Genesis 15

Datum: 13 Maart 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Dis nie verniet dat Abram een van die groot geloofshelde in die Bybel is nie. Waar kry jy nog iemand wat die roepstem van die Here hoor, en alles net so los en met sy vrou en sy aardse besittings die pad vat, en die beste is: hy weet self nie eens weet waarheen nie! Al wat hy vir seker weet is dat Here hom roep. Maar aan die ander kant is Abram se roeping natuurlik maar deel van die verhaal. As jy die storie van sy lewe verder volg kom jy agter dat dit net die begin was van ‘n lewe wat hy elke dag naby aan die Here geleef het, ‘n pad wat hy saam met die Here gestap het, deur goeie tye maar ook toe dit minder goed met Abram gegaan het.

 

En natuurlik het die Here self oop kaarte met Abram gespeel. Hy het hom nie in die duister gelaat oor sy plan nie. Inteendeel, Hy het so ver gegaan as om met Abram ‘n kontrak te sluit. Waarin Hy belowe om vir Abram te sorg, en vir hom ‘n groot nageslag te gee, sodat Abram op die ou end die vader van al die gelowiges sou wees – ook van ons vanoggend hier. God het vir Abram bemagtig en toegerus met sy belofte en die sekerheid dat God dit waar sal maak. Abram se verhaal is die storie van sy gehoorsame navolging van die Here, maar ook van die troue sorg van God, wat sy lewe in sy hand hou en vir hom sorg.

 

Maar vanoggend kry ons nie vir Abram hierin Genesis 15 op ‘n goeie plek in sy lewe nie. Die realiteit het tot hom deurgedring dat die vervulling van God se belofte eintlik baie, baie onwaarskynlik geword het. Menslik gesproke kan Sarai nie meer kinders hê nie, en Abram het begin vrede maak met die gedagte dat hy dalk eerder maar sy slaaf sou moes aanneem en sy erfgenaam maak. Dis nou wel nie hoe hy oorspronklik die Here verstaan het nie, maar dis hoe dinge nou uitgewerk het: Eliëser sou maar sy erfgenaam wees...

 

Dalk identifiseer jy makliker met hierdie Abram as met die een wat heroiës weggetrek het uit Haran toe die Here hom geroep het. Want ek en jy weet mos hoe dit voel as die werklikheid vierkantig voor jou kom staan en jou in die oë kom kyk, en jy begin wonder. Het ek nie dalk vir God verkeerd verstaan nie? Is dit nie dalk maar tyd dat ek my eie planne begin maak nie?

 

  1. Wat leer ons in hierdie gedeelte oor God?

Daarom moet jy mooi kyk wat gebeur toe. Want dis juis toe wat God vir Abram ontmoet. Juis op so ‘n laagtepunt. En vir my is dit regtig wonderlik dat ek nêrens hier lees dat God begin deur vir Abram te verwyt vir sy kleingeloof nie. God raas nie met Abram omdat hy toegelaat het dat omstandighede sy kop swaai nie. Nee. Die Here kom by Abram met die wooorde: “Moenie bang wees nie...”

 

God het die vrese van sy kind raakgesien. Vrese wat opkom uit kleingeloof, natuurlik, maar God verwerp nie sy kind daarom nie. In plaas daarvan sê Hy met groot deernis vir Abram: My kind, moenie bang wees nie. God weet dat Abram snags wakker lê. Hy weet dit knaag aan Abram dat hy na soveel jare nog niks sien van die vervulling van die belofte nie. Maar nou gaan sit God nie langs Abram op die bed en begin ‘n lang teologiese redenasie om hom te oortuig nie.

 

God neem net vir Abram buitentoe. En in die kristelhelder woestynnag laat God vir Abram opkyk. En Abram se mond hang letterlik in verwondering oop oor die rykdom van die sterrehemel bokant hom. En steeds sê God niks nie. Maar stadigaan begin die waarheid tot Abram deurdring. Abram word oorweldig deur die grootsheid van God se skepping. En daar staan net: “Abram het toe in God geglo...”

 

Party keer moet jy net ‘n slag stilword en onthou wie God is...

