Galasiërs 2:11-21
Datum: 4 September 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
'n Snaakse ding het in Antiochië gebeur. Iets waaroor jy eintlik net jou kop kan skud, en vir jouself sê: Ek glo dit nie! Hoe kan dit gebeur, en dit nogal tussen Christene? En die ergste is dat dit nogal Petrus is wat dit gedoen het – ja, Petrus vir wie die Here nog laas die gesig gestuur het met die laken vol onrein diere. Daardie dag het Petrus geleer dat net God besluit of iets rein of onrein is, en dat ons nooit mag oordeel nie. En net die volgende dag het Petrus self gesien hoe ontvang mense wat nie Jode is nie, vir die eerste keer die Gees van God. En hoe bly die hele gemeente was toe hy hulle daarvan vertel. Dat Jesus alle onderskeid tussen Jood of Griek opgehef het. In Hand.11:18 staan daar: "Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: 'God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.'"
Jy sou nogal dink die saak is daarmee vir eens en vir altyd afgehandel. Petrus het die punt goed verstaan, en hy het daarna ‘n sendeling onder die heidennasies geword. En nou doen hierdie selfde Petrus hierdie vreemde ding....
Jy sien, daar kom toe een dag ‘n groepie Jode in Antiochië aan. Voor daardie dag, was daar geen probleem nie. Petrus het wonderlik gewerk en aan die Grieke die Evangelie verkondig. Hy het geen probleem gehad om met hulle te meng nie. Maar ewe skielik, met die Joodse Christene daar, het Petrus homself begin onttrek. Hy wou nie meer eet saam met die Griekse Christene nie.
- Julle is uit genade gered.
Paulus was in sy wese geskok toe hy daarvan hoor en het hom dadelik konfronteer. Wat maak jy, Petrus? vra Paulus hom. Hy loop vir Petrus tromp-op. Van wanneer af bestaan ons Christenskap dan nou uit die nakom van allerhande reëltjies en wetjies? Van wanneer af verdien ons ons saligheid so by God? "Ons weet tog dat 'n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo."
“Alleen deur in Jesus Christus te glo”. Dis so eenvoudig soos dit is. Dis die kern van wat dit beteken om aan die Here te behoort. Ons word gered omdat ons glo, en nie omdat ons reëls en wette gehoorsaam nie. Dit het Jesus ons tog al geleer: ons kan nie ons saligheid by God verdien deur die navolging van reëls nie, maar net deur die onvoorwaardelike navolging van Jesus Christus. Ons word gered “alleen deur in Jesus Christus te glo."
Miskien voel jy self ook bietjie gesteurd oor Petrus se gedrag. As jy daar was, sou jy dalk self ook vir Petrus wou sê: Regtig Petrus? Jy moet tog van beter weet, na al die jare wat jy saam met die Here geleef het, en al die moeite wat die Here gedoen het om jou te leer – Hy het dan selfs vir jou daardie gesig gestuur! Jy kan jou skaam dat jy nou nog nie van beter weet nie, maar jou so laat meesleur! Maar dan kom ek nie baie ver met hierdie redenasie nie.
Want dan begin die vinger terugwys na myself. Want hoe lank kom ek en jy al met die Evangelie, en met die kerk, en met die voorreg dat ons die Heilige Gees mag hê wat ons leer en lei? Wanneer laas het jy gesels met ander Christene, en gehoor wat hulle sê. Ek waarborg jou jy sal verstom staan dat hulle na al die jare in die kerk, nog só kan redeneer.
En dis hoekom Galasiërs 2 in die Bybel staan. Want hier staan die antwoord. Wat vra die Here regtig van jou? Hier staan: “’n Mens word van sonde vrygespreek deur in Jesus Christus te glo...” Deur te glo. Geloof is waaroor alles gaan. Dis die sleutelwoord in die kerk, die een vereiste wat aan ons gestel word om gered te kan word. Ons moet glo.
Maar dis nie so maklik om te sê wat geloof nou eintlik is nie, want die woordjie beteken verskillende goed vir verskillende mense. Wat bedoel Paulus as hy daarvan praat? Wat presies is dit wat die Here van ons vra?
