Datum: 2 Oktober 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

(Videopreek sal Maandag 3 Oktober 2022 gepubliseer word as gevolg van beurtkrag)

Enige ondersteuner van die Protea-krieketspan ken die uitdrukking dat sportspanne party keer beter op papier lyk as wat hulle op die veld vertoon. Want ons sê dit al jare vir mekaar. En ook nie net van krieketspanne nie. Ons WP-ondersteuners moet al vir jare die grappie aanhoor dat hulle Nuweland se gras eerder met papier moet vervang, want ons span vertoon eindeloos beter op papier as op die veld. Dan gryns ons maar net so effentjies, want eintlik weet ons dis waar. Want of dit nou ‘n nuutgekose span of ‘n nuwe plan om Eskom reg te ruk is, dit lyk baie keer net op papier eindeloos beter as wat dit op die ou end in die praktyk werk.

 

Maar ongelukkig is dit nie net van sport en Eskom waar nie. Eintlik is dit heelwat erger dat dit ook in ons geestelike lewe waar is. Die lewe van ‘n Christen soos Paulus dit hier teken lyk ongelukkig heeltemal anders van die praktyk van Christenskap wat ek en jy elke dag lewe. Dis ongelukkig ook van ons waar dat ek en jy op papier aansienlik beter vertoon as in die praktyk! Kyk maar net weer hoe mooi verduidelik Paulus dit vir ons hier in Efesiërs 2: ons is vry gemaak van die ou mens, en die Heilige Gees is nou in beheer van ons lewe. Dit klink so eenvoudig as hy verduidelik hoe die Gees nou in ons sy vrug kweek, sodat ons lewens gekenmerk word deur liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Maar dan kyk ek na myself in die spieël en ek besef dis glad nie ek daardie nie. Ek voel soos die tannie wat haar kinders gevat en uitgeloop het uit die begrafnisdiens uit, en gesê het: Kom kinders, dis vir seker nie julle pa waarvan die dominee nou praat nie...

 

Dis vir seker nie ons prentjie, wat Paulus hier teken nie...

 

  1. Waar alles begin het

Maar dit is nie waar Paulus vanoggend begin nie. Hy begin by die begin. Hy teken eerder vir ons ‘n prentjie van die mens sonder God. Sonder God, sê hy, word ons gedryf deur natuurlike drange. Met ander woorde, handel die mens soos hy maar op daardie oomblik voel en soos hy lus is. Hy doen letterlik net “dit wat in sy gedagtes opkom”. En daar is ‘n goeie rede hoekom hy verkies om so te lewe – dis omdat dit vir hom lekker is so! Hy voel hy is sy eie baas en hy maak net soos hy wil.

 

 

 

Maar uiteindelik is hierdie lewenstyl rampspoedig. Dis ‘n lewe wat tot die dood lei, sê die Bybel. Want as jy kies om ver van God af te lewe, dan staan jy alleen. En dis goed en wel solank dit alles goed gaan. Maar in hierdie lewe gaan alles nie altyd net voor die wind nie. Vroeër of later loop ek en jy ons teen ‘n muur vas, ons kom in ‘n situasie waarin ons nie onsself kan help nie, en dan staan ons blootgestel en magteloos. Dis daardie oomblik wanneer ons beland in wat Psalm 23 so duidelik noem die “vallei van doodskaduwee”. Daardie situasie waarin geen mens jou kan help nie, en jy ook nie jouself kan red nie.

 

Die lewe sonder God is ‘n lewe wat tot die dood lei, skrywe Paulus. Natuurlik kan jy besluit om jouself te dien, om jou eie god te wees, maar jy moet net weet dat jy nie op die ou end jouself sal kan help nie.

 

  1. Die groot “maar”…

Dis ongelukkig ‘n baie donker prentjie wat hy hier van die mens teken. Die mens is opgesuig in ‘n lewe wat tot die dood lei, dikwels met ‘n breë glimlag op sy gesig onafwendbaar op pad na sy eie ondergang toe. En daar is geen uitsondering nie. Dis van alle mense waar. “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” sê die Bybel. En dan kom vers 4...

 

En hier in vers 4 staan daar een van die wonderlikste woordjies in die hele Bybel. Daar staan die woordjie “maar”. Toe die prentjie van die mens so duister lyk, en daar vir die mens wat God geskape het, geen raad meer is nie, toe gryp God in!

