Jeremia 8:18-22; 10:6-11

Datum: 18 September 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Daar is een Sondag van die jaar wat die kerk spesifiek opsy sit om te praat oor die storms van die lewe. En terwyl ek daarmee besig geraak het die week, het ek natuurlik onwillekeurig ver begin terugdink. Maar dalk moet ek by jou begin: waaraan dink jy eerste van alles, as die storms van die lewe ter sprake kom? Heel waarskynlik aan presies dieselfde assosiasie as ek. Want ek het onwillekeurig teruggedink aan daardie lied wat ons as kinders altyd voor Pinksterdienste gesing het. Die een wat gaan oor lewenstorme wat woedend om jou slaan.

 

En toe ek daaroor begin nadink, was daar veral twee goed wat ek veral baie goed onthou het van daardie lied. Eerste van alles het ek onthou dat dit nogal lekker gesing het. Dit was waarskynlik hoekom ons dit omtrent elke aand met Pinkster gesing het. Trouens, al van Donderdag af draai die wysie heeltyd in my kop, en as ek my weer kom kry, fluit ek dit weer terwyl ek in die garage doening is. Maar ongelukkig was daar ook ‘n tweede ding wat ek van hierdie lied onthou. Ek onthou dat die woorde selfs vir my as kind geen sin gemaak het nie. Ek kon nie glo dat dit die antwoord kan wees wat die Here gee vir iemand wat swaar kry nie, vir iemand om wie die lewenstorme woedend slaan nie - dat jy sulke tye net jou seënings moet begin tel, en dan sal jy jou só daaroor verbaas dat alles reg sal wees nie. Want wie op dees aarde gaan dit in elk geval nou eintlik regkry? Wie van ons gaan dit regkry om seëninge te tel as die branders van hierdie lewe dreig om jou te verswelg?

 

Vandag, soveel jare later, besef ek dat dit waarskynlik die rede  is hoekom hierdie lied nooit ons Liedboek gehaal het nie. Want eintlik bied hierdie woorde geen troos, en geen antwoord nie. Ek kan my nie voorstel dat ek as dominee na iemand toe sou gaan wat pas ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, of wat slegte nuus by die dokter gekry het, of wat elke nag wakker lê oor iets, en dan is dit wat ek vir hom of haar sê nie: Man, tel net jou seëninge, dan sal dit sommer met jou beter gaan! Dit gaan niemand troos nie, en om eerlik te wees, ek dink ook nie dis wat die Here uit sy Woord vir ons sê, as die stormwolke oor ons begin saampak en dit vir ons donker raak nie. Let wel, om jou seëninge te tel, is regtig soms baie nodig en ‘n wonderlike en baie nodige oefening om jou dankbaar te stem, maar in die storm is dalk nie die tyd daarvoor nie.

 

Maar dit laat ons nog altyd met die vraag: Wat maak ‘n mens as die lewe se storms dreig om jou te oorweldig? Wat maak jy, as die depressie op jou toesak en dit so donker om jou raak dat jy glad nie vorentoe kan sien nie? Wat maak jy, as daar goed in jou lewe gebeur wat jou moed breek, en dit vir jou haas onmoontlik maak om aan te gaan? Wat maak jy, as die lewenstorme woedend om jou slaan...? Want dit is ‘n reële werklikheid. Die feit dat ek en jy vanoggend in die kerk sit, waarborg nie dat dit nie met jou ook kan gebeur nie. Wat gaan jy dan maak?

 

  1. Dit is die dilemma van Jeremia

Dis natuurlik presies wat hier met Jeremia ook gebeur. Net soos Job destyds, het Jeremia geen antwoord op dit wat met hom gebeur het nie. Dit wat gebeur het, het hom totaal oorweldig. Hy het geen antwoord op die omstandighede waarin hy hom nou bevind nie. Die ergste het gebeur. Na al die jare wat die Here sy mense gewaarsku het oor die oordeel wat hulle gaan tref oor hulle ontrou, het dit toe gebeur. God se oordeel het hulle getref, al het Jeremia alles in sy vermoë gedoen om hulle te waarsku. Want hulle wou nie luister nie. Hulle was nie lus om die Here te dien nie, want hulle het net nie kans gesien vir die koste van dissipelskap nie. Dit het net vir hulle hopeloos te ongerieflik geklink. En nou het die brander van Nebukadneser oor Juda en sy mense gebreek. Die stad lê verwoes en die soldate het die tempel as ‘n puinhoop agtergelaat. Honderde van Jerusalem se mense, Jeremia se mense, het dood op die strate bly lê met niemand om hulle te begrawe nie, en die res is met geweld ontvoer na ‘n baie ver land toe.

 

Dit breek Jeremia se hart. Jeremia is in rou... Hy het sy hele lewe daaraan gewy om vir sy mense te vertel van die alternatief. Hy het hulle aangemoedig om terug te keer na die Here toe, en hulle sonde voor Hom te bely. Hy het hulle telkens opgeroep tot bekering, en belowe dat die Here dan weer vir hulle sal sorg en hulle sal beskerm teen die vyandelike hordes. Maar dit was alles tevergeefs. En dis dalk die heel ergste. Jeremia weet dat hierdie nie ‘n ramp is wat hulle sommer net uit die bloute getref het nie. Hy weet baie goed waarom dit so sleg gaan.  Dis hulle eie skuld. Dis die ontrou van die volk wat tot hulle eie ondergang gelei het...