Ek het al by meer as een geleentheid die afgelope dertig jaar vir Flip Theron aangehaal wat ons geleer het: Geloof is nie iets wat jy doen nie. Dis iets wat jy ophou om te doen. Jy word nie gered omdat jy iets doen nie, maar omdat jy ophou om self te probeer. Ophou om jou eie reëltjies te maak wat jou naby aan God moet bring. Geloof is om te laat gaan – soos die drenkeling wat hom- of haarself eenvoudig oorgee aan die lewensredder, en hom net vertrou om jou weer na veiligheid te bring. Dis vir ons ontsaglik moeilik. Daar is om die waarheid te sê niks wat vir ons moeiliker is as om dit te doen nie.
- Dood vir die Wet.
Om net oor te gee, is seker die moeilikste ding wat dissipelskap van ons kan vra. Johan het dit verlede week ook aangeraak toe hy oor die prys van dissipelskap gepraat het. Dis net sóveel makliker om God op jou eie manier te wil dien – maar soos Paulus hier tereg vir Petrus wys, is dit ‘n futiele oefening. Dis nie ‘n opsie nie. Want om God op jou eie manier te probeer dien, is afgodery. Of dit is deur te dink jy kan net ‘n paar wette gehoorsaam, en of jy dink net sekere reëls geld vir jou, en of jy begin om die god van gemaksug te begin dien, niks daarvan is ware godsdiens nie. Die ongemaklike feit is: jy maak nie die reëls nie. Jy het geen reg om te besluit wat jou pas of nie pas, wat vir jou gerieflik is of nie pas in jou lewensstyl nie.
Om jouself op jou eie manier te probeer red, is eintlik ongeloof. Dis ‘n mosie van wantroue in die Groot Lewensredder. Dis wat Paulus bedoel as hy sê “Ons is dood vir die wet.” Dit beteken nie ons kan nou maak soos ons wil nie – dit beteken dat die wet met al sy reëls nie meer soos ‘n slawedrywer jou jaag nie. Dit beteken jy kan maar laat gaan. En God toelaat om jou te red...
- Lewend vir Christus.
Maar jy is nie net dood vir die wet nie. Paulus gaan aan. Hy kom gee vir ons die kern van dissipelskap in vers 19 en 20: "...ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe." Dís Christenskap: Ek lewe nie meer nie... Alles, alles gaan net om Christus.
Dis irrelevant wat jou pas. Dis irrelevant wat in my besige program pas, en waarvoor ek eintlik nie kans sien nie. Dis irrelevant dat Sondagoggend so ‘n heerlike geleentheid is om saam op ‘n wynplaas te kuier terwyl jou kinders daar rond speel. Dis irrelevant dat jy self wil kies waarop jy jou geld wil spandeer, en regtig nie lus is om ‘n dankoffer vir die Here te gee nie. Dis alles irrelevant. Want ek lewe nie meer nie. Dis die prys van dissipelskap.
- Toepassing.
Kom ons kyk ‘n slag ernstig na onsself. Petrus het ook nie daar in Antiochië oornag ‘n heiden geword nie. Hy het net die pad byster geraak, en so vir God onbruikbaar geword. In watter opsigte het ek en jy dalk die ware pad verloor? Daar word dikwels gesê dat Covid ons selfsugtig kom maak het, net op ons eie gerief en ons eie sinne en wille ingestel. As dit waar is, was dit selfs nog ‘n magtiger wapen in die hande van die Satan as wat ons gereken het.
Want jy kan nie só ‘n dissipel wees nie. So ‘n vorm van dissipelskap “Lite” is nie ‘n opsie nie. Jy kan nie so deel aan die koninkryk van die Here, en aan die bo-natuurlike vrede wat Hy vir ons gee nie.
En dis dan die vraag waarmee Galasiërs 2 ons laat: Is ek nog regtig besig om die Here te dien soos Hy van ons vra, en het ek dalk so lui en gemaklik geraak, dat ek eintlik maar langs myself begin dien het. Anders is ons besig om onsself te bluf, soos Petrus destyds in Antiochië.
AMEN