Levitikus 19: 1-18
Datum: 29 Oktober 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
SKITTER – MAAK DIT JOU LEEFWYSE
INLEIDING
Vandag is die feesgeleentheid om die hervorming in kerkwees te vier wat Martin Luther op 31 Oktober 1517 begin het omdat hy dapper genoeg was om 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker.
Hierdie stellings het gegaan oor probleme wat met die leer en praktyke van die kerk van daardie tyd ondervind is.
Die 95 besware vind uitdrukking in die vier solas soos ons as gereformeerdes dit vandag ken:
- Sola Scriptura – die Woord/Bybel alleen
- Sola Gratia – genade alleen
- Sola Christi – Christus alleen
- Sola Fidé – geloof alleen
Dit kan saamgevat word in die vyfde sola:
- Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer
GEBED
Here, ons bekers is leeg en ons verlang dat u ons weer sal vul!
Ons is swak in die geloof – kom en versterk ons opnuut.
Ons liefde is maar lou – kom Here, en maak ons weer warm....vurig, dat ons liefde sal skitter en uitstraal na hulle naby ons.
Ons geloof is nie sterk nie en dit wankel tog so maklik – ons twyfel soms, en ander kere sukkel ons om op U te vertrou.
O Here, help ons. Sterk ons geloof en vertroue.
In U vind ons ons rykdom. Ons is arm en u is ryk – en U het juis gekom om vir armes U genade uit te deel.
Ons is sondaars, U is regverdig en daarom bly ek aan U sy.
Ons het niks om vir U aan te bied nie.
Ons kan alleen maar van U ontvang.
AMEN (Gebed van Martin Luther : 15dde eeu)
SKRIFLESING
Sola Scriptura
Levitikus 19:1-18
INLEIDING
By ‘n tweejaarlikse fees in Skotland word ‘n katedraal so belig dat dit lyk asof dit van binne na buite “skitter”. Op hierdie foto sien ons die skiterrende katedraal in Glasgow (Skotland) wat deel uitmaak van die “Radiance, Festival of Lights” Fees. Dit het my laat wonder oor ons as gelowiges. Skitter ons vir die Here soos wat gevra word in vers 1? Die woord “heilig” is afgelei van die Hebreeuse woord “skitter” of “blink”. Vers een is God se droom vir sy mense. Skitter want EK skitter.
WAARMEE HET HEILIGHEID, OM TE “SKITTER” TE MAKE?
Om te “skitter”, om heilig te wees, word vanoggend by jou adres afgelaai. Dit is ons wat opgeroep word om heilig te lewe. Dit is ons wat geroep word om in hierdie lewe te “skitter”. Die Heilige God straal 'n verblindende glans uit, God is totaal anders. God vra van ons om totaal anders te lewe. Die woord daarvoor is HEILIG. Binne hierdie konteks beteken ”heilig” NIE om in afsondering te leef nie maar om te “skitter. Die punt is dat die heilige God juis nie "afgesonder" gebly het nie. God se heiligheid weerhou God nie daarvan om die wêreld te betree en God se heerlikheid aan mense te openbaar nie. Wat gebeur met God se mense wat heilig is soos God heilig is? Wat gebeur met mense wat die heerlikheid van God sien en uit hierdie heerlikheid lewe? Die teks spel ons heiligheid as 'n diepe, sosiale betrokkenheid uit.
"Wees heilig" het te doen met:
- Eerbied vir gesagsfigure (3)
- Voldoende rus en 'n fokus op toewyding aan die Here (Sabbat, afgodsbeelde) (3, 4)
- Laat 'n deel van die oes op die land agterbly sodat die armes en die vreemdelinge kan lewe (9-10);
- Moenie steel, bedrieg of ‘n vals eed aflê nie - jaag geregtigheid na (11-12)
- Uitbuiting, roof, onregverdige en onbillike arbeidspraktyke en struikelblokke vir liggaamlik gestremde mense tas die eer van God aan (13-14)
- Hou geregtigheid in die regspraak in stand (15)
- Beskerm jou medemens met woord en daad (16)
- Dink baie prakties oor hoe naasteliefde die verhoudinge tussen jou en jou medemens vorm (17)
Mens sou die lysie nog langer kon maak, na aanleiding van die res van die hoofstuk. Vriende hier ontdek ons dat God se skitterende mense oop hande het, wat moeite doen met hulle interpersoonlike verhoudings. Heilige mense is mense wat anders onder mekaar en anders in die groter wêreld van die samelewing lewe. God se volk dóén anders, want hulle het die heerlikheid van God gesien.
Heiligheid trek ons nie in 'n dieper, geïsoleerde binnekamer-verhouding met God in waar ons bloot diep geestelike belewenisse met God het nie. Dit óók ja. Maar heiligheid stuur ons ook die wêreld in, waar ons anders lewe. Heiligheid laat ons die risiko loop om ons geloof in die openbare lewe uit te leef. Dit raak enersyds ons indiwiduele lewe. Dit raak andersyds ook die inisiatiewe wat ons as ‘n gemeente neem om 'n heilige teenwoordigheid in die wêreld te handhaaf.
IS ONS IN STAAT OM TE SKITTER?
Dit laat my dink aan die navorsing oor gedrag van bobbejane en of hierdie diere ander gedrag kan aanleer. Bobbejane kan nie ‘n vuis oopmaak wanneer hulle aan iets vasklou nie. Hul gulsigheid neem die oorhand. Maar wanneer die hand oopgemaak word kan dit uit die bottel getrek word en almal kan daaraan deel. Dalk kan ons ook iets hieruit leer.
Die dag wanneer jy jou hande oopmaak begin jy skitter.
Die dag wanneer jy nie meer krampagtig vasklou aan jou wêreldjie en jou goed nie begin jy “skitter”. Die dag wanneer jy jou geloof ernstig BEGIN opneem begin jy skitter. Vriende...daardie dag wanneer jy die moed het om vreesloos, in geloof, die wolk van misterie binne te gaan, gaan jy in die sentrum liefde kry. Liefde wat jou hande oopmaak. Liefde wat jou laat “skitter”. Daardie dag sal jy besef dat ALLES oor God gaan.
Dit is liefde wat jou nie allerlei geestelike toertjies laat doen nie. Liefde waar skynheiligheid geen plek het nie. Skitterende liefde wat maak dat Levitikus 19 nie ’n las is nie, maar ons strewe om skitterende mense te word. Ware spieëlbeelde van ons skitterende God en ’n lig vir medemense wat ook geroep is om te skitter.
SLOT
Gelowiges “skitter” die lig en liefde wat God eerstens in hulle lewens belig teenoor ander. As jy vanoggend met klemmende hande in hierdie kerkgebou sit en bang is om te laat gaan, wil ek jou uitnooi om God te vertrou. Moenie bang wees dat jy gaan verloor nie. Stap vreesloos daardie wolk van misterie binne en ontdek die liefde wat jou hande oopmaak en laat skitter in die wete ALLES gaan oor God.
GOD Sê: SKITTER, WANT EK SKITTER
WEES ‘N LIDMAAT VAN DE EIKE WAT SKITTER
AMEN