Matt 5:13-16; 2 Kor 5:17-21

Datum: 20 Julie 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Vriende ons is tans besig met ‘n mini reeks oor die Koninkryk van God.  Ons het tot nou toe gesien dat die Koninkryk van God ’n teenwoordige werklikheid is – Jesus is die Koning wat reeds regeer, en sy mense word geken aan hulle andersheid. In die saligsprekinge (Matteus 5:1–12) het Jesus ’n prent geskets van die mense van die Koninkryk: hulle is sagmoedig, honger na geregtigheid, barmhartig, vredemakers. Maar wat nou?

 

Wat gebeur ná “Geseënd is jy…”? Wat is die rol van hierdie mense in die wêreld? Wat doen sulke mense in die wêreld? Een van die antwoorde op hierdie vrae is dat volgelinge van Jesus hulle totaal en al moet afsonder. Afsonder van die wêreld, ander mense, van die kultuur, en die lewe rondom hulle? So amper asof volgelinge van Jesus in hulle eie wêreld moet leef, soos afgesonderde monnike of passiewe toeskouers in die wêreld. Dit bring ons by die hart van vanoggend se gedeelte en vanoggend se tema: Wat beteken dit om as mense van God se Koninkryk te leef in ‘n wêreld wat God nie altyd raaksien of ernstig opneem nie?

 

Jesus se antwoord op die vraag is dadelik: mense van God se Koninkryk is nie afgesonderde monnike of passiewe toeskouers nie. Nee, hulle is aktiewe agente van verandering – sout en lig. Hulle leef sigbaar en bring ‘n ander geur.

 

Vriende Ons gaan vanoggend stilstaan by twee kragtige beelde wat Jesus gebruik – sout en lig – en dit koppel aan Paulus se beskrywing van gelowiges as verteenwoordigers van Christus. Die boodskap is helder: Die mense van God se Koninkryk leef nie vir hulleself nie. Hulle is draers van Christus se teenwoordigheid.

 

Kom ons lees

Matteus 5:13–16; 2 Korintiërs 5:17–21

 

Jesus sê nie: "Julle moet probeer om lig te wees" nie. Hy sê: Julle is lig. Dis nie ’n voorstel of ’n wens nie – dis ’n verklaring van identiteit. Julle is. En as julle dit is, dan moet julle ook so leef. Jesus kom sê hier vir sy volgelinge: “As ek jou Koning is, dan is jy reeds 'n draer van my lig en geur. Die vraag is nie of jy ’n invloed het nie – maar wátter soort invloed jy het. Koninkryksmense het ’n roeping: om die wêreld te beïnvloed met God se karakter en liefde.

 

Jesus se beeld van sout het verskeie lae van betekenis. In die antieke wêreld was sout een van die mees waardevolle handelsitems. Dit was nie net ’n geurmiddel nie – dit was ’n preserveermiddel. Sout het gekeer dat kos items se vervaldatum vinniger nader kom.  Natuurlik was dit ook gebruik as ‘n ontsmettingsmiddel om wonde mee skoon en gesond te maak.

 

Wanneer Jesus sê: “Julle is die sout van die aarde,” stel Hy sy volgelinge aan om ‘n duidelike teenwoordigheid te wees. Nie om te beheer nie, maar om ‘n invloed te hê.

 

Sout het gekeer dat dinge bederf of tot nuut gaan. As ons om ons kyk is dit maklik om te sien dat die wêreld vol bederf is: onreg, haat, gierigheid, magsmisbruik. Gelowiges word nie net geroep om anders te wees nie, maar om die wêreld rondom hulle te beïnvloed. Sout werk stil, maar doeltreffend. Jy sien dit nie, maar jy proe dit. So werk geloof in Jesus: nie luidrugtig nie, maar lewensveranderend.

 

Kom ons maak dit nog meer prakties. Jesus sê: “Julle is sout.” In ’n wêreld waar sonde, onreg, en verdeeldheid maklik bederf bring, is gelowiges bewaar-agente.

Wat beteken dit?

 

Jy is sout wanneer jy ’n stukkende verhouding help genees eerder as om wraak te neem.

