OPENBARING 4: 1-5; 5:1-10
Datum: 24 Mei 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Vriende, welkom by kwarantyn kerk.
Dit is Pinkstertyd en ons Tema is ’n 20-20 Geloofsvisie vir 2020.
Ek wil julle ontgrendel en saamneem op ’n reis na gemeentes. Simboliese universele gemeentes waarvan ek en jy ook lidmate kan wees. Ons toergids is Johannes en die eerste gemeente by wie ons aandoen is die gemeente in die hemel. Dit is nodig dat ons reis daar begin. Want dit sal vir ons perspektief gee van wat veronderstel is om te gebeur in gemeentes sodat ons met ’n 20-20 geloofsvisie na die sewe gemeentes kan kyk wanneer ons in die komende week by hulle besoek aflê.
Ek onderneem om nie baie van jou tyd tydens hierdie Pinksterreis te gebruik nie. Vanoggend se geleentheid kan dalk bietjie langer neem omrede ek inleidend tot hierdie week bietjie agtergrond wil gee, maar tydens elke geleentheid vêrder aan sal ek poog om nie baie van jou tyd of data in beslag te neem nie.
Ons glo en vertrou dat die Heilige Gees ons radikaal gaan verander en vernuwe tydens hierdie 9 geleenthede wat voorlê. Soos daar in Engels gesê word: Embrace Yourself”, want die Here is besig om deur die krag van die Heilige Gees die gety te draai en Hy het jou nodig in sy span.
Hy wil vir jou 20-20 geloofsvisie gee sodat jy skerp en vêrder as CORONA kan kyk. Jy moet die wenstreep raaksien soos ons daarvan lees in Filipense 3 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
Hierdie Pinksterreeks kan jou lewe verander. Dit is nie ’n Bybelskool nie. Indien jy wil dieper delf in die Boek Openbaring wil ek jou uitnooi om by Hannes se Bybelstudie hieroor aan te sluit of om by E-Kerk in te skakel en die video’s van Stephan Joubert oor hierdie Bybelboek, te bestudeer.
Die boek Openbaring gaan eintlik oor Jesus en sy gemeente en oor die vraag wat gemeentes te doen staan in die deurmekaar tye waarin hulle hul bevind.
Daarom nooi Johannes ons as medegelowiges uit om saam met hom besoek af te lê by die gemeente in die hemel. Hy neem ons saam om in die troonsaal te staan en ons te verwonder aan die erediens wat daar plaasvind.
Voordat ons saam met Johannes na die hemelse gemeente se erediens vertrek wil ek eers n kers aansteek. ‘n Simbool van Jesus se Teenwoordigheid.
Ons besoek vanoggend Groenland waar Kosie en sy gesin vir ons die kers aansteek.
Dankie Kosie, Helene, Piet, Louise en die kleinspan. Ons waardeer dit so baie.
Vriende, die eerste boodskap wat ons hier moet hoor is God se mag en koningskap.
Wat Johannes aan die gemeentes wou sê met hierdie prentjie was dat daar nog ’n troon is – wat uittroon bo die trone van die wêreld! Die Romeinse keiser is nie die Here nie: God alleen is die Here!
Tweedens hoor ons dat Johannes in trane uitbars. Hoekom? Die boekrol wat in God se hand is bevat die goeie, gelukkige afloop van die geskiedenis van God se skepping. God se raadsplan. Onthou julle nog Lukas 11 vers 2 toe Jesus sy dissipels leer bid het? laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Johannes besef dat as die boekrol nie oopgemaak kan word nie, God se wil nie op aarde kan geskied soos in die hemel nie. Wat waar was in die hemel, moes nou ook deurgevoer word na die aarde. En die boekrol se oopmaak was die sleutel vir die ontknoping van die verhaal.
