Johannes 14:1-14

Datum: 3 Mei 2026 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Daar is min dinge so ontstellend soos afskeid. Dit is wanneer jy voel: dinge gaan nie weer dieselfde wees nie. Wanneer jy bewus raak dat jy nie beheer het oor wat voorlê nie. Wanneer vrae begin opkom wat jy nie kan beantwoord nie: Wat nou? Waarheen nou? Afskeid ontbloot ons kwesbaarheid. Dit wys vir ons hoe min ons eintlik beheer het oor die lewe.

 

Johannes hoofstuk 13–17 staan bekend as Jesus se Afskeidswoorde.  Jesus het die dissipels se voete gewas. Judas is reeds weg. Die dissipels verstaan dit nog nie ten volle nie, maar hulle wêreld gaan binnekort inmekaar val. Alles waarop hulle hulle hoop gebou het, lyk of dit gaan verbrokkel. En juis daar, in daardie brose oomblik, sê Jesus: “Moenie dat julle harte ontsteld wees nie.” Dit klink amper vreemd, selfs onrealisties. Hoe sê ’n mens vir iemand wat op die punt staan om alles te verloor: Moenie ontsteld wees nie?

 

Hierdie teks word dikwels ná Paasfees gelees, en dit kan dalk heeltemal vreemd voel. Waarom is ons terug by Jesus se woorde oor sy weggaan wanneer Hy reeds opgestaan het? Waarom hoor ons afskeidswoorde in ’n tyd wat eintlik oor oorwinning en nuwe lewe gaan? Maar dalk is dit juis die punt. Die opstanding beteken nie dat alles net terugkeer na hoe dit was nie. Jesus kom nie net terug om die ou werklikheid te herstel nie. Hy neem sy dissipels na ‘n nuwe realiteit.

 

Die opstanding beteken nie dat al ons vrae beantwoord word nie. Dit beteken dat die Lewende Here by ons is. Dit beteken dat Hy ons intrek in die teenwoordigheid van God. Dat ons lewe versteek is in Hom. Daarom kan ons, selfs in onseker tye, hierdie woorde hoor as ’n lewende belofte: “Moenie dat julle harte ontsteld wees nie.” Nie omdat die lewe eenvoudig is nie. Nie omdat daar nie pyn en verlies sal wees nie. Maar omdat ons behoort. Omdat ons vasgehou word. Omdat die Een wat die weg is, self saam met ons loop.

 

Hy is die weg. Hy is die waarheid. Hy is die lewe. En waar Hy is, is daar vir ons ook plek.