Lukas 6:17-36
Datum: 17 Februarie 2019
Prediker: Hannes Burger
In Efese het daar destyds ‘n baie beroemde filosoof gewoon. En vreemd soos dit dalk vandag vir jou mag klink, was filosowe destyds baie belangrike mense in die Griekse wêreld. Dit was nie soos vandag, wat jy hulle eerder sou vermy asof filosofie ‘n aansteeklike siekte is nie. Hulle was van die mees gesiene mense in die stad – byna soos sporthelde vandag. En in Efese was daar geen groter held as Herakleitos nie. Die mense was ontsaglik trots op hom; hy was die spog-seun van Efese, kan jy maar sê. Vir ons is Herakleitos belangrik omdat hy die ou is wat mense geleer het dat die middelpunt van die hele wêreld die rede is, die logos, om dan nou die Griekse woord te gebruik. En dis by hom wat Johannes aansluit as hy baie jare later sy Evangelie skrywe vir die mense van Efese, en begin met die woorde: In die begin was die logos, die woord...
Maar dit was nie hoekom ou Herakleitos die afgelope week by my gespook het nie. Nee, hy het ‘n ander ding gesê waarvoor hy selfs nog meer beroemd was. Dit was as’t ware die slagspreuk van sy denke. Alles is tydelik het hy gesê. Die hele lewe is soos ‘n rivier wat by jou verbyvloei. Jy kan nooit twee maal na mekaar op dieselfde plek in die rivier spring nie. Die tweede keer is dit reeds ‘n totaal ander rivier, want die stroom het bly vloei en aanbeweeg. En so bly alles in beweging. Alles vloei, en niks bly dieselfde nie, was sy slagspreuk. In Grieks rym dit boonop nogal.
Dalk is jy nie so vreeslik erg oor heidense filowsowe nie, maar ek moet sê, Herakleitos het nogal ‘n punt beetgehad. Lees maar jou Bybel – jy sal gou sien dat die Woord vir ons presies dieselfde ding sê. Alles is tydelik. Niks op aarde is permanent nie. Alles vloei, en niks bly dieselfde nie.
Jy sal dit al in die Ou Testament kry, wanneer Jesaja in daardie teksvers wat Brahms so treffend in sy Duitse requiem gebruik het, sê: “Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ’n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.” En dan gaan hy aan: “Dit ís so, die volk is soos gras. Gras verdor en blomme verwelk... “
Petrus stem volkome daarmee saam. Eeue later haal hy Jesaja so aan: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos ’n veldblom; die gras verdor en die blom val af...” Die mens is die kroon van God se skepping. Maar ook hy is net ‘n oomblik daar. Jy staan nog oorweldig deur sy skoonheid en sy talente, en die volgende oomblik is sy tyd verby. Begin sy energie afneem en sy hare grys raak. Want soos alles om ons, is ons net tydelik hier. Die mens is soos gras...
- Want die mens se bestaan is maar kortstondig.
En tog. Tog is dit nie al wat die Bybel vir ons oor die mens vertel nie. Want die Bybel sê nog iets baie belangriks oor die mens. Ons word sommer reg aan die begin vertel dat God ons na sy beeld geskape het! Op baie plekke word vir ons vertel hoe kosbaar hierdie mens vir God is, hoe lief Hy hom het.
Ek dink onwillekeurig aan daardie hartstogtelike liefdesverklaring in Hosea 11: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”
My liefde brand te sterk. Selfs al maak jy My herhaaldelik seer, al behandel jy My met minagting terwyl Ek net goed is vir jou. Ek kan jou nie laat gaan nie. Geen Valentydsdag-boodskappie kom naby hieraan nie. So lief is God vir die mens wat Hy gemaak het. Maar dis natuurlik maar een plek in die Bybel. Jy sou my net so goed aan Johannes 3 kon herinner: “God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe kan hê...”
Dis hoe God oor ons voel, al is ons so broos en so tydelik. En dit bring my by die eintlike punt van Lukas. Want nou kom vra Lukas vir ons as volgelinge van Jesus: Hoe voel jy oor mense? Ons is so dikwels tog so gereed om die kroon van God se skepping te kritiseer. Selfs al bely ons dat ons kinders van die Here is, en die Gees in ons woon, kyk ons so dikwels met kritiese, veroordelende oë na ander mense.
Eintlik rym dit glad nie. Gaan lees maar weer in Galasiërs 5 hoe lyk die vrug wat die Gees in jou moet dra. En elkeen van hierdie aspekte van die vrug het te doen met hoe ons na ander mense kyk en hoe ons op hulle reageer. Luister net weer mooi: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Dis hoe die wil van die Here vir jou lewe lyk. Nêrens in Galasiërs 5 noem Hy hoe vroom en toegewyd jy moet wees nie – net hoe lief jy vir die kroon van sy skepping moet wees.
