Lukas 1:5-25, 57-80

Datum: 20 November 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ek het altyd gewonder oor alles wat my arme kinders moes bemeester voordat hulle ‘n bestuurderslisensie kan kry. Hoeveel daarvan onthou hulle as hulle agterna met pa se kar die wêreld vol ry? Wie onthou byvoorbeeld dat stopstrate eintlik beteken dat ‘n mens daar moet stop. En dink enige mens ooit weer aan daardie ritueel as jy by die stopstraat stop. Jy moet soveel plekke kyk, dat die kanse baie goed is dat jy eerder die kar sal laat vrek en almal agter jou frustreer – almal wat in elk geval in die eerste plek nooit by die stopstraat wou gestop het nie...

 

Maar alle grappies op ‘n stokkie, onthou jy nog daardie rympie wat hulle moes opsê? Hulle moes links kyk en regs kyk, truspieëltjie dophou, blindekol kyk, en dan nog voor in die pad ook. Ek is seker niemand doen dit ooit weer presies so nie. En toe kom herinner die verhaal van Sagaria my die week weer daaraan. Die verhaal van die seuntjie wat ons ken as Johannes die Doper, die Stem wat roep in die woestyn, maak die pad vir die Here reguit! En al staan ons gewoonlik eerder die tyd van die jaar stil by Maria se lofsang, gaan ons vandag ‘n slag Sagaria se lofsang van naderby bekyk.

 

En toe onthou ek weer die hele ritueeltjie van die leerling-bestuurder. As jy stilhou by die stopstraat, moet jy jou spieëltjie dophou, sodat jy weet wat agter jou is; jy moet links en regs kyk, sodat jy bewus is van die situasie waarin jy jou nou bevind, en jy moet natuurlik vorentoe kyk, sodat jy sal weet waarheen jy op pad is. Maar jy moet balans behou. As jy te veel in jou spieëltjie kyk, of heeltyd rondkyk, is jy ‘n ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur. As jy veilig op die pad wil bly, moet jy net seker maak dat jy nie een van hulle verwaarloos nie.

 

  1. Sagaria moet terug kyk.

Maar nou eers weer terug na Sagaria, en die oorbluffende nuus wat hy die dag in die tempel gekry het. Dit ruk hom ook tot stilstand. En die eerste ding wat Sagaria dan moet doen, is om in sy truspieëltjie te kyk. Want hierdie nuwe babatjie wat die Here vir hom en sy vrou belowe, gebeur nie net ewe skielik nie. Hy is deel van ‘n baie lang pad wat die Here al saam met sy mense stap.  Dit het alles al met Abraham begin, en met die belofte wat God aan hom gemaak het. En alles sedertdien het gewys dat God nooit sy beloftes vergeet nie.

 

God het nooit sy mense vergeet en aan hulleself oorgelaat nie. Wel alles het nie altyd voor die wind gegaan met hulle nie. Daar was die hongersnood wat Josef se mense na Egipte gedryf het; daar was die verdrukking in Egipte en die uitdagende tog deur die woestyn agterna. Daar was die stryd om die nuwe land te verower en die Filistyne en ander nasies wat hulle opdraend gegee het. Later was daar natuurlik die ballingskap en die verowering deur die Romeine. Maar God was deur dit heeltyd daar. En elke keer het Hy weer uitkoms gegee en vir leiers gesorg om sy mense te lei. Moses, byvoorbeeld. En Dawid. En Elia en Elisa. Hulle was daar, maar bowenal was God daar, want Hy is getrou aan sy verbond en het nooit sy belofte vergeet nie.

 

En nou gee hy vir klein Johannes, die seuntjie op wie die Gees sou rus, sodat hy vir mense tot bekering sou lei. Johannes is ‘n verdere lewende teken van die genadige bemoeienis van God met sy mense, van ‘n God wat net nooit sy kinders aan hulleself oorlaat nie. En dis hoekom Sagaria op hierdie punt eers moet stilstaan en terugkyk. Onthou dat hy in ‘n verbond met die Almagtige lewe, dat God ‘n kontrak met hom aangegaan het.

 

Vandag is die Sondag van Jesus die Koning, die einde van die kerklike jaar. En dit pas ons om ook ‘n oomblik ons handrem op te trek en terug te kyk. En te onthou. Onthou dat God die Getroue is wat eeue al vir sy mense sorg, maar ook terugkyk oor jou eie pad saam met die Here. Hoe Hy ook vir jou gesorg en uitkoms gegee het, dalk toe dinge bitter donker gelyk het. ‘n Gelowige kan nie heeltyd omkyk-omkyk lewe nie, bly vassteek by die verlede nie. Want dan raak ons irrelevant. ‘n Anakronistiese oorblyfsel wat eintlik in ‘n museum hoort. Maar as jy vergeet wat agter lê, kan jy dalk net vergeet Wie jy dien, en wat Hy al vir jou gedoen het, en so kan jy dalk ondankbaar en onseker raak. Vandag is ‘n goeie geleentheid om in verwondering terug te kyk, veral vanaand aan die Nagmaalstafel...

