Matteus 22:34-40
Datum: 2 Julie 2017
Prediker: Jandré Viljoen
Hierdie week was een van daardie weke. Dit het nie geruik soos ‘n goeie cappuccino nie. Dit het eerder geruik soos bruin karton bokse en nat verf. Dit was chaos in ons huis hierdie week. Absolute chaos. Dit is eintlik nou nog chaos.
Ons hele huis staan in “storage warehouse” en my ouers se motorhuis. My lewe het hierdie week begin met ‘n bevestiging, verjaarsdag, huweliksherdenking, afsluitings, emosionele kind, en bitter vinnig ge-eskaleer na, “pak my vrou, gooi weg my vrou, en baai Wellington.”
Teen Donderdag middag 17:00 was ek lam, keelvol, en baie emosioneel. Ek het net klaar ons hele huis uit geverf, ‘n paar woorde in my kop ge-uiter, die waentjie gepak en op pad Kaap toe, en toe verskyn my bure aan my, met die woorde “kan ons help”.
Johan en Noeks is ‘n dierbare mense. Hulle het Donderdag middag na werk van Montague Gardens afgery en net in Wellington aangekom. By hul huis aangekom en gesien dat ons besig is om die laaste goedjies op te laai. Ek dink hulle het gesien ons gaan nou huil.
Hulle het my kar weg getrek, hul bakkie ingetrek om die waentjie te hak. Al die laaste goed op hul bakkie gelaai en my deur gery Kaap toe om die laaste goed af te laai. Vir daai oomblik het Matteus 22: 34 – 40 vir my ‘n werklikheid geraak en besef ek dat “liefde lyk soos my bure.”
Matteus kom skilder dan juis hierdie prentjie vanoggend en kom herinner ons dat “liefde lyk soos my buurman.” Matteus kom herinner ons dat, “om jou naaste lief te hê, impliseer die bevordering, beskerming en, indien nodig, die herstel van 'n persoon se waardigheid.” Iets wat die Sadduseërs en Fariseërs nie verstaan het nie. Hoekom nie, want hulle was ‘n klomp geveinsdes – “hypocrites.”
Konteks
Ons vind onsself in ‘n baie konfronterende situasie tussen Jesus en ‘n Sadduseër. ‘n konfrontasie wat al reeds in Matteus 21 begin het. Waaroor het die konfrontasie gegaan, Jesus se gedagte dat jy jou naaste moet lief hê.
Die Sadduseërs en Fariseërs het baie beperkte naburige liefde getoon. Hulle was baie belese. Hulle was Joodse konserwatiewes en het glad nie nuwe idees en gedrag omhels nie. Hulle het geklou aan die gedagte van “ek is veilig in my eie kring en my wette beskerm my.”
Hulle was ‘n klomp groep-georiënteerde persone. Hulle grootste bekommernis was van hul groep. Die welsyn van die groep verseker die welsyn van elke lid van die groep. Self-liefde word dus in liefde vir jou groep opgeneem.
Die konfrontasie lê toe in Jesus wat die grense van liefde en dus ook die blootstelling van die groep / individu uit wil brei. Jesus kom sê in retrospek vir hulle, “make the circle bigger.”
Die Sadduseërs en Fariseërs besef toe die implikasie van wat Jesus sê. Aangesien die buurman as 'n mede-lid van die kultus gemeenskap beskou moet word, moet hy of sy soortgelyke regte, voorregte, ondersteuning en eer geniet. Nie ‘n baie veilige gedagte nie. Die gedagte ontstel hulle toe so baie dat hulle verder verdwyn van die gesprek af. Ons lees letterlik in Matteus 23 hoe die skare kleiner geraak het.
Wat het Jesus daardie dag gedoen? Hy het Moses se oorsponklike wette gebruik - die Sadduseërs en Fariseërs se eie wette – en hulle daarmee gekonfronteer.
Ou Testament-Wette
Die “shema” (opsê van die wette) – Deut. 4-9 / 11: 13-21 / Num 15: 37-41 – was deel van die tempel aanbidding van daardie tyd. Hierdie wette het mans 2 keer ‘n dag opgesê, om hulle gedurig daaraan te herinner.
