Matteus 1: 18-25

Datum: 13 Mei 2018 (Oggenddiens)

Prediker: Jandré Viljoen

Was jy al ooit in ‘n restaurant en as jy by die huis kom, die restaurant aan jou klere ruik?  Was  jy dalk al by ‘n hospitaal en later by die huis, ruik jy die hospitaal aan jou klere?  Die wêreld bestaan uit verskillende reuke.  Hoe bewus is ons van hierdie reuke?

Jesus se bediening, op aarde, het baie van hierdie reuke verteenwoordig.  Tydens sy geboorte lees ons van Jesus wat in ‘n stal gebore is – miskien sou die lappe waarmee Jesus toegedraai was, ‘n plaas reuk aangehad het.  Ons lees verder van geskenke wat Jesus ontvang het – wierook en mirre.

Later met die kies van Jesus se dissipels, raak ons ook bewus van die reuk van vissermanne – Petrus en sy broer.  Ons kan die hele oggend bewus raak van hierdie reuke wat in Jesus se kleure ingetrek het.

Die mooi van hierdie reuk-motief / sintuiglike motief, is dat dit inherent iets sê van Jesus se naam – Immanuel.  God met ons.  Want deur hierdie sintuiglike bewustheid raak ons diep bewus van Jesus wat sy naam geleef het – Jesus wat die belofte van “God met ons” kom leef het.

Jesus leef sy naam

Tydens Jesus se geboorte word daar aan die wêreld geopenbaar dat Jesus sal bekendstaan as “Immanuel,” God met ons.  ‘n Openbaring wat ‘n werklike betekenis geraak het vir menigte om Jesus.  Die Bybel vertel van baie narratiewe van Jesus se aktiewe Goddelike betrokkenheid in die wêreld.

Hierdie betekenis van God se naam sê iets van ‘n God wat interaktief wil deel neem aan individue, gemeenskappe, families, en nasies.

Die Griekse woorde / sinskonstruksie wat hier gebruik word, is baie sterk en gee uitdrukking tot die sterkste vorm van “met” – God “met” ons.  Dit is nie net ‘n “met” ons nie, maar  ‘n baie sterk gemeentskaplike “saam met” julle.

Dit sê iets van ‘n God wat saam met ons beweeg, huil, lag, wonder, pyn ervaar, ens.  Dit sê iets van ‘n God waaraan ek kan vat.

Ek lees in een van Charles Spurgeon se preke as hy verwys na “Immanuel” as God wat elke dag saam met ons deelneem aan ons Pelgrimstogte.

Hierdie “Immanuel – God met ons” het letterlik die betekenis van sy naam so geleef dat hy die reuke van die wêreld aangeneem het.  Jesus was so naby aan gewone mense dat die reuke van daardie gewone mense in sy kleure ingetrek het.

Jesus neem die wêreld se reuk aan.

Die reuk van gewone mense.  As jy deur die evangelies blaai dan kan jy nie anders as om te lees wat hierdie reuke sou wees nie.

In Matteus 2: 13 lees ons hoe Jesus die reuk van ‘n arm donkie in sy klere gehad het.  Ons lees hoe Jesus saam met sy ouers, op die rug van ‘n donkie, moes vlug vir sy eie lewe na Egipte.

Matteus 4 vertel ons hoe Jesus waarskynlik die reuk van sand aan sy klere gehad het.  Ons lees hoe Jesus self beproef was en hoe hy self geworstel het in sy lang tyd in die woestyn.

In Matteus 5 lees ons hoe Jesus verwys na metafore van sout en hoe Jesus die reuk van vis aan sy klere gehad het.  Hoekom, want sy dissipels was vissermanne.  Jesus het tyd spandeer saam met gewone vissermanne – dissipels.

Matteus 8 vertel ook van Jesus wat ‘n melaatse man genees het.  Sy klere het waarskynlik die reuk van ‘n siek man aangehad.  ‘n Regte “Betadien” reuk.

Ons kan later in Matteus 26 ook lees hoe Jesus se klere die reuk van brood en wyn opgehad het.  ‘n Voorbeeld van gasvryheid en sterk warm liefde.  So kan ons al die evangelies deur werk en bewus raak van die reuk wat Jesus se klere aangeneem het.

