Matt 4:12-23

Datum: 22 Januarie 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. Inleiding. Stilbaai was heerlik gewees. En dit was lekker om weer saam met mense te kuier wat van heinde en vêraf kom vakansie hou het by hierdie juweel van ’n kusdorpie. Ek het die afgelope vakansie na baie mense se stories geluister en daar was een woord wat daagliks op die strand, langs rivier, en om die braaivleisvure na verwys is. En daardie woordjie is nie beurtkrag nie. Die woord wat ek gereeld gehoor het, was leierskap, of eerder ’n gebrek daaraan. Ek moes gereeld hoor dat leierskap op baie terreine ontbreek. Ek het gehoor dat sommige mense in topposte nie eers hulself kan lei nie, wat nog te sê ’n groot organisasie. Ek moes hoor dat sekere leiers hulself verryk en vir hulself sorg en die weerlose massas in die duister laat. Gulsigheid en selfverryking is twee eienskappe waarmee sommige leiers hulself besig hou terwyl die ligte nie wil brand nie. Tot hier toe en nie vêrder nie. Waar is ons rolmodelle? Waar is ons leiers van die dag? Hulle is nêrens nie. Ja, ek moes hoor dat leiers met integriteit ontbreek.

En vriende, dit filter deur tot by die mense wat in die duisternis gelaat word. Swak leierskap word as die normaal beskou. Ons land is ‘n nagmerrie van onvoltooide projekte en leiers bevestig elke keer dat hier geen beplanning is nie. Elke mens sorg eenvoudig net vir homself en omgee vir jou medemens bestaan nie meer nie. Hoe gaan ons die gety draai?

Daar is ’n aanhaling wat my elke keer, wanneer ek dit lees, my in my spore stuit. Dit is ’n aanhaling oor leierskap wat vir my persoonlik diep getref het. Dit klink so: When you are called to lead, you are called to serve.” Wanneer jy geroep word om leiding te neem, word jy geroep om diensbaar te wees.

Ons kan gerus die leiers van vandag hieraan meet. Is hulle diensbaar of is die persoon of party en organisasie groter en belangriker as die mense wat in duisternis gehul is?

IS DAAR ’N LEIER WAT ONS ROLMODEL KAN WEES?

In die Bybel kan baie oor goeie en swak leierskap gelees word. Tog dink ek dat Jesus by uitstek as ’n leier aan ons voorgestel word. Ons ontmoet vir Jesus in die derde hoofstuk van die Matteus Evangelie binne in die Jordaanrivier terwyl Jesus deur Johannes gedoop word. En terwyl die Jordaan-water van Jesus afdrup het die hemel bokant Hom oopgegaan en Jesus het die Gees van God soos ’n duif op Hom sien neerdaal. En daar was ’n stem uit die hemel wat gesê het: Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek my. My armhare staan regop. God bevestig hiermee dat Jesus SY seun is. Kragtige woorde. Uit ons Bybel. Terwyl daar mense en selfs dosente by universiteite is wat daaroor redeneer oor waar Jesus regtig inpas.

JESUS IS ‘N DIENSBARE LEIER

Na Sy doop het die Gees vir Jesus in die woestyn ingelei en vir veertig dae en veertig nagte het Jesus niks geëet nie. Vriende, wanneer dinge moeilik word, is die duiwel op sy beste. Wanneer ons broos en swak is, is die duiwel en sy versoekings aanloklik. Maar ek het ook al beleef dat wanneer dinge moeilik is, kom ware leierskap na vore. Wat doen Jesus in daardie veertig dae en veertig nagte van afsondering? Wat doen Jesus in die moeilik tyd waarin Hy Homself bevind? Drie keer probeer die duiwel om Jesus sag te maak. En elke keer gaan dit vir Jesus nie oor Homself nie. Die duiwel wil Jesus oorreed om Sy krag ter wille van homself te gebruik. Maar die Gees van God maak vir Jesus sterk. Die Gees van God wat op Jesus neergedaal het maak vir Jesus sterk vir die uitdagings wat in sy bediening op hom wag. Jesus misbruik nie Sy status ter wille van Homself nie, maar ter wille van God se wil, leef Hy dit uit, wat uiteindelik die swaarste ding van alles van Hom sou vra, die kruisdood.

Waarskynlik moeg en afgemat stap Jesus na veertig dae en veertig nagte uit die woestyn uit om sy bediening te begin.

DIE MAKLIKE UITWEG – OF NIE?

Baie mense sou na so ’n uitmergelende veertig dae en veertig nagte rustigheid opsoek. Nasaret, Jesus se tuisdorp sou baie aanloklik gewees het om ’n blaaskans te neem en Sy bediening te begin. Nasaret is ongeveer 24 kilometer vanaf die See van Galilea, maar ’n omgewing vêr verwyderd van mekaar in terme van kultuur. ’n Klein dorpie met ongeveer twee na drie honderd inwoners, geleë op ’n heuwel wat uitkyk op ’n vallei wat gevul is met Ou-Testamentiese verhale, vêr genoeg van Jerusalem sodat die Romeine min aandag aan hulle gegee het. Die inwoners was klein dorpie mense, hardwerkende, sinagoge-gangers. Vandag sal ons sê, kerkmense. Hierdie plattelandse dorpie was vir Jesus huis. Die veilige en gemaklike opsie was om in Nasaret aan te bly. Maar Jesus is op pad na Galilea toe. Van ’n veilige plattelandse dorpie na ’n plek propvol Romeine en ander onrein dinge. Hoekom? Want vir Jesus gaan dit nie oor homself nie. Nie Sy wil nie maar Sy Vader se wil.   Galilea, die duisternis is Jesus se volgende bestemming. Oor die donker aand het ’n Lig begin skyn.