Jesus het die belangrikheid van Deut. 6: 5 verstaan, daarom het hy dit aangehaal. Hy het verstaan dat ons God so moet liefhê tot die laaste asem uit jou liggaam uitgewurg word. Dit is presies wat die Joodse mans geglo het. Met ander woorde met alles in jou.
So Matteus se opname van hierdie wet, deur Jesus, illustreer dat Jesus geweet het dat die gehoor wat hierna geluister het, bewus sou wees van die belangrikheid van hierdie wet in hulle eie lewens.
Tweede gedeelte van die wet
Die tweede gedeelte van hierdie wet, het egter die gehoor omkant gevang. Jesus kom gebruik dan weer die wet van Moses, Levitikus 19: 18 en kom herinner eintlik vir die slim manne van ‘n baie belangrike instruksie. Sien, hierdie wet van, “jy moet jou naaste liefhê,” is deel van ‘n groter narratief.
Jesus het geweet die wet wat hulle so gou wil aanhaal, omskryf ook ietsie groters. Die hele Levitikus 18-20 draai om die gedrag van mense in ‘n gemeenskap. In hierdie Levitikus teks, word die idee van 'n buurman so omskryf, dat dit almal insluit wat die Jode gewoonlik as buitestaanders beskou het.
Hierdie wet het dus ‘n baie sterk interpersoonlike dimensie wat verwys na my verhouding met die armes, medemens, gehuurde, slawe, blindes, dowes, buurman, ens.
Jesus het geweet waaroor hierdie wette gaan. Die woord “naaste / buurman” kom vyf keer voor in hierdie oorspronklike Levitikus teks en verwys na ‘n intense belang vir gemeenskap verhoudinge. Inteendeel is hierdie woorde in so ‘n vorm in Levitikus geskryf, dat dit God self is wat dit aan Moses sê.
God sluit ook hierdie gedeelte af deur te sê, “Ek is God.” Wat dit inhou vir hierdie wet is, “Wees heilig, want ek is heilig. Wees lief vir ander want ek is lief vir ander.” En Jesus het dit geweet toe hy dit aangehaal het.
Hierdie twee wette was in retrospek ‘n Rabbynse formulering. Dit vra die vraag, “Waar anders sou jou liefde vir jou naaste vandaan kom?” Hierdeur wys Jesus dat jou liefde vir God en jou liefde vir jou naaste ewe belangrik is. Die een is nie groter as die ander een nie. My liefde vir ander moet dan eintlik ‘n refleksie wees van my liefde vir God.
Dubbele liefde-opdrag
Hierdie dubbele opdrag van liefde was ‘n etiese lering deur Jesus. Jesus het hierdeur beklemtoon dat liefde teenoor God loop dus hand-aan-hand met die verhouding tussen my en ander mense.
Hierdie gedeelte som dan die essensie van die evangelie op. Dit som die essensie van die hele Bybel op. Jesus kom sê vir my en jou, “ek kan nie net God liefhê, en nie my naaste nie. Ek kan ook nie my naaste liefhê en nie God nie.”
Liefde is nie ‘n eensydige kortsigtige gedagte nie. Dit is nie ‘n keuse nie, dit is ‘n opdrag. Dit is ‘n lewenstyl. Iets wat my buurman Donderdag kom bevestig het.
Wat hierdie teks vanoggend van ons vra is om ‘n genuine buurman te wees. Al is jou huidige buurman die grootste skerminkel in die wêreld, wees lief vir hom. As jy so kwaad is vir Hom en glad nie met Hom wil praat nie, bid vir Hom. Want soos God ons lief het, moet ons ander liefhê. Dit is ‘n eenvoudige formule.
Ek het hierdie week net weer opnuut besef, daar is geen beter ding as om vir God lief te hê nie. Daar is ook geen beter ding as om mense lief te hê nie. Jesus se liefde was sigbaar aan die kruis, ons het nie ‘n verskoning nie. God het gekies om ons lief te hê.
En vanoggend word hierdie selfde liefdes gebaar ‘n realiteit wanneer Chris klein Lienke Donaldson gaan doop. Dit wat Matteus 22 vir ons kom sê, kom wys God vandag vir ons. God kom verbreed die grense van sy liefde en maak klein Lienke deel van sy gemeenskap.
God is liefde, en omdat Hy liefde is, kom ons gaan wees liefde!