2 Konings 4:8-26
Datum: 14 Mei 2017
Prediker: Chris Barnardo
Dink vanoggend terug aan jou ma. Dink vir ’n oomblik terug aan jou kinderlewe, jou grootwordjare. Tye saam met jou ma. Dink aan die goeie tye en die die seerkrytye. Dink vir ’n oomblik terug. Dink terug aan jou ma-wees tyd. Dink vir ’n oomblik terug aan die tye toe toe jy die nuus nie vir jouself kon hou nie? Die afwagting? Die vreugde en die hartseer. Onthou jy nog?
Ons sal baie lank hier moet sit as ons mekaar wil vertel van Moederskap. Ek glo dat die kinders julle vandag grensloos gaan bederf en juis daarom sal ek nie vandag my tyd wil oorskry nie. Vanogged het ons ’n merkwaardige vrou van Suném ontmoet terwyl Petro vanuit 2 Konings 4 vir ons voorgelees het. Sy het die gawe van gasvryheid openbaar en haar oor die profeet Elisa ontferm. Haar huis se mense het regtig moeite gedoen om hulle oor Elisa te ontferm. Hierdie gesin het lief geraak vir hulle dominee Elisa en toegesien dat hy versorg is wanneer hy in Suném die Woord bedien het. Hulle het regtig uit hulle pad gegaan om Elisa te laat tuis voel. Dit was om daardie spreekwoordelike ekstra myl saam met ‘n vreemdeling te stap. En hierdie vrou het nie die moeite ontsien om Elisa tuis te laat voel nie.
Liewe vriende, hierdie vrou van Suném se gasvryheid teenoor Elisa is nie maar net goeie maniere wat sy openbaar nie. Daar is ‘n dieper betekenis wat ons vanoggend nie mag miskyk nie. Hierdie dieper betekenis geld vanoggend nie net net vir ons moeders nie. Elkeen van ons moet hiervan kennis neem. EN dit is:
OM PLEK TE MAAK VIR GOD
Sy sien die man van die Here en maak vir hom, en so ook vir die Here, plek in haar lewe. Met ‘n gebaar van gasvryheid teenoor Elisa word die Here ingenooi in haar lewe. ‘n Klein treetjie op die pad van geloof maak die deur oop vir die Here om in haar lewe teenwoordig te wees.
Somtyds is al wat nodig is om te sê: Here Jesus, ek nooi u in my lewe in.
Die boodskap van die evangelie is so eenvoudig: Rom10:9 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
Al wat nodig is, is ‘n eerlike belydenis dat Jesus leef, ‘n gewilligheid om Hom te volg en om te glo dat Hy opgestaan het uit die dood.
‘n Christen is iemand wat glo in die opstanding van Jesus en sy of haar leefwyse getuig van hierdie gebeurtenis.
Dit gebeur soms dat mense betrokke raak in ‘n gemeente sonder om daadwerklik hulleself vir die Here te gee....kom ons gee sulke mense tyd. Dinge gebeur nie altyd vinnig nie. Vertrou net op die Here.
Moet nooit ‘n klein begin as minderwaardig ag of te gering ag nie. Dit werk so in die lewe, in die kerk en in enige bediening wat ons aanpak vir die uitbreiding van God se koninkryk.
TEVREDENHEID IN ELKE SITUASIE
Hierdie vrou was tevrede met die situasie waarin sy verkeer. Sy wou niks meer hê nie. Sy was tevrede met haar omstandighede.
Die Here vra ook aan ons die vraag: “Wat kan ek vir jou doen? Hierdie vrou het aanvanklik gesê dat sy tussen haar mense is en tevrede is met wat sy het.
Dit herinner my aan Fil. 4:12 en 13: Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Vriende ware tevredenheid is skaars. Ons wil altyd daardie ietsie ekstra hê sodat ons gelukkig kan wees.
Nee vriende, geluk en tevredenheid kom van binne en meeste van alles, deur God te ken. Dit lei tot vrede, ‘n kalmte wat oor my kom.
Psalm 131 verwoord dit vir my die beste:
’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.
Lees gerus ook Romeine 8:28. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Dit is waar hierdie vrou haarself bevind. Haar adres is TEVREDENHEID.
Maar Elisa beloof aan haar ‘n seun. Sy verwag nie regtig enigiets van die Here nie. Een vertaling sê: Moenie my hoopvol maak nie. Daardie deur wat sy in haar gedagtes toegesluit het, maak die Here wawyd oop! Hoeveel keer was ek en jy al huiwerig om te glo dat die Here enigiets vir ons sal doen?
God is die wonder-gewer!
Maar dit is nie die einde van die verhaal nie! Hierdie vrou se geloof word getoets meer as ooit tevore! Gevul met hartseer en verlies, sy het haar liefling seun verloor, het sy nog hoop want sy het nie haar geloof verloor nie.
Vriende, moenie verras wees wanneer moeilike omstandighede plaasvind nie. Jesus sê vir ons dat ons probleme in hierdie lewe sal hê...maar dit is Jesus wat hierdie wêreld oorwin het!
Hierdie vrou wys vir ons wat moet gebeur in moeilike omstandighede Vir haar is geloof meer as om dinge te aanvaar. Sy skakel oor na ‘’n hoër rat.
SY HET ’n VERWAGTING DAT HERE SAL INTREE
Daarom is sy haastig om by Elisa uit te kom. Sy glo vas dat die Here haar sal hoor. Dis nie leë geloof nie. Dis ’n vaste vertroue dat die Here haar nie net so sal los nie. Dit is ’n aktiewe geloof. Vol hoop en ’n verwagting.
Ek weet dat eendag alles wel sal wees. God sal voltooi wat Hy begin het. Die Here is in die opstandings-besigheid! Die Here SORG. Dis Sy werk. Dis my asemhaling van my geloof.
SLOT
Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is.
Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
Wanneer jy vrede in jou hart het dat die Here eerste kom in jou lewe, as jy vrede in jou hart het dat dat jy Hom onvoorwaardelik vertrou wat ook al met jou gebeur, bid dan en vra dat die Here sal intree en verwag dan die onverwagte.
Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
Op Moedersdag sien ek die vrou van Suném wat plek gemaak het vir God in haar lewe, op wie sy vertrou het, en gewaag het om te glo dat God vir haar uitkoms sal gee.
Is Christene in hierdie land ook op daardie punt van hulle geloof? Dit is TYD om vreesloos plek te maak vir God in ons lewens, om tevrede dit wees binne die landskap waarin ons verkeer en om God op SY Woord te vat en Hom te vertrou.
DIT IS TYD