OPENBARING 1:4b, 5, 10-13

Datum: 31 Mei 2020 (Aanddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

 INLEIDING

Dit is vandag Pinkstersondag. Op Pinkstersondag vier die kerk die uitstorting van die Heilige Gees. Liewe vriende ek het grootgeword in gemeentes waar daar nie baie gesê was oor die Heilige Gees nie. Sommige mense dink dat die kerk bang is om oor die Heilige Gees te praat. Sommige mense voel dat kerkleiers onkundig is oor die werk van die Heilige Gees en juis daarom nie baie te sê het nie. Ek weet nie of dit die geval is nie, maar wat ek wel weet is dat ek nie in die posisie is om oordele daaroor te fel nie. Vrae waarmee ek wel gekonfronteer word, is vrae soos:          Wat doen die Heilige Gees? Is Jesus dan nie genoeg nie? Hoekom moes die Heilige gees tien dae na Jesus se opstandig oor mense uitgestort word? Was dit regtig nodig? Baie eenvoudig. Die waarheid is dat die Here ons van die begin af by die deurvoer van die evangelie wou betrek, maar geweet het dat ons dit in ons eie krag onmoontlik sou kon doen. Ons weerstand teen God het ons verstand, ons wil, ons emosies aangetas. Ons liefdes het deurmekaar geraak en ons kan ons begeertes nie vertrou nie. Daarom gee die Here sy Heilige Gees aan ons!

 

Vanaand wil ek na vier tekste verwys om my verstaan van die werking van die Heilige Gees met julle te deel. In elkeen van hierdie vier tekste kry Johannes die opdrag: Kom, kom kyk! Verbeel jou dat ons op die kruin van ’n berg sit en saam afkyk na wat besig is om te gebeur. Johannes het iets gesien wat ’n groot verskil in sy denke en lewe gemaak het. Ons kyk af en sien dat: Die Gees vir ons en Johannes ’n 20-20 geloofsvisie gee om Jesus in sy heerlikheid en mag te sien. Saam met Johannes sien ons vir Jesus in die hemelse erediens. God is teenwoordig, Jesus en 24 Ouderlinge! ’n Lied word gesing. Onbeskrylik groot en ons besef dat Jesus is alles waarna ons soek en smag. Dit is wat die Heilige Gees ons laat sien! Openbaring 4:1-11. God Sit Op Die Troon.

 

Tweedens, laat die Gees ons die koninkryk en die nuwe Jerusalem sien. Openbaring 21:10 Die Nuwe Jerusalem. In die laaste twee hoofstukke van die boek beskryf Johannes vir ons die ontsaglike toneel wat hy gesien het. Die Gees laat ons nie net vir Jesus sien nie; Hy laat ons ook sien wat Jesus se plan vir ons is en waarheen Hy op pad is met ons. Die meeste van ons wil nie net weet dat God by ons is nie; dit help ons geweldig as ons ook’n idee het van wat ons hier maak, wat die sin van die lewe is en waarnatoe die Here met ons oppad is. Die Heilige Gees gee Johannes so ’n eerste kykie hiervan – en gelukkig het hy dit neergeskryf, ook vir ons. Dit gee hoop, nou, hier! Ek wil vanaand iets met jou deel wat net naaste familie en vriende weet. Moenie bekommerd wees nie. Ek gaan dinge sê wat jou ongemaklik sal maak nie. Terwyl die chirurge besig was om my lewe te red nadat die kerkstraatbom my aan flarde geskiet het, het ek ’n wonderlike droom gehad. Ek was op ’n onbeskryflike plek met asemrowende natuurskoon gewees. Daar was onbeskryflike mooi musiek en ek onthou dat ek daarheen gestap het. Ek het Koormusiek gehoor.  Dit was te teveel om in te neem. Skielik het iemand met my gepraat en gesê: Gaan vertel. Maar dit is ’n storie vir ’n ander dag. Wat ek wel wil sê is dat die wenstreep my nie bangmaak nie en dat Johannes se bevestiging my onbeskrylik laat uitsien na die nuwe Jerusalem. En ons sal onverantwoordelik wees om stil te bly. Ek span my in om by die wenstreep te kom.

 

Derdens sien ons deur die Gees ook die wêreld in sy naaktheid, sy nood en sy verlorenheid.

Openbaring 17:3 Die Sedelose Vrou. Johannes sien die wêreld, die vrou Babilon, nie net in haar weelde nie, maar hy sien ook haar negatiewe invloed op mense, haar losbandigheid en sluwe boosheid. Hy sien dat sy die konings van die wêreld, die sakemanne en ander vernames om haar pinkie draai en gekhede laat aanvang. Maar Johannes kry ook die geleentheid om haar ondergang en haar val te sien. En as Babilon val, loop alles verkeerd. Bose geeste neem die stad oor; pes, droefheid en hongersnood tref die stad en die vrou word gedwing om die beker wat sy vir ander geskink het, self te drink.

Een van die maniere waarop die Here ons ‘’n “wake UP call” gee is om ons ’n kykie te gee op die gevolge van ’n lewe sonder God. Dit is wat hier in Openbaring 17 en 18 gebeur. Hier in die woestyn sien Johannes hoekom die wêreld ’n Verlosser nodig het.

 

Vierdens wil die Gees vir ons wys wat die Here met gemeentes kan doen. In Openbaring 1:4-6 lees ons dat die Gees Johannes “op die dag van die Here” meevoer na ’n plek waarvandaan hy die sewe gemeentes kon sien. Die sewe gemeente wat ons in die pas afgelope week besoek het. Kom ek lees die teks vir julle:

Aanhef van die brief

Openbaring 1:4Van Johannes.

Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

10Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van ’n trompet, ’n stem hoor 11sê: “Skrywe wat jy sien in ’n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om sy bors gedra.

 

Hy sien hulle gebrokenheid en twyfel, hulle sonde en dwaasheid, maar hy sien ook vir Christus agter, en tussen die gemeentes staan. Christus beweeg tussen die sewe staanlampe.

Christus se plan is om van sy kerk, ’n koninkryk te maak wat wys hoe dit lyk waar Hy heers, en om van ons almal priesters te maak wat God ken en wat by die Here kan intree vir die wêreld (1:6).

 

SLOT

 

Wat sê ons vanaand vir mekaar? As ons gereeld saam met die Gees – en saam met ander gelowiges hierdie vier bakens besoek, sal ons anders begin kyk na die lewe en begin verstaan waarvoor die Here ons roep om te doen. Elke jaar wonder ek wat Pinkstertyd vir mense beteken. My gebed is dat jy nooit jou gelooofsbril sal afhaal nie. Dat jou 20-20 visie jou sal laat dinge sien wat jou na jou asem sal laat snak.

 

Vier bakens:

  1. Die Gees help om vir Jesus in sig te hou,
  2. die Gees dra my op pad na die nuwe Jerusalem,
  3. die Gees help om die wêreld in sy naaktheid en verlorenheid te sien.
  4. terwyl die Gees my vashou om na gemeentes se gebrokenheid en twyfel te staar en vir Jesus agter en tussen hulle te sien beweeg.

Ons is op pad wenstreep toe. Wat ’n vooruitsig. Kom ons vat hande en help mekaar om skerper te kyk en saam te stap, gelei deur die Gees, sodat ons in die voetspore van Jesus kan leef.

AMEN