Johannes huil omdat, terwyl hy die voorreg het om die hemelse toneel te aanskou, hy ook weet hoe dit op aarde lyk. Hy weet van die gemeentes, hy weet van hulle stryd en swaarkry en versoekings, hy weet dat hulle krag min is. Hy weet ook van die skepping wat sug en kreun onder die vloek van die sonde; hy weet van Rome, van die twee diere en van Satan wat God se skepping verniel en mislei. Hy huil omdat hy die heiliges hoor roep: “Hoe lank nog Here?” Terwyl Johannes nog huil oor niemand die boekrol kan oopmaak nie, hoor hy dat `n ouderling begin sê: “Moenie huil nie. Kyk die Leeu uit die stam van Juda, die afstammeling van Dawid het die oorwinning behaal en kan die boek oopmaak!”
Toe Johannes kyk, sien hy – tussen die troon en die ouderlinge – nie ’n Leeu nie, maar ’n Lam staan! Johannes sien vir Jesus. Die Lam wat geslag is (vers 6, 9, 12) en wie se bloed sou vloei sodat mense uit alle volke en stamme en nasies losgekoop kon word (vers 9). Dit is hoe ons gered is.
Die leeu is ook die lam. Hy sien krag lê juis in swakheid. Vir ons is dit moeilik om te verteer. Ons hou meer van die Leeu as van die Lam. Ons sien Jesus liewer op ’n perd as op ’n donkie. Ons hou meer van krag as van swakheid. Ons wil soos wenners lyk en nie soos verloorders nie.
My liewe vriende die storie van Jesus is nie ’n kragstorie nie, maar ’n liefdestorie. Die krag van die evangelie lê nie in mag en geweld nie, maar in liefde. Liefde sal die wêreld verander. Liefde verander alles! Dit is wat ons saam met Johannes in die hemelse gemeente beleef.
En dit is die merkers waarvan ons kennis moet neem wanneer ons na ons eie gemeente kyk. Staan God sentraal? Sien ons en beleef ons vir Jesus? Is die Heilige Gees teenwoordig?
Gemeentes kan wonderlike goed doen, nie omdat gemeentes of mense so wonderlik is nie, maar omdat ons ’n wonderlike en groot God dien.
Die kerk sal nie met slim planne of nuwe tegnieke vernuwe kan word nie. Die lewe en energie van die kerk hang saam met hoe duidelik die kerk se visie op God is en hoe helder ons die evangelie van Christus verstaan. Dit is so: ons verloor stoom as ons visie op God vertroebel raak en die omstandighede rondom ons ons oorweldig – amper soos Petrus wat begin sink het toe hy sy oë van Jesus afhaal en na die water begin kyk het. Nee, ons het ’n 20-20 geloofsvisie nodig sodat ons kan fokus op die wenstreep.
Vanaand om 7 uur ry ons die dorpie Efese binne op ons reis na die sewe gemeentes in Klien-Asië. Ons besoek hulle en kyk wat kan ons by hulle leer en of hulle die merkers van die gemeente in die hemel in ag geneem het. Ons gaan kyk of daardie sewe gemeentes in ’n 20-20 geloofsvisie gehad het. Geniet daardie middagete en middagslapie. Ons sien mekaar vanaand om 7 uur.
SEËNGROETE
DIE GENADE VAN ONS HERE Jesus Christus
DIE LIEFDE VAN GOD
DIE GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGE GEES
AMEN
Liewe Vriende,
Die werk van die Here moet voortgaan.
De Eike se kerkraad vertrou die Here.
Daarom sal al die dankoffers wat ontvang word
Vir Bybelverspreiding gaan.
Maak gebruik van SNAPSCAN, die QR Kode sal nou op die skerm verskyn.
Wanneer jy op FB of De Eike se webblad is, hoef jy net met jou vinger op die SNAPSCAN skakel te druk wat jou outomaties na die belalingsopsie sal neem.
Jy kan ook van ’n Internetoorplasing gebruik maak,
Merk dit asb. duidelik vir Bybelverspreiding.
Wees gereed, Wees getrou, Wees gesond