Ons kan hieruit sien dat Jesus verskillende reuke aan sy klere moes dra.  Hierdie verskillende reuke vertel vir ons dat Jesus letterlik tussen gewone mense beweeg het en sodoende die reuke aangeneem het van gewone mense.  ‘n Nederige gebaar as jy dink aan die konsep “Imanuel – God met ons.

Pierre du Plessis verwys na hierdie reuk gedagte as Jesus wat ruik na hulle wat buite die kring staan.  Jesus ruik na die mense wat hom nodig gehad het.  Jesus kom so naby aan hierdie mense dat hul reuke aan sy lyf afsmeer.

In ‘n moderne konteks sou hierdie reuke iets weergee van ‘n Sopkombuis, die ICU, Houtbaai se vissers skepe, die shelter in Bellville, Sonop by Stikland, ens.

Ek kan onthou hoe ons by Stikland prakties gedoen het in my Jeugwerk opleiding.  Op daardie spesifieke dag toe ons daar was toe ruik ek hondekos.  Ek het later eers agtergekom dat daar naby Stikland ‘n fabriek is wat hondekos maak.  Daar is ‘n spesifieke plek op die N1 wat ek daardie reuk kry en as ek dit ruik dan dink ek aan die mense in Stikland.

Miskien nooi Jesus ons vandag uit om die reuke aan te neem van gewone mense.  Die mense wat buite ons kringe staan.  Dit is egter ‘n duidelike opdrag as jy dink aan die laaste opdrag in die Bybel.

Jesus gee ons ‘n duidelike opdrag

Aan die einde van Matteus 28 kry ons ‘n duidelike boodskap van Jesus as Hy die volgende woorde gebruik:

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Weer kry ons hierdie gedagte van God wat by ons is, maar wat belangrik is, is die opdrag aan die begin van hierdie sin, “Gaan dan na al die nasies toe…”  Ek wonder of Jesus ons nie uitnooi om hierdie Immanuel gedagte te leef nie.  Ek wonder of Jesus ons regtig nie uitnooi om God se teenwoordigheid aan die res van die wêreld uit te leef nie?

Dit is asof Jesus vir ons sê, “Gaan wees my aktiewe betrokkenheid in die wêreld.”  Gaan raak so betrokke by gewone mense dat die reuke van hul kleure afspoel op jou.  Vir dit om egter ‘n werklikheid te word gaan ons, soos Jesus, die wêreld se reuke moet aanneem.

Reuke waaraan ek kan dink is…

  • Koffie – ‘n Pastorale koffie reuk van ‘n vriend of vriendin wat luister na ‘n ander een se hartseer.
  • Spur se R29 ontbyt – ‘n Eenvoudige goedkoop ontbyt vir iemand wat regtig honger is.
  • ‘n Sopkombuis reuk
  • ‘n Checkers reuk – die neem van ‘n ouer oom of tannie na die winkel toe, want hy / sy kan nie self ry nie.
  • ‘n Gras reuk – die sny van iemand se gras.
  • ‘n Kosblik reuk – gee vir iemand ‘n kosblik skool toe wat nie een het nie.

Daar is soveel reuke wat ons kleure kan aanneem.  Ons moet dit net doen.  Ons moet elke dag aktief Jesus se betrokkenheid uitleef.

 Ten slotte

Ek verstaan God se aktiewe betrokkenheid as gewone dade deur gewone mense aan ander gewone mense.  Kom ons kyk na die volgende videogreep:

“Coffee shop making a difference”

Dit is so besonders om te sien hoe ander mense dink oor liefde.

Ek moet nou dit ook vir julle sê.  Ek sien alreeds so baie mense in De Eike wat dit doen:

  • Laas Sondag se stap vir Zané was al klaar so ‘n inspirasie.
  • Die kospakkie projek by Laerskool Mikro.
  • Die sopkombuis
  • Laas jaar se Nuwerust uitreik.

Dit is hierdie gewone aksies, deur gewone mense aan gewone mense, wat God se aktiewe betrokkenheid voortsit.

Kom ons hou aan daarmee…

Amen.