Romeine 1:1-7
Datum: 22 Desember 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Onthou jy nog onthou waar ons vanjaar se Adventtyd begin het? Dit was met ‘n kinderdiens. Oor die betekenis van Kersfees. Onthou jy? Die ware Kersfees het ‘n bietjie anders gelyk as die romantiese kerskaartjie-prentjie waaraan ons gewoond geraak het. Die ware Kersfees het bietjie anders verloop, en hoe meer ons daarvan verstaan hoe meer kom ons agter wie die babatjie in die krip eintlik is...
Persoonlik glo ek ons leer met Kersfees die ware Jesus ken, soos nêrens anders in die Bybel nie. Wanneer jy daardie brose, hulpelose babatjie sien, wat nêrens in Betlehem welkom was nie, begin jy iets verstaan van wie Jesus eintlik is. Begin jy die hart van Jesus raaksien... Om die waarheid te sê, ek het al dikwels gedink: as ons net die Kersverhaal in ons Bybels gehad het, sou ons al vir Jesus tot ‘n groot mate net daaruit kon ken...
Natuurlik leer ken jy Hom uit ander dele ook. Natuurlik help die bergrede jou verstaan wat Hy hier kom maak het, en die gebeure van die Paasnaweek laat jou iets verstaan van hóé lief Hy ons het. Die hemelvaart laat ons die omvang van sy finale triomf besef, en dan leer ons Hom natuurlik in Openbaring op ‘n héél ander manier ken as die Koning en Regter wat in heerlikheid terugkeer.
Maar as jy regtig wil weet wie Jesus is, glo ek Kersfees is die plek om te gaan kyk: “Hy, wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” En as jy dit begin raaksien, begin jy ‘n bietjie anders dink oor Kersfees.
Maar nou is nie net vir Jesus wat jy in Kersfees werklik leer ken nie. Kersfees help my en jou ook om onsself regtig te leer ken...
- Wie is jy regtig?
Want wie is jy regtig? Paulus ag hierdie vraag so belangrik dat hy sy brief daarmee begin. Voor hy nog begin praat oor al die groot wonder van God se genade, vra Paulus eerste van alles hierdie lewensbelangrike vraag. Hy begin: Hierdie brief kom van Paulus. Maar wie is Paulus regtig?
Wie is Paulus? Paulus sou vir seker baie goed oor homself kon sê. Onthou jy hoe het hy eenmaal gespot oor die valse leraars wat so op hulleself roem. Toe het hy vir die Fillipense gesê: “Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik” (Filippense 3:4-6). Jy het reg gehoor - onberispelik... Ek kom uit die elite-stam van Israel. ‘n Klein stammetjie, maar met eindelose leierskapspotesiaal. Ek het in ‘n baie goeie huis grootgeword, streng volgens die wet grootgemaak. ‘n Volbloed-Jood kan jy maar sê, afstammeling van Abraham self. En niemand het die Here met meer toewyding en ywer as ek gedien nie.
Maar nou sê Paulus niks daarvan nie. “Ek is begenadig”, sê hy. “Ek is ‘n Gestuurde...”
Die dag langs die Damaskuspad het Paulus se lewe nie net verander nie. Daardie dag toe Paulus die opgestane Here Jesus ontmoet het, daardie dag het hy self verander. Alles wat daarna anders. Van toe af het hy ‘n nuwe identiteit gedra. In ‘n oomblik, het alles anders weggeval. Hy het besef hoe waardeloos dit regtig is. Hy was nie meer Paulus, die spog-gelowige nie. Hy is nou net ‘n getuie. Dis al. Sy hele lewe draai daarom. Niks anders tel regtig vir hom meer ‘n punt nie.
- En jy?
Wat my by die eintlike vraag van Kersfees bring: Wat van jou – wie is jy regtig? Sê nou maar jy moes vanoggend hier opstaan en jouself bekend stel. Wat sou jy sê? Wie is jy? Wat kom eerste by jou op, as jy jouself moet voorstel vanoggend?
Dalk was die Here vir jou ook baie goed. En het jy oor die jare ‘n baie indrukwekkende CV vir jouself opgebou. Jy sou dalk ook heelwat te sê kom hê oor jouself. Jy sou dalk kon begin by die gelowige huis waarin jy grootgeword het. Die wonderlike skool wat jy bygewoon het, die goeie kwalifikasies wat jy gekry het. Die erkenning wat jy deur harde werk in jou loopbaan verdien het, jou status as ‘n leier van mense. Maar dalk is jy ook ‘n gesoute lidmaat van die kerk, wie se plek nog nooit leeg was nie en sonder wie die gemeente baie armer sou gewees het....
Maar het jy al verstaan dat dit alles wegval langs die krip in Betlehem? Daar kniel Skaapwagters en wyse manne op gelyke voet saam; daar maak nie saak wie jy is en wat jy al bereik het nie. Want Kersfees is vir kinders...
- Kersfees is vir kinders.
Dis wat iemand die afgelope week geskrywe het: “Kersfees is vir kinders”. En hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek hoe waar dit is. Dís waaroor dit gaan. Want die wonder van Kersfees gaan by grootmense verby. Jy kan nou een maal nie uit die hoogte na die babatjie op die krip kyk en sien wie Hy is nie. Dan gaan die wonder by jou verby. Nee, jy moet as’t ware op jou tone staan, en moeisaam net-net oor die rand van die krip loer. Eers dan gaan jy die wonder raaksien.
Ons wat grootmense is, het onsself wysgemaak dat Kersfees oor baie goeters gaan, goed wat glad nie daar by die krip ‘n rol speel nie. Ons het besluit dat Kersfees gaan oor geld uitgee, oor chaotiese laaste inkopiedae vir die perfekte geskenk in die winkelsentrums. Ons het onsself oortuig dat die gaan oor die samesyn, oor kleinkinders wat ‘n slag kom kuier. Oor rustige lui-lekker dae by die see. En so het ons stelselmatig die punt net al meer gemis. En in die dolle gejaag wat ons daarvan gemaak het, die wonder van Kersfees grootliks verloor.
Maar as jy dalk bevoorreg is om ‘n kleinkind by jou te hê oor die Kerstyd, hou hom of haar tog ongemerk ‘n bietjie dop terwyl hy groot-oog luister na die verhaal van die herders en die engele. En kyk hoe lyk verwondering oor die babatjie wat na ons wêreld toe gekom het om alles te kom verander. Ook vir my en ook vir jou. En dis presies dan wat Kersfees jou kom vra: wie is jy? Want jou antwoord daarop gaan bepaal wat Kersfees 2019 vir jou gaan beteken.
Die Here nooi jou om ‘n slag al die grootmens-laste van jou skouers af te laat val as jy saam met die herders naderstaan om oor die krip se rand te loer. Laat beurtkrag en die ekonomiese druk en die verregaande politieke uitsprake van populiste van jou wegval. Want “Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg”; of in NT terme: “Want so liefhet God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het...”
En as dit nie in verwondering jou asem wegslaan nie, is ek bevrees sal niks nie...
Amen