2 Konings 4:8-26
Datum: 10 Mei 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Jy kan nie ’n ou hond nuwe truuks leer nie! Gelukkig is dit nie deel van ’n Christen se lewensuitkyk nie. Ons kan elke dag nuut begin. Oorbegin.
Dalk is hierdie tyd van saamwees ’n goeie tyd vir ’n nuwe begin. ’n Nuwe begin saam met my en my gesin.
Ek wil jou vir ’n oomblik terugneem na ’n tyd en plek voordat LOCKDOWN sy tande in ons ingeslaan het.
’n Dogtertjie sit vol opwinding vir ’n ouer en wag, want daar is so baie wat sy wil deel en vertel na haar dag by die speelgroep. Sy hoor die motorthek wat oopskuif, die motorhuisdeur kraak terwyl dit stadig oopmaak. Sy hoor die motordeur toeklap en skielik staan Pappa in die deur. Afgemat deur al die werkspanning sê hy vir die dogtertjie: Nie nou nie. Later. Ek is besig, gaan kyk televisie.
Van die bekendste woorde binne ’n gesin se woordeskat.
Ons gee hulle ontwerpersklere en rekenaarspeletjies, maar ons gee nie aan hulle wat hulle die meeste na smag nie.... en dit is ons tyd. En dan word sy groot en haar vriende en vriendinne word haar klankbord. Sy onttrek haarself en leef binne haar eie wêreld. Totdat die ergste gebeur en ons ons onsself afvra: Waar het ek as ouer gefaal? Dan is dit ietwat te laat!
Elisa het nie geweet wat gebeur het nie. Maar hy besef dat daar moeilikheid is, andersins sou hierdie ma, die Sunémmitiese vrou, nie op ‘n weeksdag, sonder ‘n afspraak hom besoek het nie.
Elisa stuur sy dienskneg vooruit om die vrou te gaan groet.
Gaan dit goed met jou?
Gaan dit goed met jou man?
Gaan dit goed met jou kind?
Op Moedersdag vermoed ek dat hierdie drie vrae relevant is vir vandag net soos dit was, drie duisend jaar gelede.
Elisa was ‘n gehoorsame profeet en het vreesloos God se Woord verkondig. En hy, Elisa, was die stem vir die randfigure van daardie tyd. Elisa se werk word daaraan geken dat hy n sagte hart vir die afvlerk voëltjies gehad het. Sunnem was n soort deurgangsroete vanwaar hy sy bediening gedoen het. Een van die paartjies in die dorp nooi hom vir ete en hulle raak geheg aan die profeet. Soveel so dat die vrou aan haar man voorstel dat hulle ‘n bovertrek aanbou, spesiaal vir die profeet. Sy sal dit dan vir Elisa inrig sodat hy daar gemaklik rus kan vind. Gasvryheid by uitnemendheid. Ek wonder hoe ek sou optree as ek in haar man se skoene gestaan het? Om ‘n ekstra vertrek vir ‘n vreemdeling aan te bou sou my ongemaklik gemaak het. ‘n Nuwe vertrek in my huis net vir daardie tye wanneer hy in die dorp is. Ek sou gedink het dat Carina die kluts kwyt is.
Maar dit is nie die gasvryheid waaraan ons gewoond is nie. Dit is daardie ekstra myl wat gestap word vir ‘n man van God, alhoewel hy eintlik ‘n vreemdeling vir hulle was.
Elisa was so dankbaar teenoor hierdie gesin se gasvryheid dat hy die vrou na sy kamer ontbied en sy hoor, waaroor baie vrouens al van gedroom het, toe die profeet vir haar sê: “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ‘n seuntjie in jou arms vashou.” Mens kan die seer hoor wanneer sy sê: U is ’n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!”
En die jaar het verbygegaan en net soos Elisa vir haar gesê het, het dit gebeur. Die seuntjie is gebore en hulle het vir altyd gelukkig saam gelewe. Reg? Verkeerd. Nee, in hierdie lewe werk dinge nie altyd so uit vir ons nie. Op ‘n dag het die seun vir sy pa in oestyd op die lande gaan kuier. Daar ontwikkel die seun ‘n verskriklike hoofpyn en hy word terug gedra huistoe waar hy op sy ma se skoot sterf. Ek kan myself amper indink wat sy vir Elisa sou sê: EK het jou mos gesê. Jy het my mislei.
- MA, HOE GAAN DIT MET JOU?
Ek wil die Ma’s vanoggend vra. Hoe gaan dit met julle? Met al julle verantwoordelikhede en die reuse taak op julle skouers, gekoppel aan al die verwagtinge teenoor jou as moeder. Hoe gaan dit regtig met julle?
EK het dit al baie gesê en wil dit graag herhaal. Die krag van die vrou mag nooit onderskat word nie. As die land se moeders faal, faal die land. As ‘n land se moeders toegee aan versoekings en hul morele waardes oorboord gooi gaan dit kort voor lank die pad wees wat ‘n land gaan volg. Die hand wat die wiegie skud, is die hand wat die wêreld regeer.
Hierdie vrou van 2 Konings is ‘n vrou met durf en omgee. Ons sien dit in die wyse waarop sy Elisa hanteer. Sy is lojaal en getrou aan haar man alhoewel hy nie vir haar kinders kon gee nie. Natuurlik sou sy ‘n goeie ma vir haar kinders kon wees alhoewel sy kinderloos was.
Maar hoe lyk ‘n goeie ma?
Is dit iemand wat haar kinders eindeloos bederf? Dalk moet ons die kenners vra. ‘n Paneel kenners was dieselfde vraag gevra: Hoe lyk ‘n goeie ma?