Jy is sout wanneer jy integriteit bring in ’n werkplek wat korrupsie normaliseer.

Jy is sout wanneer jy stil bly in ’n wêreld vol geraas – en luister, vergewe, vertroos.

 

Maar dan waarsku Jesus: “As die sout laf geword het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?” As sout sy unieke eienskappe verloor het, is dit nutteloos. Vriende, Christene wat nie hul identiteit uitleef nie, is nie net onsigbaar nie – hulle verloor hul doel. Geloof wat ononderskeibaar geword het van die kultuur - wanneer volgelinge van Jesus nie meer as sy dissipels leef nie, verloor hulle invloed. Wanneer ons Christenskap net ’n private opinie word en nie ’n openbare getuienis nie, verloor dit die impak. Sonder sout bly daar niks oor om die wêreld van binne af te beïnvloed nie.

 

Vriende, ons is nie sout om onsself te beskerm nie – maar om die wêreld te dien. Om sout te wees beteken: jy tree op in jou gemeenskap, jou werkplek, jou gesin, as iemand wat God se goedheid bewaar en uitstraal. Jy bring geregtigheid, versoening, waarheid.

 

Die tweede beeld wat Jesus hier gebruik is; Lig. Lig het in die Bybel altyd ’n dubbele betekenis: Lig is ’n simbool van openbaring - dit wys die pad - en dit ontmasker. Lig bring helderheid, rigting, hoop. Dis nie verniet dat Jesus in Johannes 8:12 sê: “Ek is die lig van die wêreld” nie. Maar nou, vriende sê Hy vir gewone mense – vissers, tollenaars, vroue, kinders, vir my en vir jou – julle is die lig!

 

Hierdie is belangrik: ons is nie lig op ons eie nie, maar omdat ons Jesus reflekteer. Soos die maan nie self lig gee nie, maar die son se lig weerkaats, so is gelowiges lig omdat Christus in hulle skyn.

 

Jesus sê ook: “’n Stad op ’n berg kan nie weggesteek word nie.” In die antieke wêreld is stede op heuwels gebou – as vestings, as tekens van sekuriteit. Fakels het in die aande lig uit die stad laat straal. Dit het ’n baken vir die reisigers geword. Dit is die beeld wat Jesus vir ons as kerk gehad het: om ’n teenwoordigheid in die wêreld te wees wat rigting gee, wat hoop bring, wat wys op ’n groter werklikheid. Lig wys die pad. Lig ontmasker. Lig trek mense.

 

Maar dan waarsku Jesus teen passiewe geloof: “’n Lamp word nie onder ’n emmer gesit nie, maar op ’n stander.” Lig is bedoel om sigbaar te wees. Ons is nie gemaak om onder ‘n emmer weggekruip te sit nie – ons is gemaak om te skyn. Dis ’n oproep tot ‘n openlike, egte geloofslewe. Nie vroomheid nie, maar geloof wat geleef word: in jou keuses, jou woordgebruik, hoe jy konflik hanteer, hoe jy mense behandel wat verskil van jou. Jou lig skyn nie net wanneer jy by die kerk is of Bybel lees nie, maar wanneer jy getrou werk, en eerlik liefhet.

 

Hierdie is 'n oproep tot geloof wat werklik sigbaar is in liefde, geregtigheid en goedheid.

 

Jou lig skyn wanneer jy met vreugde en hoop leef, selfs al is die omstandighede donker.

Jou lig skyn wanneer jy ander dien sonder om gesien te wil word.

Jou lig skyn wanneer jy jou Christenskap uitleef op Maandag tussen kollegas, nie net op Sondag tussen mede-gelowiges nie.

 

As ons dan dink aan 2 Korintiërs 5 sien ons hoe die sout en lig-beeld verder ontvou.  Paulus skryf ‘n baie belangrike ding.  Hy begin met ’n radikale waarheid: “As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan.” Dan gebruik hy ’n pragtige beeld: “Ons is gesante [ambassadeurs] vir Christus.” Hier gee Paulus nie ’n evangelisasieprogram nie – hy beskryf ’n identiteit.

