MARKUS 6:7-12, 30-34

Datum: 16 Februarie 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

AGTERGROND

Ds. Jannie du Plessis het ons verlede Sondag op reis geneem en verskeie items uit sy rugsak met ons gedeel:

Klippe wat ons saamdra het name gekry.

Sy gebedsmatjie het die klippe bedek.

Die Bybel.

Die Liedboek

Noodsaaklike items op ons lewenspad. Sonder hierdie items verdwaal mens bitter vinnig op die lewenspad. Sonder hierdie items gaan ons rugsakke vol klippe gepak word. Klippe wat ons mobiliteit vertraag totdat ons tot stilstand kom.

Vanoggend pak ons hierdie lewensreis vêrder aan. Toegerus met God se Woord met ’n lied in die hart, en ons gebedsmatjie in ons rugsak, verken ons die pad op ons lewensreis. Die pad na ons hemelse tuiste. En glo my, op hierdie pad hemel toe gaan ons nog baie dinge en mense teëkom. Dit is nie ’n privaatpad waarop ek geïsoleerd, alleen myself bevind nie.

INLEIDING

Dit laat my dink aan ’n aanhaling waarvan die skrywer onbekend is aan my.

“You don’t “know” God with your reason and intellect. You “know” God through your relationships and interactions. The more you love the more you know.

You are most YOU when you are least into yourself and most into others.”

Onwillekeurig herinner ek myself aan die aangrypende verhaal wat ek onlangs gelees het.

In die 1940’s daag daar ’n vroulike student as eerste jaar op by Oxford Universiteit. Sy beland in ’n baie bekende professor se klas wat hierdie aanhaling saam met sy studente geleef het. Onder die invloed van hierdie baie bekende professor het hierdie student Jesus as haar Verlosser en Saligmaker aanvaar. Die professor se naam was CS Lewis.

Die student het egter vinnig besef dat sy nie uitgeknip is vir ‘n graad in Lettere en Wysbegeerte nie en staak haar studies. Sy verlaat Oxford Universiteit en na ’n verdere vyf jaar kwalifiseer sy as ’n geregistreerde verpleegkundige.

Maar haar verhaal eindig nie daar nie. Sy begin verpleeg in ’n kanker-saal en kom vinnig agter dat sommige terminale kankerpasiënte baie min aandag kry.  In hul diepste nood sien sy die eensaamheid, die alleenheid en ontreddering op die gesigte van hierdie pasiënte.  Dit het haar Christenhart diep geraak. Sy het gevoel dat Christelike deernis aan hierdie pasiënte betoon moet word.

Sy nader toe die hospitaal se superintendent met die voorstel dat terminale pasiënte in hulle laaste dae, omring moet word met geliefdes en vriende. Eerder as om in steriele sale geïsoleer te word, omring deur vreemdelinge. Hierdie suster se radikale voorstelle was summier van die tafel afgevee.

Dit was nie die antwoord wat sy wou hê nie en besluit:  If you can’t beat them, join them, and then beat them!

Onverskrokke besluit sy op 33 jarige ouderdom om as mediese dokter te kwalifiseer en begin met haar mediese studies. In haar tyd as mediese dokter het ’n beweging begin geroei rondom haar  idees wat dit vir sterwende kankerpasiënte moontlik gemaak het om hulle laaste dae omring te word met liefde en deernis en ondersteuning.

As gevolg van Cicely Saunders, wat gedring was deur haar Christelike deernis en ’n roeping  om terminale kankerpasiënte te ondersteun, ontstaan daar ’n beweging in die 1950’s wat later wêreldwyd, in omtrent elke dorp gevestig word. Dit word HOSPICE genoem. ’n Beweging wat geïnspireer is deur Jesus se eie passie en deernis  vir Sy kinders. Sy het van deernis ’n werkwoord gemaak. Met passie en ’n sending het hierdie vrou deernis geleef. Die vraag wat natuurlik ontstaan is:

WAT BETEKEN DIT OM DEERNIS TE HÊ?

Jesus klim saam met die dissipels in ’n skuit om êrens, net vir ’n rukkie in afsondering, asem te skep en te gaan rus. Selfs Jesus raak moeg in Sy bediening aan die mense. Ongelukkig sien die mense waarheen Jesus wegvaar en hulle neem die kortpad padlangs. En daar sit hulle en  wag vir Jesus.Wat sou ons kommentaar hierop gewees het?

Hierdie mense tap die laaste bietjie energie uit my uit!

Ouens, ek is nou afgetree, gaan soek iemand anders wat julle koppies kan streel.

Goeie genugtig! Kan julle my nie net vir ’n rukkie alleen laat nie!

Tyd is geld. Jammer, ek het nie tyd om na jou droewige storie te luister nie.

Die skoolwerk en studies neem so baie tyd van my. Ek sal kyk of ek tyd kan afstaan vir julle.

Of wat van: Ek is jammer om van jou moeilikheid te hoor!

Dis nie wat Jesus gedoen het nie. Toe Jesus die menigte sien het Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie.

Jesus begin hulle leer, Jesus gee hulle kos, Jesus troos sy dissipels en besweer hulle vrese en maak siekes gesond. Die werk hou nie op nie.Daardie dissipels het eerstehands aanskou wat Jesus se taak en bediening vereis. Hulle was geroep om dit in die praktyk toe te pas.

Dit geld ook vir ons. As ons deernis ’n werkwoord wil maak moet ons weet wat dit van ons vra. Almal kan lyding sien. Dis moeilik daarom mis te kyk nie. Maar Jesus neem dit ’n tree verder...

