Efesiërs 2:11-22

Datum: 9 Oktober 2022

Prediker: Hannes Burger

Ek onthou, baie jare gelede, toe ek nog nie baie lank in De Eike was nie, het Johan een oggend na die diens vir my gesê ek moet miskien ophou om vir mense te sê dis my gunsteling-hoofstuk van die Bybel waaruit ek die oggend lees. Want ek sê dit eintlik elke week sê hy, en niemand kan só baie gunstelinge hê nie! Toe luister ek nogal na hom. En met ysere selfbeheersing sê ek dit nie meer so dikwels nie, selfs al is die skriflesing van die oggend een van my gunstelinge. Maar hoekom ek die week weer daaraan gedink het, is omdat  dit daardie oggend juis oor Efesiërs 2 gegaan het. En ek het vir myself gesê: Hoe op dees aarde kan ek Efesiërs 2 lees, en nie vir julle sê dis my gunsteling-hoofstuk in die Bybel nie?

 

Want dit IS. En die rede daarvoor is eenvoudig: net soos met ‘n ander persoonlike gunsteling, Openbaring 5, is dit vir my asof Efesiërs 2 die hele Bybel saamvat. Want hierin lees jy van die absolute wonder, dat God ons “innig liefhet”, en dat Hy ons vrygemaak het sodat ons weer regtig mense kan wees, en nie die goed wat die sonde van ons gemaak het nie. Dit slaan eenvoudig jou asem weg. Ek het al gedink, as iemand ooit my Bybel wil afvat en sê ek kan net één hoofstuk uitskeur en saamvat, sal dit Efesiërs 2 moet wees. Ek moet nog net besluit watter vertaling.

 

Want in die eerste deel vertel Efesiërs 2 vir ons die wonderlike waarheid dat God ons uit genade gered het. Jy het reg gehoor: jy het dit nie verdien nie, en jy kan dit nooit verdien nie. Daarom hoef jy nie jou plek in die hemel te probeer verdien soos ‘n Fariseër van ouds nie. Jy hoef nie die sware pak van wetsonderhouding te probeer dra nie. “Uit genade is julle gered” sê Paulus. Dit was ‘n geskenk van God. En dit het hy gedoen net omdat Hy vir ons so lief is. Daarom is al na Efesiërs 2 verwys as God se groot liefdesbrief aan die kerk. En julle wat oud genoeg is om liefdesbriewe te onthou, sal weet hoe eindeloos kosbaar ‘n liefdesbrief is...

 

Natuurlik het dit ons verlede week laat wonder of mense dit uit ons optrede kan sien. Of ons lewenswyse duidelik wys dat ons nuwe mense is, nuutgemaak deur die genade van God. Ons het onsself verlede week in die spieël van Efesiërs 5 bekyk, en onsself opnuut verbind daartoe om oorgegee aan die Here te lewe.

 

En nou kan jy dalk wonder: Wat op dees aarde sou hierop kon volg? Nadat Paulus ons van só ‘n absolute wonderwerk vertel het – hoe gaan hy dan nou verder? En dan gaan Hy aan. Die goeie nuus stop nie daar nie: God het ons nie net verlos en ons syne gemaak nie. Die tweede deel van Efesiërs 2 vertel dat Hy ons ook aan mekaar gegee het. God het ons saamgebind tot ‘n wonderlike familie waarvan jy ook deel mag wees – jy is deel van die groot gesin van God!

 

  1. Die tragiek van die mens se bestaan

Maar waarom het Hy dit gedoen? Hoekom was dit nodig? Die rede is eenvoudig: Dis omdat die mens van nature ‘n bouer van mure om hom- of haarself is. Die mens is heeltyd besig om homself af te skerm, om homself te isoleer. Ons kan onsself byna nie help nie. Dit gebeur al in Genesis 3. In die tuin Eden was dit Adam en Eva se eerste reaksie na die sondeval: hulle het gaan wegkruip. Na al die eeue seker een van die absurdste dinge wat ‘n mens ooit gedoen het. Maar hulle kon hulleself nie help nie. Onmiddellik het hulle mure begin bou.

 

En nie net tussen hulleself en God nie. Want baie spoedig het ons ook mure begin bou om ander mense weg te hou. Selfs in die tempel, waar hulle in God se teenwoordigheid gestaan het, was daar mure, wat ongewensde mense weg moes hou, wat selfs gelowige vroue uit die heilige deel van die tempel moes hou en tot die voorportaal moes beperk. En natuurlik was dit nie net Jode wat dit gedoen het nie. Die Grieke het almal wat nie Grieks gepraat het nie, “barbaroi” genoem – mense wat nie kan praat nie, wat net geluide maak. En ook hier aan die ander kant van die wêreld het ons fluks mure gebou tussen mense, en gaan dit eintlik vandag nog in sekere kringe aan.

