ROM. 13:10-14

Datum: 1 Desember 2019 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

BEURTKRAG

Beurtkrag het ’n woord geword wat baie mense met afgryse vul. Wonder bo wonder kan ons asemskep. Die media gee ons daagliks terugvoer dat beurtkrag net-net nie instel gaan word nie. Die afgelope Vrydag het ek in Netwerk24 gelees dat Suid-Afrika nie ’n SWART KERSFEES gaan beleef nie. Ons President het ook in die afgelope in die week bevestig dat Medupi se sesde turbine volgende jaar aktief sal wees. Dis goeie nuus Dit help...so ’n bietjie. Ek vertrou dat hul nuwe hoof wat binnekort die leisels oorneem dinge kan regruk. Dis net vreemd dat ’n hele klomp mense genader is om die hoof van ESKOM te word en almal het nee dankie gesê. Mnr. André de Ruyter het ’n groot styl, berg om te klim. Hopelik sal daar hierdie keer nie politieke inmenging plaasvind nie.

Vriende die Krag Fiasko wat ons beleef...die spreekwoordelike en letterlike lewe van duisternis, loop vir baie van ons uit op frustrasie, mismoedigheid, magteloosheid, woede en ander emosies wat ek nie graag in goeie geselskap wil noem nie. Dit affekteer almal en het ‘n invloed op alles, huishoudings, sakeondernemings, die ekonomie, hospitale, skole, die kwaliteit van werk – die lys is eindeloos. Selfs misdaad neem toe in hierdie duisternis tye.

Ons maak ESKOM en almal wat by ESKOM werk die sondebokke. Ons oordeel sonder feite en onskuldige ESKOM werknemers loop ook deur.

PAULUS VERWYS OOK NA DUISTERNIS

Ons beurtkrag fiasko behoort ons ’n idee te gee van wat Paulus hier met ’n lewe van duisternis bedoel. Paulus waarsku teen die werke van die duisternis. Alles word hierdeur geaffekteer. Paulus gee die dinge name wat in die duisternis floreer. Dit is daardie duistere dinge wat afbrekend en negatief inwerk op ’n samelewing.

Lidmate, families en gemeenskappe se bestaan en geestelike lewe word deur die werke van die duisternis in hulle lewens affekteer.  Hierdie duisternis kan uitloop op frustrasie, mismoedigheid, magteloosheid en woede en vooroordele. Wanneer mense self in die donker staan is dit so maklik om vingers te wys en vooroordele te hê.

Ons maak alles en almal rondom ons die sondebokke. Ons oordeel sonder feite en onskuldige weerlose mense loop ook deur.

Kortom, die werke van die duisternis vier hoogty. Beurtkrag is aan die orde van die dag. Steur ons onsself enigsins aan vers 14? 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Daar is natuurlik ‘n alternatief! ‘n Alternatief wat gewoonlik ligtelik opgeneem word.  Kom ons gesels oor die alternatief....en dan moet ons vir mekaar sê:

MOET NOOIT DIE LIG LIGTELIK OPNEEM NIE

Ons vier vanoggend die die eerste Sondag van die nuwe kerklike jaar. ’n Tyd wat veronderstel is om propvol vreugde, afwagting en blydskap te wees want ons is op pad na Kersfees.

En dit laat my dink aan daardie paspoortfoto van my wat in my paspoort geplak is. Ek kyk daarna en ek sê vir myself: “ Maar dit kan mos nie ek wees nie?” Vriende, onlangs het Doeane beamptes by die Oranjerivier ook so gedink. Hulle kon ook nie glo dat dit ek op die foto is nie. Op pad na Namibië, met ’n lied in my hart, toerklere wat by mekaar pas, vellies en vol gesels en grappies, het dit mooipraat gekos om te bewys dat dit ek op die paspoortfoto is.

Maar met die terugkomslag het dinge anders uitgewerk. Die doeanebeamptes het net een kyk na my paspoort se foto gegee... en hul stempel op die paspoort aangebring. Ek was moeg en ongeduldig, my klere was vol stof en ek het vuil gevoel,.... en wou net huis toe gaan. En om alles te kroon het ek na ons kleinkinders verlang.

Vriende, Wanneer jy begin lyk soos jou pasoortfoto, is dit tyd om huis toe te gaan.

Ons geestelike paspoorte moet ’n ander storie vertel. ’n Storie van saam op pad hemel toe. Opwinding en blydskap, begrip, omgee, deernis, sorg en liefde behoort in daardie paspoortfoto vasgevang te wees.

Hoe lyk jou geestelike paspoortfoto? Is daar ’n donkerte oor jou, of skyn die lig van afwagting en opgewondenheid uit die foto? Jou geestelike paspoort moet ’n teken wees dat jy op pad is in die spore van Jesus. Jou geestelike paspoort moet die storie vertel van lewe soos ‘n volgeling van die Here Jesus Christus, v 14.

Want dit is Jesus se beloftes wat my laat glimlag en moed skep. Advent skep afwagting, Jesus is op pad na ons toe en die tyd is NIE aan ons kant nie. Hiermee in gedagte sukkel ek geensins om die wapens van die Lig, die laaste deel van vers 12,  op te neem nie. Respek, afhanklikheid, toewyding, eenvoud, getrouheid en eerbied vir God se dinge. Dis wanneer ek besluit om vernielde  mense op te tel sodat ons saam in die voetspore van Jesus kan leef.

ONS HET KRAG, DIE LIG IS BESKIKBAAR

Ek skep moed vir die lewe sonder krag. Ek skep moed want ek het krag! Krag wat ek van die Here ontvang, want Sy Gees is by my.

Ek vergeet net soms dat ek nie self die lig is nie, maar dat ek net die heerlikheid van die Lig, nl. Jesus, moet vertoon. Ek kan net van die Lig getuig, iets van sy heerlikheid wys deur die fasette van my lewe, of dit nou my huwelik en gesin  is, of my beroep, my ontspanning of my dienswerk by die kerk en daar buite in die wêreld.

Om sy doeltreffende getuie te wees beteken ons moet deursigtig raak sodat ander Hom ook kan raaksien.

Ons  woorde en dade mag nooit in Jesus se pad staan nie.

Of ander mense se uitsig op Hom verberg nie.

Vanoggend is ’n goeie tyd om ’n nuwe geestelike paspoortfoto te laat neem. Een wat wys dat jy in die voetspore van Jesus leef en daarna uitsien om hemel toe te loop.

En terwyl ons op die roete is, kan ons gerus stop en afbuk, en die mense optel wat deur die lewe verniel is, en hulle saamdra hemel toe.

AMEN