 

  1. Sagaria moet om hom kyk.

Maar jy onthou darem seker dat die leerling-bestuurder nie net in die spieëltjie kan kyk, en dan voortjaag nie. Dis net die taxi’s wat dit doen en dis onwettig. Nee, jy moet op die stopstraat ook links en regs kyk. Jy moet om jou kyk, en dis presies wat die Gees op hierdie punt vir Sagaria laat doen.

 

Ongelukkig is dit ‘n donker prentjie wat Sagaria om hom sien. Hy sien hoe God se mense in die moeras van die sonde vasgeval het. Hy sien hoe hulle los geraak het van die Here, sodat die wil en die eer van God nie meer regtig in hulle lewens ‘n rol speel nie. Hy sien mense wat nodig het om teruggeroep te word na God toe, sodat hulle Hom met nuwe toewyding kan dien.

 

En hy kyk na homself, en dan lyk die prentjie ook nie waffers nie. Die jare het vir hom aangestap. ‘n Paar dekades gelede sou hy dalk nog voel hy kan self ‘n verskil maak en vir homself sorg as dit nodig is, maar nou is dit vir Sagaria baie duidelik dat hy “‘n ou man geword het, en dat sy vrou al op ver gevorderde leeftyd is” (vers 18). En steeds was hulle kinderloos, wat beteken dat die toekoms vir hulle baie onseker was. Want sonder kinders om na jou om te sien, het jy destyds honger gely. Daar was geen pensioenfondse en aftreefondse nie. Sagaria weet self dat net ‘n wonderwerk dit kan verander. Vir seker kan hy self niks daaraan doen nie.

 

Sagaria nooi jou om vandag op Koningsondag stil te staan en om jou te kyk. Hoe lyk die prentjie wat jy vandag sien? Baie mense sê sommer reguit dat die kerk in die moeilikheid is. Baie min mense het regtig erns aan die Here en aan sy wil. Hulle dink eintlik gaan hulle heel goed aan sonder God, en hulle weet nie eens hulle staan magteloos teenoor die donkerte om ons nie. Ook ons kan self min aan ons eie saligheid doen. En so verstaan ek hoe Sagaria voel – want die prentjie om ons in 2022 lyk regtig nie veel beter nie.

 

  1. Sagaria moet ook vorentoe kyk!

En dan – dan staan die engel skielik daar, aan die regterkant van die wierookaltaar. En Sagaria staan verstom as hy hoor dat die wêreld op die drumpel staan van ‘n geweldige deurbraak. Die môreson is op die punt om helder deur te breek, en sy strale tot in die verste donker hoekies van ons wêreld te skyn. Daar kom lig vir hulle wat in die donker lewe, ook vir Sagaria en sy ou vrou in hulle hulpeloosheid. Dis asof ek Jesaja in die agtergrond hoor sê: Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.... Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

 

 

God se nuwe wêreld is aan die kom. In sy trou en genade, gee Hy self die uitkoms. En dalk is die wonderlikste van dit alles dat God self mense wil gebruik om die boodskap van hierdie nuwe wêreld uit te dra. Mense soos hierdie babatjie. Mense soos Johannes die Doper. Terloops, weet jy dat hierdie Johannes die Doper tradisioneel in kuns uitgebeeld word met ‘n vingertjie wat wys, soos in daardie bekende Altaarskildery van Grünewaldt. Want dís Johannes. Met sy hele wese, sou Johannes na Jesus wys. Sy hele lewe is om nie na ons te wys wat ons moet regruk vir die nuwe wêreld nie, maar na Hom wat alles kom doen het, om jou vry te maak. Hierdie is geen self-verlossing nie, maar genade op genade. Genade vir die onregverdiges, noem Paulus dit.

 

En so raak dit Advent. Begin hierdie Adventtyd deur iets vanaand hiervan te kom ervaar aan die tafel van die Here, en dra die boodskap uit in hierdie Kerstyd. Ons boodskap gaan nie oor hoeveel inkopiedae dit nog is voor Kersfees nie. Ons is vingertjies wat wys na die dag wat aan die breek is, na Hom wat sal heers tot in alle ewigheid. Wat “ons voetstappe kom rig het op die pad van vrede”. Ons Vredevors, aan wie ons totale bestaan behoort...

 

Geseënde Kersfees...

 

AMEN