Neh 8:1-10
Datum: 23 Januarie 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Uiteindelik het die ballinge wat van Babilon af teruggekom het, darem daarin geslaag om die tempel herstel te kry. Natuurlik sou dit nooit weer lyk soos Salomo se oorspronklike een nie, want hulle moes dit dié keer net onder te veel druk en stres doen, en met baie minder middele tot hulle beskikking. Maar uiteindelik was dit klaar, teen almal se verwagting in. Want niemand het gedink hulle sou dit kon doen nie. Dit was ‘n moordende taak. Om eers die tempel te herstel, en dan boonop die stadsmuur op te bou, terwyl hulle vyande heeltyd op loer gelê het. Maar nou was dit sowaar klaar!
Natuurlik het die Here in hierdie moeilike tyd mense gestuur om hulle te lei en te help. Soos sy profeet Jeremia om hulle moed in te praat. En ‘n baie bekwame boumeester met die naam Serubbabel. En dan was daar natuurlik Esra die priester en Nehemia die administrateur. Buitengewoon begaafde mense, maar belangriker nog, ook gehoorsame kinders van die Here wat fyn op sy wil ingestel was, wat die volk in die moeilike tye moes lei.
En nou was dit wat eers so totaal onmoontlik gelyk het, eindelik klaar. Die vyande van die volk wat met soveel oorgawe gespot het, het nou verstom gestaan. Want almal het geweet wat hier gebeur het. Die Jode kon vir seker nie hierdie onmoontlike taak in hulle eie krag doen nie. Almal het geweet die Here is regtig weer by sy mense, en dit het die vyande van God se mense doodbang gemaak.
Maar nou gebeur daar ‘n baie interessante ding onder hierdie klompie Jode. Jy kan sê, daar het ‘n nuwe gees onder hulle ontstaan. Hulle het ewe skielik begin besef dat hulle nie net ‘n klompie indiwidue is wat hier losgelaat is nie. Hulle het skielik besef dat hulle die begin van ‘n volk is, ‘n nasie. Maar ‘n nasie in sy kinderskoene. ‘n nasie wat eintlik nog geen wortels het nie, wat nog soek na sy identiteit. Wie is ons eintlik? Wat is ons? Het hulle gevra.
En toe gebeur die volgende interessante ding. Spontaan kom daar vanuit die mense die versoek, dat hulle goewerneur Nehemia saam met die priester Esra, ‘n reuse godsdienstige fees moes reël. ‘n Groot saamtrek waarna die hele volk kon kom, en waar die mense weer hulleself opnuut voor die Here kon herontdek. Hierdie was nie die leiers se plan nie. Die Here het hier onder gewone mense gewerk, en hulle het die dag toe omtrent almal daar opgedaag. Baie opgewonde, omdat elkeen gevoel het hier is iets aan die kom. En die wonderlike is, dit het nie by die tempel gebeur nie, want daar sou net mans welkom wees. Nee, nou was almal daar.
En toe hulle almal daar sit, laat haal Nehemia die wetboek van die Here, en gee dit vir Esra. Die hele dag lank het hy daaruit voorgelees, terwyl die Leviete dit vir die mense verduidelik. En die volk het oopmond met gespanne aandag sit en luister.
- Dis ‘n verbondshandeling.
En terwyl hy nog lees, gebeur die dag iets. God se kinders ontdek wie hulle is. Hulle ontdek hulle identiteit as God se mense. Hulle ontdek dat hulle in die eerste plek mense is wat gehoorsaam is aan die wil van God, aan die wet. Dat dit God se wil is wat hulle lewe rig, die riglyn wat hulle lewensstyl uniek maak; wat hulle anders maak as die mense rondom hulle. En hoe verder Esra die wet vir hulle lees, hoe helderder sien hulle dit. Verstaan hulle: Ons is in die eerste plek God se volk, wat lewe in dankbaarheid en gehoorsaamheid soos God wil hê ons moet lewe.
Hulle vereenselwig hulleself volkome met die volk wat by Sinaïberg gestaan het, waar Moses die eerste keer die wet gekry het. Want net soos Moses-hulle is hulle ook uit die slawehuis gered, toe die Here hulle uit Babilonië laat terugkom het. En net soos Moses-hulle veertig jaar in die woestyn swaargekry het, so moes hulle onder haglike omstandighede terugkom om te doen wat God van hulle vra. Maar dalk die wonderlikste van alles: net soos die Here die hele tyd in die wolkkolom en die vuur was, so was die Here ook die hele tyd by húlle en het Hy vir hulle gesorg.
Dis een en dieselfde God. En dis dieselfde wet. En eintlik, is ons dieselfde volk...
