Filippense 3:7-11
Datum: 8 Oktober 2017
Prediker: Chris Barnardo
INLEIDING
Stephen Covey se boek, The Seven Habits Of Highly Effective People, is ’n blitsverkoper waarvan miljoene eksemplare al verkoop is. Een van die “gewoontes” van ’n doeltreffende persoon volgens die skrywer, is om altyd met die einde in gedagte, take aan te pak.
Hy begin die Hoofstuk met ‘n uitdagende toneel of scenario waarin hy skryf:
Verbeel jouself jy is op pad ’n begrafnis. Jy parkeer jou motor, klim uit, sluit die voertuig en stap stadig na die kerkgebou.
Terwyl jy die kerkgebou binnestap sien jy die blomme, mense drom saam in die portaal, jy hoor die sagte orrelmusiek. Tannies skarrel om die laaste eetgoedjies uit te pak in die kerksaal.
Jy sien die gesigte van vriende en familie terwyl jy by hulle verbystap. Jy voel die seer en verlies wat hulle beleef. Die vreugde wat hulle geken het straal uit die harte van die mense.
Jy stap in die paadjie af en soek na plek om te sit. Jy sien die kansel, die Christuskers wat brand, die doringdraad wat daarom gebind is. Jy gaan sit en word vir ’n oomblik stil. Jy kyk opsien en die PowerPoint skyfies, ’n groot foto staan op die nagmaalstafel.
Dit is ’n foto ....van jou.
Dit is jou begrafnis jaar van vandag af. Al die mense het hul laaste eer aan jou kom betoon. Hulle het jou lewe kom vier.
Jy kyk na die program en wag dat die diens begin. Daar is vier huldeblyke. Die eerste een is ‘’n familielid. Tweede aan die woord is een van jou vriende. Die derde spreker is ’n kollega wat saam met jou gewerk het. Laastens is ’n iemand van die gemeente waar jy betrokke was en gedien het.
Wat sou jy graag wou hê dat hierdie vier sprekers van jou moes sê? Watter tipe pa, ma of pasmaat moet in woorde gesê word? Watter tipe seun of dogter? Watter tipe vriend? Watter tipe kollega?
Watter eienskappe moes hulle in jou raakgesien het? Watter bydrae het jy gemaak? Watter prestasies moes hulle onthou? Kyk na die mense rondom jou. Watter verskil het jy in hulle lewens gemaak?
Nogal ’n ongemaklike scenario, sodat jy jou denke kan rig met die einde in gedagte. Dit is hoe Steven Covey die hoofstuk begin.
Kom ons fokus vanoggend met die einde in gedagte.
Paulus was baie goed hiermee. Behalwe Jesus, is daar min mense wat die Evangelie-saad geplant het waarvan die resultaat ’n Christen ontploffing veroorsaak het. Paulus het sy gawes gebruik, hy het nie verskonings gehad of gemaak nie. Hy het ’n groot impak in mense se lewens gemaak.
Paulus, het met die einde in gedagte, voluit as navolger van Jesus geleef en vandag, tweeduisend jaar later, kan ons die resultate daarvan sien. En vanoggend verklap Paulus die geheim in hierdie skrifgedeelte en gee ons advies vir ons lewens.
Terwyl Paulus in die truspieëltjie kyk en sy verlede evalueer, kyk hy ook deur die windskerm van sy lewe. Vorentoe. Peinsend dink hy oor die toekoms. Dan kyk hy in die kandspieëltjies en sien die huidige raak en hy volg dan ’n plan, ’n strategie wat ons kan help om met die einde in gedagte, ons lewens te her-oriënteer.
MET DIE EINDE IN GEDAGTE....WIL EK DIE HERE IN MY PERSOONLIKE LEWE KEN
Paulus doen rekeningkunde. Hy kyk na sy verlede en lys al sy bates, voordat hy Jesus geken het. Hy vergelyk dit met die feit om vir Jesus te ken. En dan besef hy al hierdie bates kom by ’n groot vet ZERO uit.
Wat Paulus eintlik sê is die volgende: “As jy nie vir Jesus in jou persoonlike lewe ken nie. As jy nie ’n ware, egte, werklike persoonlike verhouding met Hom het nie, dan is jy bankrot. ’n Volslae verlies
Hierdie woord word net twee keer in die NT gebruik. In Handelinge verduidelik dit die verlies van ’n vrag op ’n skip wat op die rotse loop. Met ander woorde al Paulus se persoonlike vrag is oorboord gegooi sodat hy die belangrikste van alles – om Jesus te ken, kan behou.
Van daardie oomblik af toe Paulus die Here ontmoet het, wou hy die Here ken. Daar is ’n verskil tussen ontmoet en ken. Om Jesus te ken beteken jy moet tyd spandeer saam met die Here. Gooi jou hele vrag oorboord sodat jy die belangrikste van alles kan besit, naamlik Jesus Christus.
Leonard Sweet skryf die volgende: Jou don’t know Jesus with your reason and intellect. You know Jesus through your relationship and interactions. The more you love, the more you know.
