Efes. 1:3-14
Datum: 11 Julie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Kindermoment:
Wat maak jou opgewonde – só opgewonde dat jy net eenvoudig nie daaroor kan stilbly nie? Want dis mos wat gebeur as ons regtig opgewonde raak. Ons raak aan die babbel, soos my ma altyd gesê het, soos ‘n opgewonde orreltjie? Nou waaroor raak jy ‘n opgewonde orreltjie? Kom ons dink: Dalk oor jou gunsteling-sport, of oor jou laaste vakansie, of oor musiek, of dalk oor die een of ander ou of meisie?
Ons het almal goed wat ons baie opgewonde maak, en as enigiemand dit net sou waag om daarvan te praat raak ons gou so opgewonde dat ons aan die babbel raak. Tot mense in die geselskap later hulle oë begin rol en jy besef jy het dalk nou bietjie te ver gegaan. Maar moenie sleg voel nie! Ek ken baie grootmense wat nog presies dieselfde doen. En nou kom ek hier in die Bybel by Efesiërs1 en ek sien Paulus doen dit sowaar ook!
Natuurlik kan jy dit nou nie so goed in die Afrikaanse Bybel raaksien nie. Maar weet jy, daar is iets baie interessants aan hierdie tien verse wat ons vanoggend in Efesiërs een gelees het. In die taal wat Paulus hierdie stuk oorspronklik geskryf het, is al tien verse één enkele sin! Ek wonder wat sal jou juffrou sê as jy dit in jou opstelle begin doen! ‘n Mens is mos nie veronderstel om sulke lang sinne te skrywe nie. Maar Paulus doen dit. Hy kan homself nie keer nie, want hy is net só opgewonde, dat hy nie eens wil asem skep tussen sinne nie.
En wat sou dit dan nou wees? Waaroor raak Paulus so opgewonde? Wel, dis nie sport of vakansies of meisies nie. Paulus is rasend opgewonde om jou te vertel dat God jou al ken van lank voor jou geboorte af, en dat hy nog altyd al die pad ‘n wonderlike plan vir jou lewe gehad het. Van toe af al, was dit God se plan dat jy sy kind sou wees, en tot sy eer sal lewe! En dis wonderlike nuus, want God se plan raak altyd waar. Daar is niks wonderlikers as dit nie.
Nou wonder ek net: hoe voel jy daaroor? Maak dit vir jóú ook so opgewonde soos vir Paulus? Ek wil hê jy moet vandag bietjie daaroor dink. God is baie lief vir jou, van altyd af. Ek wil hê jy moet jouself kort-kort daaraan herinner, en vir jouself sê: Maak nie saak wat gebeur nie, God is baie lief vir my! Dan gaan ek vir niks bang wees nie.
Volwassenes
- Ons identiteit is verskriklik belangrik, in 2021!
Maar nou raak dit tyd dat ek vir die grootmense ook iets vra. Eintlik presies dieselfde vraag. Wat maak jou opgewonde? Iemand het een keer geskrywe dat ons al ons entoesiasme vir ons gunsteling-sportspan bêre, en al ons energie vir ons werk en ons stokperdjies of ons eie sport gee. En by die tyd wat God ter sprake kom, is daar eintlik niks meer oor nie. Ons raak oor baie goed opgewonde, maar die Bybel en die Here is nie juis een daarvan nie.
Waaroor was jy in die afgelope week opgewonde? Miskien was jy eintlik oor niks opgewonde nie, en weet jy, dit sal ek ook nogal verstaan. In hierdie tyd voel ek self baie keer soos ‘n wildsbokkie wat in ‘n soeklig beland het, en nou vasgekeer sit en nie weet watter kant toe nie. As ek eerlik moet sê, voel dit somtyds vir my asof ons onsself ietwat verloor het in hierdie tyd. Asof ons op die oomblik net oorleef, en nie meer regtig weet wie ons is of waarvoor ons lewe nie.
En dis seker nie vreemd nie. Want ek glo nie God het ons gemaak vir hierdie situasie wat ons nou al die afgelope jaar en ‘n half beleef nie. Na alles het God ons tog geroep om in verhoudinge met mense te lewe. God se plan was nooit dat ons Hom elkeen op sy eie moet dien nie. Ons het mekaar nodig. Dis hoekom die Here tog van die begin af vir ons vra dat ons gereeld as gemeente byeen moet kom, want deur bymekaar te kom, bou ons mekaar op en leef ons ons getuienis uit. Ons is nie regtig geroep tot sosiale afstand nie, om elkeen in sy eie hoekie te sit en maar net sy eie goedjies te doen nie. Ons het mekaar nodig, om werklik volgelinge van Jesus te kan wees!
- Dis waarom Paulus jou kom herinner aan wie jy is.
Daarom begin Paulus hierdie wonderlike brief van hom aan die Efese, die brief wat later as “Paulus se kerkbrief” bekend geraak het, deur ons eerste van als te herinner aan wie ons is. Want dis net as jy weet wie jy is, dat jy nie jouself gaan verloor nie, en tog iets van die pad vorentoe kan begin sien.