 

Hy sê: Ons is ambassadeurs van God se Koninkryk.  ’n Ambassadeur is iemand wat nie in hul eie land woon nie – hulle leef in ‘n vreemde wêreld, maar dra hul eie land se waardes, kultuur en opdragte oor daar waar hulle leef. Hy verteenwoordig nie homself nie, maar sy Koning.

 

So is ons. Ons leef in ’n wêreld wat nie volgens Koninkrykswaardes funksioneer nie – maar ons is hier as verteenwoordigers van God se nuwe wêreld. Vriende, ons is nie hier om die wêreld te veroordeel nie. Ons is hier om ’n uitnodiging te rig. Deur hoe ons leef, liefhet, vergewe en dien, word mense herinner: daar is ’n ander manier, daar is ’n ander Koning.

 

Ons leef in ‘n wêreld vol verdeeldheid: politiek, ras, kultuur, sosiale klasse. Mense is vinnig om te oordeel, stadig om te luister, en selfs stadiger om te vergewe. Maar Koninkryksmense is anders. Hulle bou brûe. Hulle dra hoop. Hulle werk aktief daaraan om Christus se versoening sigbaar te maak.

 

Hoe leef ons dan as sout en lig? Nie deur groot planne en projekte alleen nie – maar deur daaglikse gehoorsaamheid. Deur met Christus te wandel. Deur sensitief te wees vir die Gees se stem. Deur ons oë oop te hou vir die seer van ander.

 

Jesus sê aan die einde van Matteus se gedeelte: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader in die hemel verheerlik.”

Let op – dis nie ’n oproep tot selfverheerliking nie. Dis ’n uitnodiging tot sigbare, egte geloof wat mense nie na onsself wys nie, maar na God.

 

Vriende die wêreld het dringend mense nodig wat die lig en sout van die koninkryk leef. Nie mense met alle antwoorde nie, maar mense wat die geur en glans van Christus dra.

 

Jy word nie geroep om die wêreld te red nie – maar jy word geroep om getrou te wees in die plek waar God jou geplaas het. In jou huis, jou werk, jou skool, jou buurt. En jy is nie alleen nie: jy is deel van ’n liggaam, deel van ’n stad op ’n berg, deel van die mense van die Koninkryk.

 

Hoe leef ons dan as sout en lig? Deur te vra: Hoe kan ek in hierdie oomblik, in hierdie situasie, ‘n verteenwoordiger van Christus wees? Soms beteken dit om stil te luister. Ander kere beteken dit om op te staan vir geregtigheid. Soms beteken dit om jou hand oop te maak en iets te gee. Ander kere beteken dit om iemand huis toe te nooi vir ete. Lig en sout begin nie in die kerkgebou nie – dit begin waar jy woon, werk en leef.

 

Jesus se woorde is eenvoudig, maar radikaal: “Julle is die sout… julle is die lig.” Dis nie ‘n opsionele add-on vir die Christenlewe nie – dit is die Christenlewe. Ons is nie net mense wat kerk toe gaan nie. Ons is mense wat die kerk is, waar ons ook al gaan.

 

God se Koninkryk kom nie eendag in die hemel nie – dit is reeds besig om deur jou en my in hierdie wêreld deur te breek. Daarom leef ons nie vir onsself nie, maar as sout wat bewaar, en lig wat wys. As verteenwoordigers van Christus, met die versoeningsboodskap op ons lippe en liefde in ons hande.

 

Laat jou lig só skyn, dat mense jou goeie werke sien – en jou Vader in die hemel verheerlik. Amen

 

Slotlied

 

Flam 113 (alle verse) Here Jesus U skyn

 

Seengroet

Gaan nou uit as mense van die Koninkryk –

as sout wat preserveer en genees,

as lig wat hoop bring en die pad wys.

 

Leef met oop oë en oop hande,

wees verteenwoordigers van Christus,

en laat die wêreld proe en sien

dat die Here goed is.

 

Mag die genade van ons Here Jesus Christus,

die liefde van God ons Vader,

en die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees

by julle bly –

vandag en elke dag.

Amen.