Vriende, daar kan nie ’n groter doel vir jou wees as om Jesus in jou persoonlike lewe beter te leer ken nie. Om Jesus beter te ken beteken dat tyd saam met Hom spandeer word. Dat na die Here geluister word. Reageer op die Here se stem. Praat met die Here. Stap ’n pad saam met die Here. Dis hoe ons meer en meer soos Jesus word. Dan vind daar groei plaas. Dit bring my by die volgende punt
MET DIE EINDE IN SIG....EK WIL SAAM MET DIE HERE IN MY PERSOONLIKE LEWE GROEI
Ongelukkig is daar tog mense wie sê dat hulle vir Jesus ken, maar nie bereid is om in die geloof te groei nie. Niks in ons geestelike genetika of ons geestelike DNA weerhou ons daarvan om in die geloof te groei nie behalwe ons eie vrye wil.
10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
Weet u wat beteken dit Dieselfde krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het, werk deur ons om ons heilig te maak. Dieselfde krag wat ons in staat stel om om te leef soos wat die Here wil hê ons moet leef. Dieselfde krag wat ons in staat stel om Hom te dien soos Hy gedien wil word.
So baie keer hoor ek mense sê dat dit te veel vra om’n dissipel van Jesus te wees. Die dwarslat is te hoog gestel. Om ’n wang te draai. Om jou naaste lief te hê in SA? Ek kan dit nie doen nie?
Verseker kan ons dit nie alleen doen nie.
Die Here verwag nie van ons om as Christen dit op ons eie te doen nie. Die Here gee ons hierdie geestelike krag sodat ons geestelik kan groei. Ons almal moet elke dag geestelik groei.
Ek het onlangs gaan nalees oor dwergisme. Dit is’n genetiese afwyking. Interessant is die feit dat die ouers van dwergies normale gesonde mense is. Ongelukkig is daar baie geestelike dwergies in die kerk. Hulle ken vir Jesus, maar hulle groei nie in Jesus nie. weerhou ons daarvan om in die geloof te groei nie behalwe as ek en my myself daarteen skop. Wanneer ek en myself die belangrikste is in die lewe. Dan kan jy nie Jesus se beelddraer wees nie. En dit bring my by ons laaste punt naamlik:
MET DIE EINDE IN GEDAGTE....EK WIL DIE HERE IN MY PERSOONLIKE LEWE WYS
Paulus sê in vers 10 dat hy nie net Jesus wil ken en wil groei in sy persoonlike lewe nie. Hy wil ook vir Jesus wys in sy persoonlike lewe.
...en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
Wanneer jy vir Jesus en sy opstandingskrag ken sal jy gelyk word aan hom. Sal jy meer en meer soos Jesus word. Ons praat vanoggend oor : MET DIE EINDE IN GEDAGTE
Die Here het ook ’n einde in gedagte vir jou. AlleS wat die Here vir jou doen het net een doel voor oë. Weet jy wat dit is?
Om soos Jesus te word. In Romeine 8:28 lees ons dit :
28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
Hoe beter ek vir Jesus ken, hoe meer groei ek in die geloof, hoe duideliker wys ek vir Jesus in my lewe.
Jy sal beter weet as ek. Mense wat Jesus in hulle lewens met hulle lippe bely EN Jesus ook met hulle dade demonstreer, trek mense nader. Sulke mense praat nie net oor en van Jesus nie. Sulke mense vertoon Jesus in hulle lewens.
Ons kan nie net praat oor Jesus nie. Ons moet navolgers wees. Dissipels wat deur ons menswees, ons optrede, ons gedrag, die wyse hoe ons mense hanteer, wys dat Jesus ALLES is in ons lewens. Jou mond moet gerugsteun wees deur jou dade. As ons nie Jesus wys nie kan ons net sowel stilbly.
Ek lees van die chirurg wat een aand uitgeroep is vir ’n noodoperasie. Ure later terug by die huis het sy kinders hom uitgevra oor sy werk. Het pappa die oom se maag gesien. Het pappa die oom se lewer gesien? Het pappa die oom se hart gesien . Die pappa het op alles Ja, geantwoord. Sy driejarige dogtertjie het eenkant met haar poppe gespeel, opgekyk en gevra. Het pappa vir Jesus in die oom se hart gesien?
Self al moet jy lei en swaarkry in die die naam Van Jesus deurdat jy ‘’n “stand” moet maak vir hom, dan moet jy nog steeds vir Jesus in jou lewe demonstreer.
Hoe gaan ons Jesus in ons lewens vertoon?
Luister vir die Here – Lees jou Bybel.
Kyk na die Here – Tyd in gebed. Maak ’n gebedslys vir jou.
Leef vir die Here – Identifiseer ’n persoon in jou lewe. Net een persoon. Iemand wat vêr van die Here af is en vra vir die Here dat daardie persoon se lewe verander. En dat jy SY instrument sal wees.
Kom ons werk met die gedagte om elke dag die volgende te sê:
Here, wees in my kop en in my verstaan.
Here, wees in my oë en hoe ek die lewe sien.
Here, wees in my mond en hoe ek praat.
Here, wees is in my hart en in my denke.
Here, U is my einde en my vertrek.
DIS HOE JY KAN BEGIN MET DIE EINDE IN GEDAGTE
AMEN