- Die wet roep ‘n emosionele reaksie op.
En dit gryp hulle aan. Hulle is diep ontroer, toe hulle begin verstaan dat hierdie wet nie ‘n klomp wette en voorskrifte is wat in hulle keelgatte afgedruk word nie. Hulle begin verstaan dat dit ‘n liefdesverklaring van God is, dat jy daarin die stem van ‘n liefdevolle Vader hoor, wat jou wil lei om regtig tot sy eer te lewe. Hulle ontdek dat die wet eintlik ‘n stuk genade is, ‘n geskenk van God aan ons. En toe die Gees van God hulle oë daarvoor oopmaak, besef hulle skielik hoe totaal ontoereikend hulle hierdie God probeer dien. En dis waarom die hele gemeente gehuil het.
Ek sou so wens dat iets hiervan ook vanoggend met ons kon gebeur. Dat die Gees ons ook help om onsself in hulle verhaal gespieël te sien, net soos hulle hulleself die dag in die Eksodusverhaal teruggevind het. Want dalk besef jy dit nog nie, maar eintlik het ons geweldig baie in gemeen met hierdie mense. Om mee te begin is ons mos ook God se verbondsvolk. Jesus se bloed het ons deel gemaak van God se groot familie, en ons is almal gemerk deur die teken van die doop.
Ons is God se mense. Wat Hy in genade self syne gemaak het. Dis wie ons is. En as jy God in hierdie deurmekaar wêreld wil dien, moet jy ook baie goed weet wie jy is. Wie en wat is jy regtig, en waaroor gaan alles regtig vir jou? Wat is nou eintlik jou identiteit in die wêreld? Wat is dan nou eintlik spesiaal aan ons, maak regtig van ons kinders van God, maak dat ons anders is as die mense wat Hom nie ken nie. En dis waarmee Nehemia 8 wil help: Ons ware identiteit lê in dankbare gehoorsaamheid. Daarsonder is ons eintlik niks nie....
- Die fees loop gevaar om in ‘n fiasko te ontaard.
Maar so dreig Nehemia se fees toe die dag om heeltemal in ‘n fiasko te ontaard. Want in plaas daarvan dat almal uitbundig bly en dankbaar is, gee dit toe ‘n verskriklike gehuil af. Want die woord van die Here ons konfronteer met wie ons werklik is, dan wys die Gees vir ons dat ons reaksie op God se onuitspreeklike liefde vir ons niks minder as ‘n skande is nie. En dit moet jou hart breek, as jy besef wie jy werklik is.
Toe stop Esra eers die lesery. Want natuurlik is daar ‘n plek in ‘n Christen se lewe vir trane, as jy voor die Here jou eie ontrou beween, maar dis tog nie wat die Here eintlik in ons lewe wil hê nie. God wil nie van sy kinders swaarmoedige, bedrukte mense maak nie, en dis beslis ook nie waarvoor Hy vir ons sy wet gegee het, om van ons bedrukte mense te maak nie.
Nee, die volk moet verstaan dat God se fees vir sy kinders vandag begin. Nie eendag, as Hy weer kom nie. Nie eendag in die hemel nie. Maar NOU!! En dalk verras dit jou, maar hierdie wet is deel van daardie fees! Sy wet is nie ‘n gemene paaiboelie wat ons afknou nie. Dis hoe sy liefdevolle hand ons lei om Hom regtig met oorgawe te kan dien.
Daarom sê die Psalmdigter in Psalm 119: “Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe en u woord gehoorsaam.
Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u verordeninge... Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe.... Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie.”
Maar wat nou van ons? By hierdie groot godsdienstige saamtrek van Nehemia 8 ontdek God se mense wie hulle regtig is, en dit verander hulle totale lewe. Maar wat van ons? Wie is ek en jy regtig vanoggend? Die antwoord is eenvoudig: ek is ‘n kind van die Here. Ek behoort nie meer aan myself nie, maar aan God. My hele lewe is syne, en daarom dien ek Hom met al die blydskap en oorgawe wat daar in my is. My ware identiteit is dat ek iemand is wat Hom te alle tye en alle omstandighede kompromieloos gehoorsaam.
Is dit waar van ons? Is dit waar van jou? Of sit jy steeds met ‘n identiteitskrisis? Dit het alles vir God se mense verander die dag toe die Woord regtig sy rol in hulle lewe begin speel het. En nou is dit tyd. 2022 is tyd vir die fees om te begin. Dis tyd dat ek en jy weer regtig begin vra na God se wil, en dit doen, onvoorwaardelik en totaal? Dis tyd dat ons terugkeer na die Woord, terug na die wet. Sodat ons dit kan begin LEWE. Sodat die fees kan begin...
AMEN