Datum: 31 Mei 2026 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Elke jaar, op die eerste Sondag ná Pinkster, kom ons as gelowiges bymekaar om Drie-Eenheidsondag te vier. as ons eerlik is, is dit nie maklik om te verstaan nie. Die woorde “Drie-Eenheid” of “Triniteit” probeer iets beskryf wat eintlik groter is as ons taal en groter as ons verstand. Ons aanbid nie drie gode nie. Ons glo in een God wat Homself aan ons openbaar as Vader, Seun en Heilige Gees.
Baie van ons het die eerste keer van die Drie-Eenheid in die Sondagskool gehoor. Daar was eenvoudige verduidelikings en voorbeelde wat vir ons as kinders gehelp het. Maar dan word ’n mens groot, beleef die lewe met al sy kompleksiteite, pyn, twyfel en vrae. Skielik besef jy dat die misterie van God baie groter is as die prentjies waarmee jy grootgeword het. Dan hoor jy weer die bekende woorde: “Een God, drie Persone,” en iets in jou wil vra: “Maar hoe werk dit eintlik?”
Die waarheid is dat die Drie-Eenheid nie werk soos ’n wiskundesom wat opgelos moet word nie. Dit is nie ’n vergelyking wat ons volledig kan uitredeneer nie. Die Drie-Eenheid is eerder ’n misterie waarin ons in genooi word. Ons hoef nie eers die Drie-Eenheid volledig te verstaan voordat ons God kan aanbid nie. Daar is sekere waarhede wat nie kleiner gemaak word sodat ons dit kan verstaan en beheer nie. Sommige waarhede is juis groter sodat ons kan leer om in verwondering te wees.
Die doel van geloof is nie dat ons God volledig moet verklaar nie; die doel van geloof is dat ons Hom sal ken en ontdek dat ons deur Hom geken word. Die Drie-Eenheid herinner ons daaraan dat God nie bloot ’n idee is nie, maar ’n lewende God wat Homself aan ons openbaar in liefde en verhouding.
Wanneer ons dan Matteus 28 lees, hoor ons Jesus se bekende woorde aan sy dissipels net voor sy hemelvaart. Jesus sê vir hulle: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Jesus sê nie “in die name” van die Vader, Seun en Heilige Gees nie. Hy sê “in die Naam”. Een Naam. Een God. Wat opvallend is, is dat Jesus nie hierdie waarheid gee as ’n ingewikkelde teologiese les nie.
Dalk is dit waarom ons vandag minder moet fokus daarop om presies te verduidelik hóé “een God in drie persone” werk, en eerder moet vra hoe ’n gemeente lyk wat werklik in die Drie-enige God glo. Op Drie-Eenheidsondag word ons daarom nie geroep om alles perfek te verstaan nie. Ons word genooi om te aanbid. Ons word genooi om in verwondering stil te word voor die misterie van God. Ons word genooi om te leef as mense wat ingetrek is in die liefde van Vader, Seun en Heilige Gees. En ons word geroep om as gemeente deel te neem aan God se beweging van liefde na die wêreld toe.