Laat ons dit sommer reguit sê: Dis sonde om óórkrities van jou medemens te wees.
- Jesus leer sy volgelinge met nuwe oë na ander kyk.
Kyk bietjie wat in Petrus se lewe gebeur wanneer hy ‘n volgeling van Jesus word. Ek self ken nie so vreeslik baie professionele vissermanne nie, maar ek vermoed nogal hulle is nie almal bekend daarvoor dat hulle so vreeslik liefdevol is nie. Ek is seker Petrus het min geduld gehad met ander mense – onthou, hy is later die een wat Malchus se oor afgekap het. Ek dink regtig as jy vir Petrus daar by sy boot sou kry, sou jy gou agterkom hy is die soort man wat nie nonsens vat nie – en nogal trots is daarop ook!
Maar dan kry Jesus hom eendag by daardie einste boot. En daar begin ‘n nuwe avontuur in Petrus se lewe. Petrus begin lewe in die voetspore van Jesus. En een van die eerste dinge wat die Here vir Petrus leer, is om met nuwe oë na ander mense te kyk. Jesus leer vir Petrus nuut dink oor mense. Hulle is nou nie meer potesiële opponente wat net daarop uit is om hom te irriteer nie. Petrus het ‘n “visser van mense” geword. Ander mense word nou in sy oë potensiële kinders van God, potensiële broers en susters.
In die voetspore van Jesus leer jy nuut kyk na God se ander kinders. En nêrens kry jy dit duideliker uitgespel, as wanneer Jesus vir ons die sogenaamde “goue reël” uitspel nie. “Behandel ander mense soos julle self behandel wil word”. Met die eerste deurlees daarvan kom jy nie agter dat Jesus hier iets aardskuddend nuuts sê nie.
Want die Jode het al eeue lank die gesegde gehad: “Moenie iets aan ander doen wat jy nie wil hê hulle aan jou moet doen nie”. .Maar Jesus keer dit op sy kop om. Ons instelling teenoor ander mense moenie negatief wees nie. Dit moenie wees om net te vermy om hulle kwaad aan te doen nie. Nee. Gaan jy uit jou pad uit, en doen aktief dit waarvan jy self sou hou. Gaan sit en dink wat kan jy vir ‘n ander mens doen, wat vir jou lekker sou wees. En gaan doen dit dan!
Kan jy dink,watter verskil dit in jou verhoudinge sal maak? As jy vergeet in jou huwelik wat wat jy graag wil hê jou maat moet doen, en eerste, voor sy nog kans kry om te roer, spring jy haar voor en doen jy dit wat vir jouself lekker sou wees. Jy neem eerste die inisiatief en bederf jou maat, sonder om dan te gaan sit en iets in ruil te verwag. Hoe gaan jou huwelik lyk as jy jou vrou behandel soos jy self behandel wil word? Of jou kinders? Sou dit nie vir jou lekker gewees het as jou pa meer by jou op die bed kom sit het en kom hoor het hoe jou dag was nie? ‘n Slag die TV afgesit het en vir jou gevra het wat jy nou lus is om te doen nie?
En dis maar nog net binne-in jou eie huis. Wat van jou bure? Jou kollegas? Jou vriende?
- So leer ons wegkyk van onsself.
Jesus leer ons om weg te kyk van onsself. En as jy nie meer self die belangrikste persoon in jou lewe is nie, kan jy met ander oë na ander begin kyk. Maar dalk wonder jy of dit regtig moontlik is. Is dit nie maar net soort van ‘n idilliese ideaal wat de Bybel stel, en wat niemand regtig dink ooit werklikheid kan word nie?
As jy dit vra, onderskat jy die krag van die Heilige Gees. Daardie krag wat sterk genoeg was om Jesus uit die dood op te wek, is sterk genoeg om jou gesindheid totaal te verander as jy Hom net ‘n kans gee. Om die waarheid te sê, die vraag is hoegenaamd nie of die Gees dit kan doen nie. Die vraag is hoekom jy nie lankal Hom toegelaat het om dit te doen nie. Laat Hom toe om jou te bevry van jouself. En sy vrug in jou lewe te dra. Hy sal dit nie doen solank jy krampagtig self die stuurwiel van jou lewe vasklou nie. Jy sal moet laat gaan. En as jy dit doen, sal jy waarlik vry raak. En dit sal vir jou moontlik raak om met nuwe oë na ander mense te begin kyk. Dit kan sommer vandag nog gebeur. Sommer nóú...
AMEN