En wie is jy as Christen nou eintlik? Wel die eerste ding wat Paulus oor jou sê, en dit maak hom klaar rasend opgewonde, is wanneer hy jou daaraan herinner dat jy ‘n baie lang pad saam met God kom. En dan praat hy nou nie van jou geboorte af, of selfs van voor jou geboorte af nie. God kom ‘n pad saam met jou van voor die skepping af! Voordat God die lig en die duisternis van mekaar geskei het, het Hy al geweet van jou. Die Engelse sê: Sit dit nou bietjie in jou pyp en rook dit! Word ‘n oomblik stil, en bedink dit bietjie vandag. God ken jou al van voor die skepping van die grondlegging van die wêreld af.
En die tweede wonderwerk wat Paulus se asem wegslaan, is dat God van toe af die heeltyd die inisiatief geneem het. Nooit het Hy vir jou gewag om die eerste tree te gee nie, want Hy ken ons en Hy weet mos dan sou dit dalk nooit gebeur het nie. Nog voor jou geboorte het Hy alles in plek begin sit sodat Hy jou kon aanneem as sy kind. En nou is aanneming ‘n geweldige saak in ons tyd, maar dit was alreeds onder die Romeinse wet so. As ‘n pa iemand aangeneem het, dat het daardie kind onherroepelik sy kind geword. Daar was geen omkeer nie, en geen onderskeiding met ander kinders nie.
En dit was God se plan vir jou. Hy wou jou as sy kind aanneem. En daarvoor het Hy berge versit. Hy het selfs sy Seun na die wêreld gestuur om jou los te kom koop deur sy kosbare bloed. Hy was bereid om die hoogste prys daarvoor te gee. Om jou syne te maak. Maar dis natuurlik nog nie al nie. Om terug te keer na wat ons net-nou gesê het: Dit was natuurlik nooit God se plan dat jy ‘n enigste kind moet wees nie. En dis die volgende ding wat vir Paulus verwonderd laat: dat God jou daarby ook deel van sy groot huisgesin gemaak het, van sy volk wat Hy vir Homself bymekaargemaak het. So lief soos God vir jou as indiwidu is, so lief is Hy vir die kerk waarvan Hy die Hoof is. Jy is sy kind, maar jy is ook deel van sy volk.
- Maar wat nou as die branders oor jou begin breek?
Maar niks hiervan is vir jou heeltemal nuus nie. Want jy het dit al ‘n duisend keer in die kerk gehoor. Jy weet dat ons deur Christus God se kinders geword het. En natuurlik is dit wonderlik – maar hoekom sou dit Paulus se asem wegslaan, sodat dit hierdie eindelose sin inspireer?
En dis dan op hierdie punt wat die Bybel vir ons vertel van ‘n wonder wat net so groot is, dat dit nie anders kan as om jou asem weg te slaan nie. Nadat God alles gedoen het om jou sy kind te maak en deel van sy huisgesin te maak, sit God toe die kersie op die koek: Hy gee sy Gees as seël van die hele proses.
Wat beteken dit? Die beteken dat dat God Homself daartoe verbind om elke oomblik van jou lewe by jou betrokke te wees. Jy sal nooit weer alleen wees nie, en jy sal nooit hoef te twyfel aan sy bedoelinge en sy plan vir jou nie. Wat God betref, is dit in beton gegiet. Hy het sy koninklike seël daarop geplaas. Alles rondom jou kan wankel, en alles kan onseker raak in ‘n tyd waarin ons regtig van bitter min goed seker is. Maar as God sy seël op iets geplaas het, sal dit nooit verander nie. Jy is aangeneem as God se kind. Jy is syne.
Maar wat sê Paulus se geweldige lang sin vir die kerk in 2021?
En dis wat Paulus se asem wegslaan. Maar nou is die groot vraag sekerlik vanoggend: wat sê hierdie eindelose lang sin van Paulus vir ons vanoggend? Wat kan ek en jy daaruit met ons saamvat in hierdie tyd waarin ons nou lewe, hierdie vreemde tyd van Covid?
Daar waar jy vanoggend sit met jou slimfoon in jou hand, of voor jou TV-stel, kom verseker Paulus jou dat God nog van die skeping af ‘n plan met jou lewe het. En daaraan moet jy vashou! Selfs al voel dinge vandag dalk vir jou totaal uit beheer, en al is jy dalk al sielsmoeg vir Covid en alles wat dit meebring, het God nog nooit dit herroep wat in Efesiërs 1 staan nie. Moenie dat Covid jou mens-wees bepaal nie. God het immers die Heilige Gees vir jou as seël gegee, om jou veilig te hou totdat Hy weer kom. Jy het steeds God se waarborg elke oomblik van elke dag by jou.
Wees dan rustig en vertrou Hom. Al vra hierdie tyd dan ook ernstige aanpassings en opoffering. Hy is steeds in beheer. Gee daarom aan Hom al die lof, en vertrou Hom. Hy sál vir jou sorg...
AMEN