Ps 146:5-10
Datum: 11 Desember 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Ek kan so goed onthou toe ek die eerste erediens waartydens my skoonpa die prediker was, bygewoon het. Die kerk-ding was vir my vreemd en om eerlik te wees, het ek dit net bygewoon omdat ek en Carina destyds in ’n verhouding was. Ons twee het vir die naweek by haar ouers in Nylstroom gaan kuier en wanneer daar by haar ouers gekuier word moes almal Sondae saam kerk toe gaan. Carina se pa was destyds die Direkteur van die Abraham Kriel Kinderhuis en het dus sekere preekbeurte in die Moedergemeente gehad. En daar sit ons, soos eendjies in ’n ry, op ’n bloedige warm Bosveld someroggend, die kraaie gaap, terwyl die ATKV se Klein Kariba Vakansieoord met sy heerlike swembaddens ’n hanetree van die kerk af is.
En Carina se pa sê: “Kom Laat Ons Sing”......Sal ek die woorde ooit vergeet? Kom... laat ons sing.... terwyl ek met verbande om my kop, halfblind nie eers die Psalm en Gesangeboek se woorde duidelik kan lees nie en vaagweg hoor wat hy van die kansel af sê....Kom Laat Ons Sing....“Wat is daar om oor te sing oom? Is daar iets om oor te sing waarvan ek nie weet nie?”: Het ek gedink. My woorde is op oom...My lied en my lewe is van my gesteel. Ek wil nie sing nie.
En toe laat die orrelis daardie pyporrel met my praat. Skielik is daar ’n lig wat die donker in my lewe oopkloof. Diep binne my breek iets los terwyl ek daardie oggend myself tussen al die trane deur, leeg-sing, want ek besef, ek haal asem. Ek leef. En ek sing saam met medegelowiges......
Prys die Heer met blye galme, o my siel, daar’s ryke stof! Ek sal solank ek leef my psalme vrolik toewy aan sy lof.
KEN JY DAARDIE PAD?
Ek wonder of jy al daar was? Daar waar jou lied van jou weggeneem was. Toe jou woorde en drome opgedroog het? Was jy al daar of is jy daar? Daar waar niks meer saak maak nie. Kan jy sulke tye onthou? Tye wanneer jy jouself afvra: Wanneer gaan hierdie slegte dinge wat in my lewe gebeur ophou? Want.....
Jou lewenslied het opgedroog.
Mense het opinies oor jou wat van alle waarheid ontbloot is. Hulle dra geensins kennis van jou konteks nie. Hulle besef nie wat regtig in jou lewe gebeur nie.
Jou stem het stil geword.
Want daar is broodsgebrek, kinders word honger skool toe gestuur, onreg en onbillike besluite wat jou benadeel.
Jy praat nie meer nie.
Want die toekoms is uitsigloos omdat jy nie op prinse kan vertrou nie. Hulle slegte planne sien jy raak en niemand doen iets daaraan nie. Jy voel uitgelewer aan magte en kragte en is weerloos.
Jy wil nie meer sing nie.
Want die dokter se verdoemende nuus was soos ’n beker koue water in jou gesig.
Dit het om jou stil geword. Grafstil....Alleen-stil....Diep in ’n put stil. Wat kan ons vanoggend hieraan doen? ONS MOET SING!