 

DEERNIS BETEKEN OM MENSE SE LYDING TE VOEL

Deernis vra dat ons sensitief sal wees teenoor hulle wat swaarkry. Met ander woorde, deernis is nie net ’n sien en dink-ding nie, deernis is ook ’n voel-ding! Dit is nie genoeg om van lyding net kennis te neem nie. Dit is nie genoeg om mense te sien swaarkry nie. Om lyding te sien is nie genoeg nie.

Ons moet dit voel.

Jou ingewande moet ruk.

Dit moet jou diep raak.

Jy moet ’n diep deernis vir die mense voel.

Jy moet vir mense innig jammer voel.

Deernis beteken om saam te ly. Dwarsdeur Jesus se bediening is Hy deel van mense se lyding.Ons word herinner dat Jesus mense kos gee, siekes gesond maak en hy leer die onkundiges. Jesus steek sy hand uit en raak aan die melaatses.

Vroeg in my lewe was die eerste teks wat ek gememoriseer het die korste vers in die Bybel. Die versie het my altyd soveel inspirasie gegee. ’n Versie met soveel impak:

Johannes 11:35. JESUS HET GEHUIL.

Hierdie vers herinner my daaraan dat Jesus nie net die lyding gesien het nie, maar dat Hy binne-in die seer van ander mense geklim het.

Ek lees die afgelope week ’n artikel op Netwerk24 van dr. Sarah Fairhead, ’n onkoloog wat verbonde is aan Christiaan Barnard Gedenkhospitaal. Sy sê, en ek haal haar aan: “Mens loop ’n flippen moeilike paadjie saam met hulle. Dikwels word pasiënte met die dood gekonfronteer. En soms sal ek uit ’n konsultasie met ’n pasiënt kom en dan sal ek eenkant gaan huil. Jy moet gemaklik wees met jou emosies; om hartseer te wees is oukei....En as ek hartseer was, dan gaan ek weer voort met die lewe. Ek gaan hardloop of ek klim berg....”Aangrypend. Dr. Sarah het deernis met haar pasiënte.

Op ’n persoonlike vlak deel ek graag die volgende met julle. Ek sal nooit na ’n troosdiens of ’n begrafnis tee drink saam met die familie nie. Nadat ek my mikrofoon verwyder het, sal ek so vinnig as moontlik in my motor klim en huis toe ry. In daardie paar minute in my motor huil ek ordentlik. Dis my terapie, my uitlaatklep, my behoud. Die tyd wanneer my ingewande inmekaar trek as ek dink aan die familie in hulle verlies.

Maar ek moet nie net deernis voel nie:

DEERNIS VRA OOK DAT ONS MENSE SE LYDING VERLIG

Ons kan so maklik net gesels oor situasies, eerder as om iets daaraan te doen. Ons sien die nood en lyding van mense, maar doen niks daaraan nie. Dalk is dit omdat ons daardie tweede fase van deernis naamlik die voel-ding, met ’n rede vermy.

20 Desember 1943 was ’n normale dag in die lewe van Charlie Brown, ’n vlieënier van die Amerikaanse Lugmag  totdat sy B-17 bomwerper aan flarde geskiet is deur die vyand. Die kompas was beskadig en Brown en sy bemanning het al hoe dieper oor vyandelike terrein begin vlieg in stede daarvan om rigting Kimbolton toe te vlieg.

Terwyl die B-17 oor ’n vyandelike vliegveld gevlieg het, het Franz Stigler, ’n Duitse vegter vlieënier, opdrag gekry om die B-17 te onderskep en af te skiet. Franz Stigler het langs die B-17 inbeweeg en kon sy oë nie glo nie.

In sy eie woorde het hy nog nooit ’n vliegtuig in so ’n haglike toestand gesien nie. Die bomwerper se stert was erg beskadig en die “tail gunner” was dood. Die neus van die bomwerper was verpletter en die hele romp van die vliegtuig was vol koeëlgate. Die Duitse lugafweerkanonne het nie speletjies gespeel nie.

Met sy vol bewapende vegvliegtuig het Franz tot teenaan die bomwerper gevlieg en Charlie Brown in die oë gekyk. Brown was vreesbevange en het gesukkel om die beskadigde bomwerper in die lug te hou.

Bewus daarvan dat die bemanning van die bomwerper geen idee gehad het waarheen hulle vlieg nie, het Franz vir Charlie Brown handseine gegee om 180 grade te draai terwyl Franz die stukkende bomwerper met sy vreesbevange bemanning oor die Noord See na Engeland ge-eskort het. Toe salueer Franz vir Brown  draai weg, terug na sy Duitse Lugmagbasis in Europa.

Nadat Franz in sy vegter geland het, het hy sy bevelvoerder meegedeel dat hy die bomwerper oor die see neergeskiet het. Vyftig jaar later het hierdie twee vlieëniers mekaar onder ander omstandighede ontmoet. Franz het gesê: Toe ek hulle angsvolle weerlose gesigte sien, kon ek my nie sovêr kry om die sneller te trek nie.

Selfs op die slagveld word deernis openbaar.

SLOT

Ons moet doen wat reg is in die oë van die Here en nie wat reg is in die oë van die wêreld nie.

Wat sê ons vir mekaar vanoggend?

DEERNIS MOET ’n WERKWOORD WORD

Sien die lyding raak

Voel die seer van die persoon in lyding

Doen iets daaraan

DAN KRY DIE AANHALING WAT EK AAN DIE BEGIN VOORGEHOU HET NUWE BETEKENIS

“You don’t “know” God with your reason and intellect. You “know” God through your relationships and interactions. The more you love the more you know.

You are most YOU when you are least into yourself and most into others.”

AMEN