goed. Selfs dit wat nou in jou huis totaal onmoontlik lyk. God roep jou, Hy stuur jou vandag hier uit, om dinge in jou omgewing te gaan verander. Beginnende vandag.

AMEN