Jesaja 55:1-9
Datum: 24 Maart 2019
Prediker: Hannes Burger
Partykeer verwonder ek my oor hoe die wêreld verander het waarin ons lewe. Eintlik het ek altyd gedog dis iets wat ‘n mens veel later in jou lewe eers doen; as jy op die ouetehuis se stoep sit, gaan jy terugdink oor jou lewe; maar deesdae verander alles so vinnig dat ek al klaar daar is. Dink net bietjie hoeveel woorde jy elke dag gebruik wat nie een van ons geken het toe ons kinders was nie. Woorde soos selfoon, byvoorbeeld. Vir twee derdes van my lewe het ek sonder die ding klaargekom en hom regtig nie gemis nie. Nou dink mense jy kan nie sonder hom lewe nie. Om die waarheid te sê, jy moet ‘n slimfoon hê deesdae. Of ‘n woord soos digitaal. Op skool het ek regtig nie geweet wat dit beteken nie. Of ‘n woord soos Gigabyte. Eintlik weet ek vandag nog nie regtig wat dit beteken nie. En dan is daar ‘n ander spinternuwe woord. Die woord wat jy waarskynlik die meeste die afgelope week gehoor het. Beurtkrag...
Dis vir seker die enkele woord wat ons die afgelope week die heel meeste gebruik het. Saam met ‘n paar ander woorde wat ‘n mens tog nou liewer nie in die kerk sal aanhaal nie... Ewe skielik is beurtkrag deel van ons lewe. Dis ‘n woord wat niemand van ons ooit geken het nie. En nou skielik is dit op almal se lippe.
- Hoe reageer ons op beurtkrag?
Maar ek gaan nie vanoggend oor Eskom preek nie. Daar is eerder iets anders wat my heel week gepla het, terwyl die hele wêreld op hol was oor beurtkrag. En dit is: Hoe reageer ons wat Christene is, anders op beurtkrag? Ek hoef nie vir jou te vertel hoe die res van die wêreld daaroor tekere gaan nie. Maar wat my net pla, is dat dit tog ons roeping is om anders te wees. Dis waarin ons getuienis lê. Mense moet aan ons reaksie kan sien dat ons dissipels is van Jesus, wat in sy voetspore lewe. En as ons maar net soos die res van die wêreld reageer, waarin lê ons getuienis dan?
Maar nou weet ek al klaar wat gaan jy volgende vra. Want ek is seker ons stem darem seker almal saam dat ons anders moet wees. Ons weet dit. Maar die vraag is net hoe. Beteken dit dat ons as Christene maar net alles gelate moet aanvaar asof dit maar reg is so? Tog sekerlik nie, want as ons alles net aanvaar, sal niks ooit verander en regkom nie. Ons het verseker ‘n verantwoordelikheid om ons uit te spreek teen dit wat verkeerd is. So daar is dalk ‘n paar goed wat jy vir Eskom sou kon sê. Maar nou het min van ons seker die week direk met Eskom se hoofbestuur kon praat. Daarom is die vraag eerder: Op watter manier het jy die situasie anders hanteer, teenoor die mense wat jou lewe deel? Hoe moet ons as Christene in hierdie situasie anders wees? En toe kom ek agter ek weet nie. Ek het nie ‘n klinkklare antwoord gehad wat ek vanoggend vir julle kan gee nie.
En so kom ek toe by Jesaja 55 uit die week. En hier lees ek van nog ‘n volk wat ook ‘n nuwe woord leer ken het wat hulle nooit voorheen geken het nie: ‘n Selfs nog aakliger woord as beurtkrag. En daardie woord was ballingskap. Jy sien, die eerste deel van Jesaja vertel ons van die tyd vóór die ballingskap, voordat die volk weggevoer is. Vir oulaas waarsku God hulle dringend, maar hulle nie wou luister nie. En nou, in die tweede deel van die boek, het dit reeds gebeur.
In hierdie tweede deel van Jesaja kom praat die Here met sy mense nadat die ramp hulle getref het. Dit waarteen die Here hulle al eeue deur die profete gewaarsku het, het toe gebeur En so het hulle die woord ballingskap leer ken. En wat kom sê die Here nou vir sy mense?
Hy gee vir hulle die eenvoudigste van opdragte: Kom na My toe... Stel jou ‘n oomblik voor, die klomp Jode in die vreemde land. Die ondenkbare het gebeur – en wat maak hulle nou? Daar was seker verkillende opsies. Jy kon op verskillende maniere reageer. Om mee te begin, kon jy byvoorbeeld net totaal boedel oorgee. Jy kon in sak en as gaan sit, en besluit alles is nou verby en dit sal nooit weer regkom nie. En daar was natuurlik Jode wat presies dit gedoen het. Maar dan was daar ook ‘n tweede groep van hulle wat besluit het: goed, hierdie is nou ‘n nuwe situasie met nuwe uitdagings en ek gaan my verbreek om deel te word van hierdie gemeenskap sodat ek hier met ‘n besigheid kan begin – onthou dis Jode met wie Jesaja hier praat. En daar was van hulle wat dit ook gedoen het, wat tuiser in Assirië geraak het as wat die Assiriërs self was. ‘n Derde groep weer, het woede hulle lewe laat oorneem: hulle was kwaad vir God, kwaad vir die Assiriërs, kwaad vir hulle voorsate. Hulle was net heeltyd kwaad.
