FIL. 4:2-9

Datum: 12 Desember 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

 

1 Inleiding

Die derde Sondag in Advent word gekenmerk deur vreugde. Filippense 4 is waarskynlik een van die bekendste en mooiste blydskaptekste tot ons beskikking.

 

Dit is tog jammer dat spanning binne ‘n gemeente hierdie vreugde steel. Euodia en Sintige is in mekaar se hare en ek kan my net voorstel watter ongemaklike atmosfeer dit in die Philippi gemeente veroorsaak. Die atmosfeer kan met ‘n mes gesny word en almal loop draaie rondom die twee vroue wie hulle naels vir mekaar wys. “Kan die koninkryk van die Here in so ‘n gemeente kom?” : Vra ek myself af. Daarom praat Paulus die twee vroue aan omrede die bediening skade lei as gevolg van hulle onmin tussen mekaar.

Vriende, so ‘n situasie kan onuithoudbaar word wanneer mense heeltyd in mekaar se hare is. Baie van ons word soms kort van draad en vind fout met alles en almal rondom ons. En gooi ‘n skeut COVID gif ook in die “mix” en jy het ‘n resep vir hel wat losbars tussen pasmaats en binne gesinne. Die huis word ‘n oorlog-sone. Die afgelope jaar het ek baie van my tyd aan huwelikspastoraat afgestaan. Daarom is hierdie nie bangmaakstories nie. Dit is die werklikheid.

Dit laat my dink aan oom Dries van Roedtan wat by die dokter gaan aan aanklop het om hulp: "Dok ek is moeg. Ek slaap sleg. Ek kry 'n boep. Ek sweet. Ek voel hoe swak my handdruk raak. En die tannie kla oor ek so iesegrimmig is. Het jy nie 'n vitamientjie of 'n boester om my weer 'n bietjie oemf te gee nie?"

 

Dalk het ons almal hier teen die einde van die jaar ’n “booster” nodig om ons weer ’n bietjie oemf te gee.

 

Carina sê juis nou die dag vir my dat sy weier om my as passasier in haar motor te hê omrede ek te veel opmerkings en aanmerkings maak. Ag nee wat jy oordryf, sê ek vir my ribbebeentjie. O. ja, kom ek vertel jou hoe klink dit in my ore wanneer ek bestuur, sê sy vir my: "Wie in die lewe leer mense so bestuur? Ek sal nog 'n beroerte kry in hierdie kar! Kyk daai mens. Wil hy ry of wil hy piekniek hou aan hierdie kant van die robot? Hy kon al vier keer anderkant gewees het. En kyk daai imbesiel! Sal hy nou wraggies hier probeer indruk? Lovey, lê op die toetter! Vandag is die dag dat ek 'n taxi se agterent vol Ford laai!"

 

Ek moes my kop in skaamte laat sak en besef dat ek ook vanoggend ’n “booster” soos oom Dries nodig het. Ek moet ’n Pil sluk. Die GOS...PIL!

2 WEES VOL BLYDSKAP EN VREUGDE

Ja, vriende Paulus praat nie net met die lidmate in Philippi gemeente nie.  Ons sit ook in die gehoor. Goed gelowige christenmense wie nie vingers na Euodia en Sintige kan wys nie.

 

Ons word vanoggend gevra om in alle omstandighede met vreugde en blydskap te leef. Of dit nou goed gaan en of ons wiele heeltemal afkom, ons moet heeltyd bly wees in die Here. Hoekom? Hoekom moet ons bly wees? Want die Here se tweede koms is naby! Ons kan nie maar leef, dink en doen soos ons dit goed vind nie. Ons moet leef in die wete dat die Here naby is. Dít moet die deurslag gee ten opsigte van elke ding wat ’n Christen is, dink, sê en doen. Daardie wete dat Jesus naby is moet soos ‘n vuur in my daaglikse lewe brand. Jesus se tweede koms gee my moed om voort te gaan en dit bied troos midde-in ons lyding. Paulus skryf hierdie woorde terwyl hy in die tronk opgesluit is. Dit is verseker nie van die beste omstandighede om jouself in te bevind nie. Nogtans is Paulus bly in die Here want die Here is naby. En hierdie teenwoordigheid van die Here behoort ook die gemeente se gedrag teenoor mekaar te bepaal.

Die vraag is: Stempel die Here se nabyheid ook ons denke, woorde en dade? Kan ons ook werklik hierdie punte in ons eie lewe waar maak? Die rede waarom ek hierdie vraag vra is dat ek dink dat meeste mense opgewonde is om hemel toe te gaan, maar ons alledaagse gedrag getuig nie daarvan nie.

3 HOE GAAN ONS DIT REGKRY OM VOL BLYDSKAP EN VREUGDE TE LEEF?

Hoe gaan ons dit regkry sodat die vrede van God wag hou oor ons denke, woorde en dade?

 

  1. Gebed en danksegging. Sodat die Here totale beheer oor my lewe het en dat ek Hom met my lewe vertrou. Moenie sit en tob of jou bekommer nie. Praat met die Here daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. En sê vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel.

 

  1. Om my denke doelbewus met goeie opbouende gedagtes te vul. Gedagtes wat geloofwaardig, prysenswaardig en inspirerend is. Dit sal keer dat jou emosies met jou weghardloop. Daar is ’n Engelse sêding: “Rubbish in, Rubbish Out.” Pasop daarvoor! Maak seker waarmee jy jou denke en gedagtes vul. Vermy mense wat jou denke besoedel. Hou jouself besig met dinge wat die moeite werd is en wat die Here in ’n goeie lig stel.

 

  1. Om die goeie nuus in praktyk toe te pas. Ons moet prakties word en behoort nie die goeie net te hoor nie. Hierdie boodskap van vanoggend moet geleef word soos wat Paulus en sy volgelinge dit geleef en geleer het. Paulus stel die voorbeeld. Wat ons Paulus sien, hoor en doen, moet ons ook sê, hoor en doen. Die Here sal ons nie los nie. Hy sal by ons bly. By Hom kan ons veilig voel propvol vreugde en blydskap.

4 SLOT

Wanneer ons hierdie drie dinge noukeurig navolg gaan ons vreugde en blydskap deur die teenwoordigheid van God se vrede beleef.

  • Jesus is naby.
  • Verhoed “rubbish in, rubbish out”
  • Moenie net hoor nie, doen!

 

Dit is die PIL wat ons nodig het. Die GOS...PIL. Die goeie nuus en NIE FOP-NUUS nie.

Amen