 

  1. God sluit ‘n verbond met Abram

Maar dis nie waar die storie eindig nie. Want God vra van sy kind meer as net  die daad van geloof. So wonderlik soos dit is dat die tyd wat Abram saam met God deurgebring het, weer Abram se geloof herstel het, gaan God nou verder. En Hy vra aksie van Abram. En miskien is dit waar ek en jy dikwels die fout maak. Ons lewe asof die oomblik van oorgawe  en geloof genoeg is. Maar kyk, God vra aksie van Abram. Hy gee vir hom opdragte, dinge om te gaan doen.

 

Ek wonder hoeveel Abram regtig daarvan verstaan het, maar hy gaan doen presies wat die Here van hom vra. Hy voer die opdragte van die Here stiptelik uit. Interessant genoeg het navorsing ons geleer dat hierdie prosedure baie bekend was in daardie wêreld, wanneer groot lande met mekaar verdrae gesluit het. Vir my sê dit net hoe ernstig God met sy verbond met sy kind is. Wanneer God met ons ‘n ooreenkoms aangaan, beskou Hy dit soos ‘n belangrike internasionale verdrag, en nie maar sommer soos ‘n klein ooreenkomsie met ‘n kind nie.

 

  1. Daardie nag word Abram oorweldig deur angs

Maar dan gebeur iets daardie nag met Abram wat ek sukkel om te verstaan. In plaas daarvan dat hy oorweldig van opgewondenheid en blydskap is oor die verbond, lees ons dat Abram alles regmaak vir die sluiting van die verbond, net soos die Here vir hom voorgesê het. Maar daar gebeur niks nie. Later raak Abram aan die slaap. Maar later die nag, terwyl Abram op God wag, pak daar skielik ‘n namelose angs hom beet. Vind jy dit nie ook vreemd nie? In stede van die namelose vreugde, sak daar angs, ‘n diepe donkerte, oor hom toe, wat vir Abram oorweldig, sê die Bybel.

 

Ek het altyd gedink dis maar die grootsheid van die oomblik wat vir Abram oorweldig. Dat hy angstig raak in God se teenwoordigheid, en oor die feit dat die Almagtige met hom ‘n verbond wil sluit. Dit sou ek nogal kon verstaan. Maar nou sien ek iets anders daar bykom. Iets het daardie nag, in die stilte van die woestyn, vir Abram ontsettend beangs gemaak. Die waarheid is Abram is daardie nag gekonfronteer deur die verskrikking en duister van die lyding wat vir sy nasate gewag het, vir die geweld wat hulle sou moes verduur in Egipte. Daardie nag het Abram iets ervaar van die lyding van mense wat 4 eeue as slawe aangehou en onderdruk is. En die afgryse van die duisternis en die lyding in ons wêreld het vir Abram net te veel geraak...

 

Ook dit verstaan ek nogal na die afgelope paar weke, en die skokkende beelde van lyding waaraan ons blootgestel was. Ek kon myself identifiseer met Abram se angs oor die duister en die lyding in ons wêreld. Want lyding en die seer van mense het vroeër jare vir ons meer véraf gelyk. Ons het daarvan kennis geneem maar ons kon dit so half van ons lyf weggehou kry. Maar nou is dit anders. Die sosiale media laat die tragiek van die oorlog in Oekraïene voor jou kom staan, en jy weet nie regtig wat om daarvan te maak nie. Jy staan soos Abram voor God, magteloos en totaal oorweldig deur die duisternis en die tragiek van ons wêreld....

 

En in hierdie duisternis kom God dan na Abram toe. Sy antwoord op ons angs, op al die duisternis, is die kontrak wat Hy met ons kom sluit, met die ewige belofte dat Hy ons God wil wees, selfs in hierdie donker tye. Moenie bang wees nie. Hy kom herbevestig aan Abram en aan my en jou sy beloftes met ‘n kontrak, met sy verbond. Ek is steeds in beheer, kom sê Hy vir Abram. Moenie bang wees nie. Glo net. En bly vertrou. En in 2022 het God nog niks verander nie. Hy kom raak jou ook vanoggend aan. Moenie bang wees nie, sê Hy. Die duisternis sal jou nie oorweldig nie en sal ook nie die laaste woord in ons wêreld hê nie. Ek bly getrou. En my beloftes sál waar word...

AMEN