 

En nou weet selfs die profeet ook nie meer nie. Hy het nie eens antwoorde vir homself nie... “My smart oorweldig my, ek is hewig ontsteld” sê hy, en bietjie later: “Ek is in die rou, deur angs oorweldig. En moenie nou vir Jeremia kom vertel hy moet net sy seëninge tel nie. Dit sal niks help nie...

 

  1. Dis ‘n prentjie van ons self dié...

Maar dalk is die mees skokkende van hierdie prentjie dat dit vir my so ontsaglik bekend lyk. Want ek sien dit ten minste weekliks, wanneer ek met ons eie mense te doen het. Want dit gebeur met ons almal. Ons almal sit party keer op moedverloor se vlakte, sonder enige antwoorde, en sonder dat ons weet hoe ons die pad vorentoe kan aandurf. Want ongelukkig is dit waar, dat die feit dat jy ‘n gelowige is, nie waarborg dat jy die storms sal vryspring nie. As Christen is jy nie vrygestel daarvan dat dit ook iewers vorentoe op jou pad wag nie. En boonop neem hierdie storms ‘n oneindige verskeidenheid van vorms aan waarmee ons geen raad weet nie...

 

Daarom gaan ek nie eens vanoggend waag om vir jou voorbeelde te noem van vorms wat hierdie storms aanneem nie, want elkeen van ons het ons eie uitdagings, ons eie storms wat dreig om ons van koers af te dwing, wat ons ook in die rou dompel, sodat ons deur die angs oorweldig word. Ek weet nie wat laat jou op die oomblik wakker lê terwyl die hele wêreld slaap nie. Want elkeen van ons het sy eie storm. Daarom is hierdie ‘n uiters relevante vraag vanoggend. Wat sê die Bybel vir ons hiervan?

 

Vra die Bybel van jou ‘n magtige geloofstruuk, om die byna onmoontlike te doen, en ten spyte van jou ondraaglike omstandighede net jou seëninge te begin tel en te vergeet van die storm wat om jou kop woed? Is dit wat God van ons vra, wat ons moet doen wanneer dinge vir ons moeilik raak? Dit klink nie vir my soos die Here en soos die Bybel nie. Met alle respek, God tree nie so harteloos op teenoor ons nie. Persoonlik is ek absoluut oortuig daarvan dat God ons veels te lief het om so ‘n absurde ding van ons te vra.

 

  1. Jeremia help ons om ‘n oomblik weg te kyk van die storm af.

Nou wat stel Jeremia dan voor? Jeremia roep ons nie op om die storm te ignoreer nie, want ons dit in elk geval nooit regkry nie. Hy vra nie van ons die onmoontlike nie. Hy nooi jou eerder, om net vir ‘n oomblik weg te kyk van ons storms af, en vir God raak te sien. Jeremia kom herinner ons hier aan wie ons God is. Maar die Here is die ware God: Hy is die lewende God, die Koning vir altyd...” sê hy vir ons.

 

En so besef ek dan skielik, te midde van die storm wat om jou woed, lê die oplossing vir jou nie daarin om die regte dinge te doen en dan sal dit weggaan nie. Die oplossing lê nie in die een of ander moedige daad van ons kant af, om jou voet dwars te sit vir die storm en net genoeg te glo, net vas genoeg te staan – asof jy dit ooit sou kon regkry! – nie. Die oplossing lê om die waarheid te sê, glad nie in onsself nie.

 

Ons oplossing lê in ‘n Persoon. “Die God van Jakob is nie soos hulle nie, Hy is die Skepper van alles en almal. Israel is die volk wat aan Hom behoort.” Ons Here is nie soos ‘n magtelose mensgemaakte afgod wat jou niks kan help nie. Hy weet presies wie aan Hom behoort. Hy het in Jeremia se tyd geweet wie van die Israeliete het regtig aan Hom behoort, wie regtig aan Hom toegewy was, en Hy weet vandag nog wie regtig aan Hom behoort. Nie wie super-gelowiges is wat nooit foute maak nie, maar wie van Hom afhanklik is en net op Hom vertrou. Hy weet wie sy kinders is. En Hy kan help. Daarom kan Jeremia afsluit: “Die Here die Almagtige is sy Naam.”

 

En so bring dit my toe onverwags weer by my gunsteling-Psalm uit. Julle luister nou al dertig jaar na my. Niemand sal verras  wees dat dit my by Psalm 62:6-9 bring nie. “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.” Vergeet van stry teen die storm. Vergeet van self die stryd voer. Jy het ‘n Toevlug. Daar is Een na wie jy kan vlug, en by wie jy alles net so kan laat. En dis nie net ‘n ou-testamentiese gedagte nie. Ek hoor die eggo daarvan wanneer Jesus self eeue later sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

 

En dit is die antwoord, wanneer die lewenstorme woedend om jou slaan, en jy gans ontmoedig, vrees om te vergaan. In plaas daarvan om jou seëninge te tel, vlug na Jesus toe. God wil jou beskerm soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke wegsteek. Stort julle hart voor Hom uit, sê Psalm 62, want God is vir ons ‘n toevlug...

AMEN