 

En nou kom leer ons by Paulus ‘n woordjie wat vir mense ‘n totaal vreemde konsep is. Ons leer wat is genade. Luister net weer mooi hier: Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” Dis iets waarvan ons net mooi niks kan verstaan nie. Want dalk sou jy nog oorweeg om ‘n goeie mens te red, sê Paulus in Romeine 5. En dan begin hy weer sy sin met ‘n “maar”. “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Dis wat God so uniek maak. Hy red nie goeie mense wat dit verdien nie. Hy red sondaars. Hy red die onregverdiges.

 

En so sien ons dat God net totaal anders as ons is. Ons leer Hom ken as “die God van die nuwe begin”. Want dis wat Hy dwarsdeur die Bybel is. As Adam en Eva Hom teleurstel, betaal hulle die prys daarvoor, maar hy maak ook dadelik vir hulle gemakliker klere om aan te trek, en belowe dat daar vir die mens uitkoms sal wees, ‘n nuwe era wag. Telkens as jy dink Hy gaan nou die wederstrewige volk uitwis, kom Hy en begin weer oor met hulle. Selfs as die oordeel soos ‘n donker wolk oor hulle begin saampak, nooi Hy hulle deur Jeremia om die lewe te kies, en terug te keer na Hom toe. En op Golgota begin Hy heel van voor af, wanneer die voorhangsel van die tempel in die donker skeur om vir ons te wys: Hier breek nou ‘n nuwe era aan in die verhouding tussen God en die mens,

 

Hy is die God van ‘n nuwe begin.

 

  1. Maar nou, die probleem...

Dis onbeskryflik wonderlik, om só ‘n God te mag dien. Dat ek en jy ook die God mag ken, die God wat ook vir my en jou nuut laat begin. Dis mos wat ons amper elke Sondagoggend hier in die erediens ervaar, as Hy ons verseker dat Hy ons skuldbelydenis hoor en ons sonde vergewe. Ons hoor elke Sondag dat ons nuut mag begin! En dis dan ook die wonderlike boodskap van Efesiërs 2, die wonderlikste boodskap wat enigiemand ooit vir ‘n mens kan bring. Dit maak hierdie seker die mooiste hoofstuk in die hele Bybel. Alles klink net so wonderlik, so pragtig!  Maar....

 

Hier is weer ‘n “maar”. Maar hierdie slag is dit nie God se wonderlike maar waarvan ons net-nou gehoor het nie. Hierdie is die maar van ‘n vals noot. Hierdie is die maar van die weduweetjie wat gesê het: Dis nie julle pa hierdie nie... Want ek herken nie myself in Efesiërs 2 nie. Ek erken baie min van Kuilsrivier-De Eike in Efesiërs 2. Want ons glo en ons bely, maar ons lewe dit nie. Jy sien weinig daarvan in ons lewe van elke dag. Ons dra sy teken wat met die doop onuitwisbaar op ons voorkop gemaak is, maar daar is by ons so min oorgawe, so min toewyding. Ons wys net so ontsaglik min daarvan...

 

Maar eintlik gaan dit op die ou end maar nog hoofsaaklik vir my oor myself... Ek sien kans om die Here te dien, om ‘n lidmaat te wees, solank dit net so min as moontlik van my vra, en solank dit tog net nie my styl te veel inperk nie. Ek wil glo, en ek wil die ewige lewe hê, maar soos die ou mens word “ons nog maar steeds deur ons sondige begeertes oorheers en doen net waartoe ons luste ons lei en wat in ons gedagtes opkom het.” En daarmee moet die Here tog nie inmeng nie! Ook ons huismense moet bely dat hulle nie vir Pa of Ma in hierdie woorde raaksien nie. Ons maak die regte geluide, maar ons lewe op die ou end eintlik nog maar net soos mense wat ver van God af lewe...

 

Maar. Maar weet jy, daar staan nog altyd ‘n Efesiërs 2 in ons Bybel. Maar gelukkig is God mos nog steeds die God van die nuwe begin! En Hy is dit ook vir jou, vandag in 2022. Efesiërs 2 vertel vir ons: Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” Hy het jou innig lief, en daarom het Hy alles gedoen. Van sy kant af het Hy die nuwe bestaan vir jou mootlik gemaak. Op papier het jy reeds ‘n nuwe lewe, gevul met die vrede en die vreugde wat net God kan gee. Hy het dit in jou doop reeds vir jou – op jou naam – toegesê. Maar nou is dit jóú beurt...

 

AMEN