KOM LAAT ONS SING
Laat ons sing! En onmiddellik dink jy dalk: “Voordat jy so iets kwytraak moet jy eers in my skoene kom klim. “Fill your own shoes first.” Ek het soveel deernis en onbeskryflike respek teenoor jou en die krisisse waardeur jy tans gaan....Tog wil ek net sê.....Ek was ook daar, daar waar alles godverlate gevoel het. Die put waarin ek gelê het, was diep en donker en ek het so alleen gevoel. En net dalk kan my ondersteuning en lewensverhaal vir jou iets beteken sodat jy vanuit ’n ander hoek, verby of bo-oor jou donkerte kan kyk. Destyds het ek net besef daar is geen ander uitweg as Hy, die lewende almagtige God nie. Slegs God se Woord kan dit vir my doen. Daarom moet ons sing. Hierdie is nie ’n teks om oor te preek of om voor te lees nie. Dit is ’n lied dié, ’n pryslied wat met blye galme gesing word. Hier sing jy oor die blye, bevrydende wete dat jy nie op presidente en ministers, LUR’s of wat ook al hoef te vertrou nie. Hulle asem is korter as wat hulle in hul grootheidswaan mag dink. Jy sing want hierdie manne en vroue se slegte planne word gefnuik deur die Een wat na sy kinders omsien. Ja, jy sing oor die goeie God van jou vaders en hul vaders. Jy sing oor jou hoop vir die toekoms wat op Hom alleen gebou word, omdat jy reeds iets van sy mag en krag gesien het. Maar veral ook omdat jy Sy geskiedenis met jou en jou mense ken. Jou lied gaan oor Sy goedheid vir hulle wat sukkel en wat swaarkry. Jy sing vir hulle wat geen ander uitweg as Hy het nie. Wat opgesluit en afgestomp leef omdat die lewe sy rug vir hulle gedraai het. Nou sing jy omdat Hy sy oog op hulle gerig hou en Sy hand styf om hulle vou. Jy sing dit alles met blye galme as jy een van hulle is, en jy sing met ingetoë dankbaarheid as jy een van die gelukkiges is wat sulke swaarkry gespaar is.Jy sing omdat jy dankbaar is dat die goddeloses se invloed teëgewerk word deur die Here se troue sorg. Jy sing want jy sit vanoggend in hierdie kerkgebou sonder om aan ’n ventilator gekoppel te wees en jy kan vrylik asemhaal. Jy sing want jy haal asem.
Jy sing:....
Prys die Heer met blye galme, o my siel, daar’s ryke stof! Ek sal solank ek leef my psalme vrolik toewy aan sy lof.
SLOT
Kom ons sing want die vreugde kers brand vanoggend. Vreugde oor Hom wat kom.
Vreugde oor oor Hom wat in eenvoud Sy eerste asemteug binne die verwarde en stukkende wêreld waarvoor Hy bestem was, gegee het. Ons sing oor Hom wat in ’n voerbak Sy eerste nag deurgebring het. Kom ons sing want ons moeë lywe kry ook ’n eenvoudige veilige lê-plekkie hier aan die einde van die 2022 chaos. Dit was ’n storm- jaar, maar kom laat ons sing....`Kom ons sing vir hulle wie ’n geliefde verloor het. Kom ons sing vir hulle wie hul werk verloor het. Kom ons sing vir hulle wie niemand gehad het om vas te hou nie en vir wie die Here weer ’n pasmaat gegee het. Kom ons sing vir hulle wie se drome aan skerwe lê. En kom ons sing vanoggend vir hulle aan wie weekliks chemo, bestraling en laserbestraling toegedien word. Ons sing vanoggend ook vir haar wie by Kerngeneeskunde tans behandeling ontvang. Kom ons sing teen die woede en die wreedheid, kom ons sing teen die haat en die onsekerheid. Kom ons sing teen bedrog, staat-stroping en selfverryking. Kom ons sing teen die magshonger leiers wie die kind se stem heeltyd wil stilmaak. Kom laat ons sing... omdat HOOP ’n naam het.
SY naam is Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige vader,
Vredevors,
Seun van die mens,
Begin en einde.
Ja die Weg, Waarheid en Lewe,...het ook vir jou vryheid, vrede vreugde en liefde gebring.
....As jy sing, sing omdat HOOP vanoggend teenwoordig is waar jy jouself tans bevind,... hier in hierdie kerkgebou of terwyl jy op jou selfoon of televisie na hierdie erediens kyk... Sing... want HOOP roep jou soos die Betlehem-ster om vir ’n donker wêreld die ware lig te wys .... Die LIG wat nie deur die chaos en duisternis oorweldig sal word nie. Dieselfde Lig wat die donker destyds in my lewe kom oopkloof het. Dieselfde Lig wat ook die donker in jou lewe sal oopkloof. Kom laat ons sing van ’n goeie God, ons Vader. Kom ons sing want wanneer ons, wie weet wanneer, by die drumpel van die hemel staan, sal ons sien... Hy is ’n Goeie God. ’n Getroue God. ’n Beloftehouer. Hou vas tot die Here kom, klou vas tot die Here jou kom haal. Al verstaan jy nie nou nie, vertrou net op Hom. Hou net vas waaraan ons glo. Hy sal jou dra. En moenie ophou sing nie.
AMEN