1 Petrus 1:17-23
Datum: 3 Mei 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Skriflesing: 1 Petrus 1:17-23.
17Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.
18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie.
19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.
20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.
21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.
22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
24Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos ’n veldblom; die gras verdor en die blom val af,
25maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.” En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.
Omtrent elke keer wat die telefoon die afgelope paar weke gelui het, het die gesprek begin met: “Dis darem vreemde omstandighede hierdie”. En dit ís. Ons voel heeltyd ongemaklik en ontuis. Ons ken dit nie want niemand van ons het al ooit so iets ervaar nie. En daarom weet ons ook nie lekker wat om daarmee te maak nie. En daarby raak dit raak nou nogal regtig lank. En Fase 4 klink goed en wel, maar dit het eintlik bitter min aan my lewe verander. Die onsekerheid is maar nog net dieselfde, en ek is nog net so ingehok soos verlede week dié tyd. Dis geen wonder ons begin voel na vyf weke nou regtig die spanning opbou nie. Dit begin ons vang. Dis inderdaad net sulke vreemde omstandighede...
Dit laat voel my dis vir ons wat Petrus hier skrywe. As hy hierdie brief begin met die woorde: “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld”, kon hy net sowel gesê het: “aan God se kinders wat in isolasie woon tydens die Grendeltyd...” Want hierdie boodskap is vir jóú. In jou vreemde omstandighede...
- ‘n Brief vir vreemdelinge
“Julle is vreemdelinge” is omtrent die heel eerste ding wat Petrus vir sy lesers sê, al in vers 1. Hy herinner sy lesers daaraan dat dit nie hulle plek hierdie is nie, en dat hulle daarom nooit regtig hier tuis en ingeburger kan raak nie. Ons gaan nooit hier inpas en verdwyn in die massa nie. Nee, ons is anders. Ons is anders sê hy, omdat ons uitverkies is. Baie lank voor jou geboorte het God jou vooraf bestem om verlos te word deur sy Seun Jesus Christus. Dit was al die pad sy plan met jou, baie lank voordat jy nog eers daarvan geweet het.
En dit maak jou anders. Jy het ‘n unieke identiteit, en daarom gaan jy ook anders lewe as die nie-gelowiges. Hulle hele lewe draai net om hulleself, maar jou lewe moet ‘n loflied wees, sê Petrus. Jy is na alles uit genade verlos en God het jou ‘n nuwe bestemming gegee, so wonderlik dat jy dit eintlik met net een woord kan begin beskrywe, en dis die woord “saligheid”. Dis waarvan die Hebreërskrywer ook praat as hy sê ons is soos mense op reis. Dis nie ons tuiste dié nie; ons gaan net hierdeur. Ons stap in die stofpaaie van hierdie wêreld, dikwels uitgeput en half moedeloos, maar as ons net ‘n slag opkyk, kan ons reeds in die verte die beloofde stad sien waarheen ons op pad is. Julle is anders, sê Petrus, en julle het ‘n anderse bestemming.
- Die “Lockdown”
En dis goed dat Petrus ons vanoggend daaraan herinner, as die omstandighede ons bietjie begin onderkry. As jy dalk teen die tyd ook al so vasgevang in jou omstandighede, so vasgekeer in jou huis voel, dat jy sukkel om op te kyk. Dat jy die stad waarheen jy op pad is, so ‘n bietjie uit die oog verloor het. Dalk sukkel jy om verby hierdie grendeltyd gekyk te kry, asof dit ons hele bestaan geword het.
Liewe vreemdeling, jy moet bly wees, skryf Petrus, want jy het ‘n Vader in die hemel! Jy het al klaar deel aan die saligheid, want Jesus het jou vrygekoop. Jy is nóú reeds God se kind, en jou Vader aanvaar volle verantwoordelikheid vir jou op hierdie lewensreis van jou. Jy loop hierdie pad nie alleen nie.
Daarom moet julle nou kophou, sê Petrus. Sy presiese woorde is: Wees verstandelik wakker en nugter. Moenie nou kop verloor en die pad byster raak nie. Moenie nou begin vergeet wie jy is, en wat jou getuienis is nie. Moenie nou begin lyk en klink soos die samelewing om jou nie. Moenie jou identiteit verloor nie. “Wees heilig”, sê Petrus.
Wat vra die Here dan van ons, in die Grendeltyd? Wat moet ons as vreemdelinge nou doen? Twee goed, wat op die ou end ook eintlik maar net een ding is.
Die eerste is: Lewe in eerbied vir die Here. Ek glo nogal een van die redes hoekom die Here hierdie nagmerrie oor ons laat kom het, is om ons kans te gee om net ‘n bietjie tot rus te kom, en weer ‘n slag by Hom uit te kom. Jy het mos nooit tyd nie. Ons is net te besig. Maar hierdie is ‘n unieke geleentheid vir ‘n ontmoeting met God. Word weer ‘n slag stil by God, delf in sy Woord, praat weer met Hom en sit jou lewe en die pad vorentoe aan sy voete neer. Gaan sit iewers met jou oop Bybel, en erken Hom vir wie Hy is. Hy is die Here en Hy is in beheer.
Laat die wêreld sien dat jy lewe in eerbied vir die Here. Wys jou eerbied vir die Here ook in die manier waarop jy hierdie omstandighede hanteer waaroor jy geen beheer het nie. Laat die mense by jou sien en hoor dat jy ‘n Vader in die hemel het, wat sorg.
En die tweede opdrag, wat eintlik maar deel van die eerste is, lewe in liefde. Daar is dalk nie nou baie mense om jou wat jy kan lief hê nie. Dalk is jy selfs heeltemal alleen in jou blyplek. Maar jy kan mos bid, en jy kan mos bel. Of dalk is jy gelukkig genoeg om jou maat by jou te hê. Dis erg dat hulle voorspel dat egskeidings na die grendeltyd vir ‘n ruk dramaties gaan toeneem. Dat mense nie nader aan mekaar gaan groei, en mekaar weer herontdek en hulle verhouding verdiep nie, maar dat hulle mekaar só gaan irriteer in hierdie tyd dat dit hulle verhouding finaal vernietig.
Maar gelukkig is jy mos ‘n vreemdeling. Jy is mos anders. Hierdie is ‘n Godgegewe geleentheid om weer te leer om in mekaar se oë te kyk, en te gesels met mekaar, om ‘n slag te hoor wat gaan in die ander een se hart aan. Sodat jou verhouding nie hierna in die skeihof gaan eindig nie, maar versterk hier gaan uitkom. Moenie hierdie kans verspeel nie. Moenie die kans verspeel om met jou kinders te gesels en te kuier, en te speel nie. Jy het nou die kans. Praat met hulle oor húlle goedjies, en praat met hulle oor die Here.
Nou is ons blykbaar in Fase Vier. Wat klink my dalk vir rokers goeie nuus is, maar self sien ek min verskil. Maar weet jy, uiteindelik gaan Fase Een ook aanbreek, en een mooi dag gaan alles verby wees. Dan gaan ons hopelik nooit weer in huisarres wees nie. Daarom moet jy hierdie tyd benut. Maak iets positiefs daarvan in jou geestelike lewe, en in jou huis. ‘n Nuwe begin. Dis net jy wat daardie keuse kan maak...
AMEN