En net soos in Galilea is Jesus deur die Heilige Gees ook vanoggend hier tussen ons. Vanoggend is ek en jy ook op Sy radar.

ONS IS OOK OP JESUS SE RADAR

Al wat Hy van my vra, is: “Bekeer jou!” Maak reg, draai om, verander van koers, maak ’n U-draai soos die verlore seun. Kry ’n afkeer aan die wêreld se leiers en hul beloftes van kortstondige voordele. Neem ’n daadwerklike besluit en staan op, draai om en keer terug na die Here waar daar hoop en redding is vir ons.

En dit is hierdie boodskap wat ons moet verkondig. Dit het egter ongemaklike gevolge. Daar is niks romanties aan hierdie roeping nie. Johannes die Doper word gearresteer. En terwyl Simon Petrus en Andreas, asook Jakobus en Johannes, by die See van Galilea besig is met hul daaglikse taak as vissermanne, roep Jesus hulle om alles net so te los en Hom te volg. Omring deur hul vroue, kinders en mense wat vis wil koop, doen hulle dit. Dit vra ’n brood-en-botter-keuse, en tog volg hulle Hom onmiddellik. Verstommend!

As Jesus my leier is vra dit van my ’n keuse wat nie altyd maanskyn en rose is nie. Om God se wil te soek en dit te doen, vra opoffering wat tot vervolging en swaarkry kan lei. Nie noodwendig deur te sterf, of my beroep te los, of my familie te groet nie. Dit vra wel dat ek my lewe in oënskou neem en dit opnuut volgens die Here se wil inrig. Dat ekself my verhoudings onder ’n vergrootglas sal sit en dit opnuut aan diensbaarheid en liefde sal toets. Dit is wat dit beteken om as predikant, onderwyser, boer, sakeman of in watter beroep ek myself ook al bevind, vir Jesus te volg. Dat ek ook in my huwelik en in my gesin, by die huis en op pad die Here voorop sal stel en Hom sal gehoorsaam (Deut 6:4 ev).

Dit is beslis nie altyd maklik nie. Dit is ook nie altyd voor die hand liggend nie. Dit vra iets van my. Dit vra van my geloof, gawes, geleenthede, grond en ook my geld. Dit vra my hart, hande en gedagtes. Gelukkig vra die Here nie net nie, Hy gee ook. Hy is saam met my daar waar ek ’n verskil moet maak. Hy seën my met sy teenwoordigheid sodat ek vir ander tot seën kan wees. Daarom belowe Hy my dat Hy nie net bekwame mense roep nie. Vir my wat Hy roep, maak Hy bekwaam (1 Kor 12:1 ev).

Deur middel van sy leierskap stel Jesus ook vir my ’n voorbeeld as Hy vra dat ek …

  • Die evangelie oral, formeel en informeel, sal verkondig. Dat ek tydig en ontydig vir my kinders van sy geboorte en sy doop sal vertel.
  • Dat ek bereid sal wees om uit die Woord geleer te word en dat ek ander onder leiding van die Gees sal leer hoe diensbaarheid en liefde in die praktyk lyk.
  • Bereid sal wees om ander te genees. Op mediese of terapeutiese wyse, maar ook deur mense se lewensomstandighede te verander. Om armoede, geweld en verslawing aan te roer en om die randfigure en afvlerk voëltjies menswaardig te behandel. Om vir mense in nood te bid, te help om hul lewenstyl te verander, om gesindhede te verbeter en om hulself, maar ook ander te vergewe. Dit is wat Jesus gedoen het.

 

Dit is Jesus wat my, soos vir sy dissipels, roep om ’n visser van mense te wees. Daarom is my gesag nie polities, kerklik, ekonomies of sosiaal nie, maar dit kom direk van die Here God self. Aan hierdie roepstem moet ek gehoorsaam wees terwyl ek besef dit kan my gerieflike bestaan en ander lojaliteite, my verhoudings en my lewe geheel en al omkeer. Uiteindelik is dit ’n keuse wat ek moet maak. Wie kies ek? Die wêreldse leiers of die Here? Voordat ek hierdie keuse gemaak het, kan ek nie my alles los en Hom volg nie.

Ek moet mooi dink, want die wêreld is in nood en soek ware leiers en blywende oplossings. Die enigste oplossing wat hieraan voldoen, is die Here as Verlosser. Maar dan moet die wêreld bereid wees om om te draai en tot inkeer te kom. Om Hom te hoor en te volg. Waar dit gebeur, is daar vreugde in menseharte, maar ook in die hemel.

Onmoontlik?  Niks by die Here is onmoontlik nie. Al wat dit vra, is om met ’n ja te antwoord as die Here my roep om saam met Hom die wêreld te verander! En dit vra nie aardskuddende spronge in jou lewe nie. Dit vra eenvoudige leierskap propvol diensbaarheid en liefde. Al wat jy vandag moet onthou is dit: Wanneer jy geroep word om leiding te neem, word jy geroep om diensbaar te wees. Doen net dit, want dan volg jy vir Jesus in Sy voetspore.

SLOT

Kom ons daag mekaar uit deur te sê dat 2023 die jaar is waarin ek uit my gemaksone gaan klim. Jesus my leier wys my wat is diensbare leierskap, nie my wil nie Here, maar U wil.

AMEN