Job 38: 1-11
Datum: 23 Junie 2024 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
‘N ANTWOORD VANUIT DIE STORMWIND: WEES STIL EN LUISTER - WANT EK IS GOD
- INLEIDING
Ek vermoed dat baie van ons al op een of ander tyd in ons lewens met Job se omstandighede ge-identifiseer het. Moedverloor se vlakte. Raak geboul deur ‘n opslagbal, uitgehardloop nadat ek alles probeer het om te red wat te redde is. Planne wat opgeraak het. Weer van voor af moes begin. En dan moes hoor waarom dinge nie uitgewerk het nie.
Hoeveel maal hoor ons nie dat mense skuldig voel weens dit wat ander mense sê nie. Dinge soos: ”Die Here straf jou en daarom is jy tans in hierdie ongemaklike omstandighede. Jy glo nie goed genoeg nie. Daar moet ‘n oorsaak wees wat lei tot hierdie gevolg. Job se vriende het ook destyds dieselfde roete gevolg en vir Job op ‘n “beskuldigings - reis” geneem. “Job, jy het êrens in jou verlede drooggemaak, daarom word jy so gestraf deur die Here.” Vriende, kan dit werklik so wees want volgens die boek Job was Job ‘n goeie mens gewees.
Vanoggend sien ons die ander kant wanneer God vir Job antwoord. Nadat Job en sy vriende lank gestry het oor die rede vir sy lyding, en sy vriende goedkoop eenvoudige antwoorde vir Job gegee het, praat God uiteindelik en onthul Hy Sy grootheid en mag. Hierdie elf verse gaan ons vanoggend help om ons vertroue in God se hande te plaas te midde van die lewensstorms wat rondom ons woed.
- HY IS ONS GOD WAT ALLES DRA EN NIEMAND OOIT OM BYSTAND VRA.
Job kom op parade en God praat: "Waar was jy toe Ek die aarde gemaak het? Bly eerder stil as jy niks het om te sê nie Job... Waar was jy? Hy is ons God wat ALLES dra en niemand ooit om bystand vra. Kom ons prys Hom Halleluja. Lied 456 vers 2 se begin) Ons God besit alle mag. Hy het die vermoë om enigiets tot stand te bring wat Hy besluit om te doen mét of sónder om gebruik te maak van enige bron buite Homself. (Job 38:4; 42:2; Ps. 33:6-9). Soos Karl Barth, die bekende teoloog dit verwoord en sê: God is gans anders.” Ons kennis en begrip is so beperk, maar God se wysheid en mag is onbeperk. En dit is die fondament waarop ons ons vertroue moet bou, wetende dat ons God wat die heelal geskep het, ook oor ons lewens regeer, selfs oor die CHAOS.
- GOD IS IN BEHEER, SELFS OOR DIE CHAOS
Die see word in die Bybel as 'n simbool van chaos gesien. En God het aan hierdie chaos perke gestel.
Vers 11-Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’
Selfs die magtigste en mees onvoorspelbare elemente van die natuur is onder God se beheer. Net soos God beheer oor die see het, het Hy ook beheer oor die chaos en storms in ons lewens. Hierdie waarheid behoort ons te bemoedig en ons vertroue in God te versterk, selfs wanneer ons nie verstaan waarom ons sekere beproewings deurmaak nie. Ons God wat ons aanbid, kan met niks en niemand vergelyk word nie. Hy is gans anders – Hy is God!
- HY IS GOD, DIE STERKE GOD!
Hy is God, die sterke God...hoekom sal ek op my lewensroete bang en onseker wees? Job moes meer vertroue in God gehad het en minder na sy vriende geluister het. Die roete waarop Job homself bevind is moeilik, dit is vol verlies en seer, MAAR God is DAAR, God is TEENWOORDIG en dit moes vir Job berusting en troos bring. Wanneer ons met ons eie vrae in krisisse worstel, moet ons onthou dat die uiteindelike antwoord in God self gevind word. Ons mag nie altyd die "waarom" van ons lyding verstaan nie, maar ons kan vertrou op die "Waartoe en die Wie" – die almagtige, wyse en liefdevolle God. Wanneer ons vasstaan in ons geloof in die lewende Almagtige God, sal ons geseën word.
- SLOT
Vanoggend se Skriflesing herinner ons aan God se grootheid en ons kleinheid. Johannes Calvyn het altyd sy mus voor sy oë gehou wanneer hy van God gepraat het. In diepe respek en agting teenoor ons lewende almagtige God...want....Liewe vriende....God is: Alwetend, Alomteenwoordig, Ewig, Onveranderlik, Onverstaanbaar, Selfstandig, Selfgenoegsaam, Oneindig, Onoortreflik en Soewerein – God weet alles en is volkome in beheer;
Daarom my liewe geloofsfamilie....roep dit ons op om ons vertroue in God te plaas, selfs wanneer ons omstandighede onseker of chaoties lyk.
Mag ons, soos Job, erken: Job 42:2 “Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Kom... laat ons bekers oorloop van dankbaarheid, vreugde, vrede en liefde want ons anker is ons geloof vertroue in die Skepper en Onderhouer van alle dinge, Hy wat ons lewens met liefde en wysheid regeer.
Amen.