Kolossense 3:15–17
Datum: 16 November 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Dink vir ’n oomblik aan ’n koor. Wanneer hulle op hulle eie begin sing, klink dit aanvanklik dalk deurmekaar, uit ritme of selfs uit harmonie, totdat die dirigent sy hand oplig. Skielik kom daar eenheid, een toonhoogte, een ritme. Hulle sing nie almal dieselfde noot nie, maar hulle is ingestem op dieselfde grondtoon. Dít is wat vrede beteken. Nie dat almal dieselfde dink of voel nie, maar dat almal ingestem is op dieselfde Koning.
Paulus beskryf dit pragtig in Kolossense 3:15: “En laat die vrede van Christus in julle harte regeer, want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep.”
Ons dink dikwels aan vrede as ’n gevoel, daardie kalm, rustige stilte in jou gemoed. Maar Paulus gebruik hier ’n ander beeld: “Laat die vrede van Christus regeer.”
Die Griekse woord beteken letterlik “om as skeidsregter op te tree”. Met ander woorde, Christus se vrede moet die beslissende gesag wees wat beheer, beslis, en leiding gee.
Christus se vrede is nie die stilte ná ’n storm nie; dit is die sekerheid in die storm dat Hy steeds op die troon sit.
Wanneer Christus se vrede in ons harte heers, vloei iets natuurlik daaruit voort: dankbaarheid. “Wees dankbaar,” sê Paulus eenvoudig in vers 15.
’n Hart vol vrede is altyd ’n hart vol dank. Dankbaarheid is die taal van mense wat weet: God is in beheer, al verstaan ek nie alles nie. Dit is die gesindheid van iemand wat nie fokus op wat ontbreek nie, maar op Wie teenwoordig is. In ’n wêreld vol onrus, word ’n dankbare gelowige ’n ligstraal van hoop. Want jou dankbaarheid wys dat Christus se vrede jou anker is — nie jou omstandighede nie.
Paulus skryf nie net aan individue nie, maar aan die gemeente. Hy sê: “Julle is tot vrede geroep as lede van een liggaam.” Die vrede van Christus is dus nie iets wat net in jou eie binnekamer moet leef nie; dit moet sigbaar word in hoe ons saamleef, saamwerk, saam aanbid.
Wanneer Christus se vrede regeer in ’n gemeente, gebeur daar iets besonders:
Ons begin mekaar se verskille met genade hanteer. Ons gee mekaar ruimte om te groei.
Ons dien mekaar met liefde. So word die kerk, ons s gemeente, self ’n getuienis van God se vrede aan die wêreld.
Dalk voel jou lewe soos daardie koor voor die dirigent intree — uit pas, deurmekaar, sonder harmonie. Maar hoor vandag die uitnodiging van Kolossense 3:15: Laat die vrede van Christus regeer. Laat Hy die dirigent wees wat jou lewe se toon bepaal. Laat sy vrede jou gedagtes anker, sy Woord jou vul, en sy dankbaarheid jou dra. As gemeente, laat ons saam die lied van Christus se vrede sing. Nie almal op dieselfde noot nie, maar almal op dieselfde toonhoogte:
Christus is ons vrede. Hy regeer in ons harte.