 

Dis vir die mens tweede natuur. Ons doen dit in al ons verhoudinge. Selfs binne-in ons huise, wanneer ons vir mekaar vreemdelinge raak, nie meer ons gedagtes en gevoelens met mekaar deel nie, en effektief by mekaar verbyleef. Net soos wat ons mure om ons erwe bou om onsself te beskerm, bou ons mure om mense van ons weg te hou, sodat ons tog net nie seer moet kry nie. En so verarm ons onsself al meer. Hier in die tyd na Covid is dit duideliker as ooit. Elkeen lewe net in sy eie hoekie, asof hy niemand anders nodig het nie. Die probleem is net dat dit nie is hoe God ons gemaak het nie. Ons is gemaak om mekaar nodig te hê. Deur hoë mure om myself te bou, maak ek myself net al hoe minder mens...

 

  1. Jesus het nie daarby berus nie!

Ons het verlede week gepraat oor die groot “maar” van die Bybel. En dis waar ons vanoggend weer vassteek: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief...” God het gesien hoedat die mens homself vernietig deur die mure wat hy gebou het. Die muur tussen homself en God was later só hemelhoog, dat hy self op geen manier daaroor kon kom om naby God te kom en homself te red nie. Hy sou net al meer krepeer daar in die skaduwee van sy eie bousel. En God het gesien hoe die mens ly onder die isolasie wat hy homself opgelê het, deur hom van almal om hom te vervreem. En God was te lief vir die mens om net toe te kyk terwyl hy homself so vernietig.

 

En dis waar Efesiërs 2 inkom: Toe stuur God sy eie Seun. In Jesus het God self die mure af kom breek! Want dis wat op Golgota gebeur het. Jesus Christus het weer ‘n brug tussen ons en God kom slaan, deur nie net ‘n bres in ons muur te breek nie, maar deur die muur af te breek asof dit nog nooit bestaan het nie. Hy het ons met God versoen, en in plaas daarvan om in die skaduwee van ons muur te sit en vergaan, is ons soos die Verlore Seun terug in die vaderhuis verwelkom.

Op Golgota het daar ‘n nuwe era vir die mens aangebreek! En vir die eerste keer wat die mens weggekruip het tussen die bome van die tuin, was dit weer vir ons moontlik om in ‘n egte verhouding met God te lewe! Jesus het God en mens weer bymekaar uitgebring.

 

  1. Maar dit stop nie daar nie!

Maar selfs dit was nog nie al nie, hoe onuitspreeklik wonderlik dit ook al was! Want daar aan die kruis, het Jesus nie net die muur tussen ons en God afgebreek nie – Hy het ter selfder tyd ook die mure tussen ons as mense afgebreek. Daarmee het hy nie net verhoudinge met God herstel nie, maar hy het ook weer egte verhoudinge tussen mense wat in Hom glo, moontlik gemaak. Jy hoef nie meer agter jou muur vir almal weg te kruip nie. Jy kan waag om ‘n broer en ‘n suster te wees, in God se groot familie.

 

Hou dan op mure bou. Ons lewe in die kerk moet ‘n vertoonvenster wees van hierdie wonder. En dis daarom jou groot roeping in hierdie nuwe lewe wat God aan jou geskenk het. Jy is nie langer ‘n bouer van mure nie. Nie in die kerk nie, want daar mag nooit enige onderskeidinge in die kerk bestaan nie. Ons is almal dieselfde voor God. Dit wat geen politieke party ooit kan regkry nie, het God in die kerk gedoen: Hy het ‘n gemeenskap gestig waarin daar geen klasseverskil is, geen onderskeid tussen geslagte of rasse of tale of wat ook al nie. Ons is een groot familie van God.

 

Slot:

Maar dit laat jou natuurlik met ‘n roeping, ‘n opdrag. Jy is immers anders. Jy is immers nuutgemaak deur die bloed van Jesus. Anders as al die muurbouers buite die kerk, maak Hy van jou iemand wat mure afbreek. Stel Hy jou deur sy Gees in staat om uit te reik, om lief te hê. Dis geen utopiese politieke droom van ‘n reënboognasie nie. Dis die almag van God, wat mure vernietig en mense by mekaar uitbring. Dis ‘n reële moontlikheid.

 

Dis jou roeping. Van vandag af. Ongelukkig kan ek jou nie belowe dat dit maklik gaan wees nie. Maar jy het geen ander opsie nie. Gaan vandag huis toe en begin mure afbreek. Gaan begrawe ou vooroordele en verskille, en kyk mekaar weer in die oë. Beginnende met die mense die naaste aan jou. Jou lewensmaat om mee te begin. En jou kinders. Bely teenoor mekaar die mure wat jy oor jare gebou het. En ek kan jou nie waarborg dat jy onmiddellik wonderlike resultate gaan kry nie. Daarvoor is die muur dalk al net te hoog. Jou maat gaan hom of haar dalk doodskrik, en nie die vrede vertrou nie. Maar gaan maak net ‘n begin. Reik uit. Reik uit na jou kinders, na die bure.

 

Lank gelede het ons ‘n paar keer gepraat oor die sg “Random acts of kindness” wat deel van ons getuienis is. Gaan wees net weer goed vir mense. Ook vir die wat jou nie kan terugbetaal nie. Doen iets vir mekaar, net om te wys jy weet jy is ‘n nuwe mens. Gaan breek die mure af. Anders staan Efesiërs 2 verniet in jou Bybel...

AMEN