- God se plan vir die ballinge
Of daar was ook ‘n vierde alternatief - God se alternatief. Jy kon net vertrou.
Moenie julle energie mors op goed wat vir julle niks kan baat nie, sê die Here hier vir sy mense. Moenie betaal vir iets wat nie brood is nie en nie kan voed nie. Dit help nie jy gaan oorboord met negatiewe emosies nie. Dit gaan vir seker nie vir Eskom benadeel nie; dit gaan net jouself en jou huis – en jou getuienis - vergiftig.
Gebruik die geleentheid om ‘n nuwe begin te maak, sê die Here. Want dis presies waarvoor die Here die hele tyd sit en wag vir jou. Hy wil met jou nuut begin. Hy wil ‘n ewige verbond met jou sluit. Hy wil julle verhouding op ‘n nuwe basis plaas. En daarvoor is daar geen beter tyd as nou nie. En dis seker geen wonder dat Jesus hierdie selfde woorde aanhaal in Johannes 7:36 nie, want dis mos presies waarvoor Hy gekom het. Hy het gekom om ‘n nuwe begin moontlik te kom maak deur sy lyding en sterwe. Jesus het gekom om die dors in ons te kom stilmaak, daardie drang in ons na God se teenwoordigheid, wat in ons ingeskape is, wat maak dat ons nooit werklik vrede en geluk kan hê sonder God nie. Ons is mos na die beeld van God gemaak en ons kan nooit los kom daarvan nie.
Ek nooi jou om soos Ek te begin dink, sê die Here. Hier in vers 8 sê die Here: My planne werk anders as joune. Ek dink anders as jy oor goed. Vir jou is beurtkrag ‘n verskriklike krisis, want jou TV en jou wi-fi werk nie en jou werk staan stil en jou besigheid ly daaroor. Maar wat dink jy vanoggend dink God oor beurtkrag? Dink Hy nie dalk totaal anders as ons daaroor nie? Is beurtkrag nie dalk deel van God se plan vir my en jou nie? Wil Hy ons nie dalk daardeur uiteindelik tot stilstand dwing en laat dink nie? Jy het dan mos nooit tyd om met God te praat nie, sê jy. En geen wonder nie want alles raas altyd om jou kop! En nou is dit skielik stil. En donker. Vir twee en ‘n half uur lank kan jy niks doen van al die goed wat jou heeltyd op ‘n drafstap hou nie.
- Jy en beurtkrag
Dalk is beurtkrag ‘n geleentheid, vir my en jou. Want hoe anders sou ons stil geraak het in hierdie chaos van die 21e eeu? Dit het al so baie gebeur dat lidmate vir my gesê het: Weet jy dominee Hannes, hierdie lang siekbed is toe op die ou end sowaar die heel beste ding wat met my kon gebeur. Want uiteindelik kon ek nêrens heen hardloop nie. Uiteindelik was ek vasgekeer in daardie hospitaalbed, en moes ek maar net tot rus kom, en met God praat...
Dis presies wat hier in Jesaja 55 gebeur, met die ballinge. Die woord van God kom tot die balling wat gebroke in ‘n vreemde land sit. Jy het mos nou niks om te doen nie, sê die Here. Dis dalk nou uiteindelik ‘n gulde geleentheid dat jy na My toe kom. Dat jy bietjie aan My aandag gee en luister. Sodat jy kan lewe. En so kan hierdie ballingskap dalk net die beste ding raak wat nog ooit met jou gebeur het. As dit jou lewe verander, en jou terugbring na My toe...
Die woord van die Here kom na jou toe, waar jy in die donker sit en wonder wat kan jy tog maak as niks in jou huis werk nie, omdat die krag al weer af is. Terwyl jy nou daar sit en stoom, sê die Here, is dit dalk vir jou ook ‘n gulde kans, dat jy ook uiteindelik kan begin luister. Ek wil al so lank hê jy moet terugkom na My toe. Ek wil al so lank hê jy moet net ‘n slag stil wees en jou slimfoon afsit en die rekenaar se prop uittrek en die TV afsit. En aan My aandag gee. Kom terug na My toe, sê die Here. Dan begin ons weer voor. En so kan beurtkrag dalk net die beste ding wees, wat met jou kon gebeur het. So hou bietjie op skel. En kom na my toe...
Verstaan my mooi, dis nie asof ek dink beurtkrag is ‘n goeie ding nie. Ek hou ook my hart vas vir wat dit besig is om aan ons ekonomie te doen. En buitendien moet ek maar eerlik wees en erken, ek hou persoonlik ook regtig nie van beurtkrag nie. Ek hou ook maar daarvan dat my goedjies werk. Maar weet jy, dis dalk nie sonder rede dat die Here dit oor ons pad gestuur het nie. Dalk is dit ‘n goeie kans vir ons om net ‘n bietjie stil te word, en na Hom te luister. Daarby is dit dalk ook net ‘n gulde geleentheid vir ons om ‘n slag te wys ons is anders. Ons getuienis is op die spel.
AMEN