Hierdie kenners het een ding in gemeen gehad. Hulle almal was in Graad R gewees. Alhoewel almal van hulle se gemiddelde ouderdom 6 jaar was, dink ek dat die kwaliteite wat hulle van hulle ma’s genoem het, geen verdere verduideliking nodig het nie:
Mamma lees vir my stories.
Mamma bad my.
Mamma maak lekker kos.
Mamma speel saam met my.
Mamma het my lief.
Dit is lekker wanneer mamma sê dat dit etenstyd is.
Mamma doen alles vir almal in die huis.
Mamma sorg vir my.
Mamma is mooi.
Mamma raas nie met my nie.
Mamma praat sag met my.
Een Woord staan uit tussen al hierdie opmerkings deur die kenners.
Tyd.... Mamma spandeer tyd saam met my.
Tyd, en om daar te wees vir mekaar. Dalk het ons in hierdie grendeltyd die ou waarders en gewoontes afgestof en besef ons dat gesinstyd kosbaar is. Kinders moet eendag kan onthou dat my ma ALTYD daar was in my lewe. Ongeag wat ook al gebeur het.
Mammas, die ure is uitmergelend, julle talente en gawes is baie, julle geduld is eindeloos, en die salaris is lagwekkend. Hoe gaan dit met jou?
- Gaan dit goed met jou man?
Kom ek vra jou nog iets. Hoe gaan dit met jou man? Kom hy sy gesinsverantwoordelikhede na? Ek wil nie op tone trap nie, maar ‘n pa kan nie afwesig wees nie. Pa’s moet hulle titel as Pa, ernstig opneem. Vers 18. 18Toe die seun groter geword het, het hy op ’n dag na sy pa-hulle toe gegaan waar hulle besig was om te oes. Het jy agtergekom wat die pa hier gedoen het? Eina, my kop, my kop, sê die seun. En wat doen die pa. Die pa sê vir sy dienskneg: Vat die kind na sy ma toe. Vir ‘n dienskneg! Dit wat hyself moet doen, doen ‘n dienskneg terwyl hy aangaan met sy werk. Die seun kla nie omrede hy dalk verveeld is nie. Hy is ernstig siek! En hy gee sy dienskneg opdrag om die kind na sy ma te vat.
Ons hoor gereeld dat kinders vir hul pa’s sê: My kop my hart, my siel. En wat doen sommige pa’s? Hulle hou aan werk. Nie nou nie, gaan vra jou ma. Gaan kyk televisie. Moenie my nou pla nie.
Ma, gaan dit goed met jou?
Gaan dit goed met jou man?
Laastens, gaan dit goed met jou kind?
Sien jy die toewyding van hierdie ma in die teks? Sy sal alles in haar vermoë doen om haar kind te red. Sy sal haar arms af baklei vir haar kind. Kinders moet beskerm word. Dit is hoekom jy die titel Ma dra. Maar ek besef dat sommige van ons lelik kan raak as dit kom by die beskerming van ons kinders. Soms kan ons oor-beskermend wees. Selfs wanneer ons kinders alreeds volwassenes is wil ons hulle onder ons vlerke hou. Maar op ‘n stadium moet ons hulle loslaat sodat hulle self die mas kan opkom. Kinders moet onder toesig op hul eie leer. Jy kan die pad wys, maar jy kan nie die pad namens jou kind stap nie.
Het jy agtergekom dat die ma in die teks die seun toelaat om vir sy pa wat besig is om te oes te gaan gaan hallo sê. Sy laat toe dat hy ’n groot seun kan wees. Natuurlik is daar risiko’s daaraan verbonde. Maar daar is ook ’n risiko daaraan verbonde om hulle vas te hou.
Maar kyk na die uiteenlopende toewyding van die ouers. Hoe verskillend reageer die pa en die ma tydens die krisis waarin hulle seun verkeer. Die seun is op die drumpel van die dood en die Pa raak nie eers aan die kind nie. Die pa gee die dienskneg opdrag om die kind op te tel en na sy ma te vat. Eer en skande. Ek verlaag myself nie om te buk en die kind op te tel nie. Dit is ’n dienskneg se werk.
Vaderskap beteken om verantwoordelikheid vir jou kind se welsyn te neem. Daar is nie belangriker dinge in hierdie lewe as die versorging van jou kind nie.
Luister hoe hierdie verhaal eindig. (verse 26b – 37) Hierdie vrou se geloof en toewyding in God was onbeskryflik groot.
Moeders. Daar is soveel dinge wat spanning veroorsaak in julle lewens en ek besef dat die verwagtinge wat teenoor julle gekoester word, groot is. Maar onthou - Julle kinders hou julle dop en doen soos julle doen. Hulle leef soos julle leef. Wat hulle by julle hoor, leef hulle uit.
Dit vat “guts” om ’n ma te wees in die tyd waarin ons onsself bevind. Is dit nie so nie? Om jou kinders te leer om vir die Here lief te wees is uitdagend. Om hulle te help groei in kennis en in geloof moet spontaan gebeur. Dit is ’n voltydse werk om jou kinders van Jesus te vertel en Jesus te leef. Dit is jou nommer een toewyding. Want dit is waaroor dit in hierdie Skrifgedeelte gaan. Dit gaan oor ’n profeet wat lief is vir God en wat sy naaste lief het soos hyself.
SLOT
En dit bring ons terug by grendeltyd en daardie ou hond wat sogenaamd nie nuwe truuks geleer kan word nie. Ons kan nuut begin. Ons kan tyd inruim. Gesinstyd.
Ma, gaan dit goed met jou, gaan dit goed met jou man en...gaan dit goed met jou kind?
AMEN