Lukas 2:1-7

Datum: 25 Desember 2017

Prediker: Chris Barnardo

Kan ek vanoggend asb. ’n persoonlike getuienis met julle  deel?

Dit het so ’n tydjie terug gebeur. ’n Gebeurtenis  wat ’n merk in my hart gelaat het. ’n Storie wat my lewe verander het.

My werk laat my baie in kontak kom met verskillende mense.

Om die waarheid te sê, ek kom in kontak met mense wat sukkel in die lewe en ook mense wat hoe aansien in die samelewing geniet.

Dit was ’n koelerige aand gewees, ek kon amper die lente in die lig ruik. Die dae was heerlik gewees, tog moet ek sê dat die aande ietwat kouer was.

Daardie aand kon ek die moegheid aan my lyf voel. Ek het meer mense as gewoonlik daardie dag bedien. Dit was ’n besige dag gewees.

Uit die aard van my werk kan mens maklik kopmoeg word.

Ek was besig met ’n paar laaste admin.-takies toe daar ’n klop aan die deur was.

Onmiddellik was ek ongeduldig. In my beroep is daar mos nie werksure nie. Mense steur hulle nie aan tyd nie. Ek wou nie gaan kyk wie by die deur is nie.

Tog is daar iets soos skuldgevoel in baie van ons. Ek is met ’n dubbel-dosis daarvan geseën.

Met my moeë lyf het ek stadig voordeur toe gestap, ek het die, dit-gaan voor die wind met my-masker opgesit en die deur oopgemaak.

Ek het my oë op skrefies getrek en twee figure in die donker sien staan. Ek het nader gestap en kon toe uitmaak dat dit ’n man en ’n vrou is.

Kan ek help? Geen goeie naand nie. Net ’n saaklike : Kan ek help?

Het u nie dalk vir ons slaapplek nie?

Slaapplek! Nee-nee. Hier is nie slaapplek nie. As julle vroeër hier was, kon ek dalk ’n plan gemaak het, of reëlings getref het dat julle elders slaapplek kon kry.

Ek het omgedraai en deur toe gestap.

Asb. oom, help ons. Ons het nêrens om heen te gaan nie.

Ek het gaan stilstaan, ek was hoogs ge-irriteer en wou gaan rus, ek het omgedraai en die nood in die twee jongmense oë gesien.

Toe sien ek dat sy swanger is. Natuurlik het hulle ouers hul uit die huis verjaag. Dit sou waarskynlik ook my eerste reaksie gewees het.

Maar dit kon een van my eie dogters gewees het.

Oom, asb. oom. Die baba moet binnekort kom. Help ons asb. oom.

Op daardie oomblik het daardie dubbel-dosis skuldgevoel waarmee ek gestraf is, in “div lock” begin werk.

Ek het hulle so jammer gekry.

Verwese, gestroop van alle menswaardigheid, leeg, met dooie oë wat smekend vra, het hulle na my gekyk.

Ek was hulle enigste hoop vir ’n slaapplek vir die nag gewees.

Maar die huis was vol mense gewees. “Daar is ongelukkig nie plek in die huis nie, maar ek het ’n skuiling agter op die erf.

Dis reg oom. Solank ons net ’n dak oor ons koppe vir die nag kan hê.

Ons het daarheen gestap, die houtdeur oopgesluit en apologeties gemompel dat die plek nie ligte het nie.

Hulle was oorstelp van dankbaarheid. “Wat skuld ons oom?”’: het die outjie my gevra. “Kom ons praat môreoggend daaroor” het ek in die verbyloop gesê want ek wou my seer kop op ’n kussing kry nadat ek ’n lekker lang warm stort geneem het.

Ek het stiltetyd gehou, my bedliggie afgeskakel en salig in droomland ingespoel toe ek wakker geskud word deur ’n geskarrel in die voortuin.

Luidrugtige stemme en ’n aanhoudende geslaan aan die voordeur het ons hele huis in rep en roer gehad. In die gang het ek ons seun met een van my kieries ontmoet. Reg vir aksie.

Ek het die voordeur op ’n skrefie oopgemaak. Verseker het dit gelyk asof hierdie ouens nie slaapplek soek nie.

Hulle rowwe gesigte het moeilikheid uitgespel. Ek het moed bymekaar geskraap, ons seun was reg agter my met die kierie, en gevra: “Waarmee kan ek help?”

Toe vertel hierdie ouens vir my hierdie storie, wat ek amper nie wou of kon glo nie. ’n Fantastiese storie.

Ons het ’n Engel gesien! Ja, Ja, het ek by myself gedink. Wat se storie sal mense nie opmaak om jou arm te draai nie.

Genuine! Ons het ’n Engel gesien. En ons was ...bang, vrekbang!

Hierdie Engel het met ons begin praat! Ja, ja. Ek wonder hoeveel slingesous het julle toe al in julle lywe gehad. Het ek stilweg gedink.

Rêrig!  Die Engel sê toe dat ons nie bang moet wees nie. Kan jy dit glo! Ons moenie bang wees nie.

Toe sê die Engel dat hy vir ons goeie nuus het. Daar is ’n baba gebore, Christus die Here!

Ons het na mekaar gekyk in verwondering. Ons kon nie glo wat besig is om met ons te gebeur nie! En nou is ons hier!

Die ster het ons tot hier gebring! Waar is die baba?

Lyk my huis dalk vir julle soos ’n kraamsaal? Het ek ek stilweg gedink.

Dit het vir my na net nog ’n wolhaarstorie geklink toe ek skielik besef dat daar twee mense in die skuiling is vanaand. En die meisie is vêr swanger!

Kom saam met my! Dalk, net dalk weet ek iets van hierdie baba waarvan julle praat! Terwyl ons daarheen stap toe hoor ons dit! ’n Baba wat huil!

Wat ’n wonderlike gesig was dit nie! Rowwe manne wat kniel en hulde betoon aan hierdie baba.

Ek kan regtig nie verduidelik wat met my gebeur het hierna nie. Wat ek wel kan sê is dat ek ook aangeraak is, en verander het toe ek voor hierdie baba gekniel het.

Nie net was hierdie baba op my erf gebore nie, maar vreemd genoeg, was hierdie baba ook in my hart gebore.

Ek het nie vir die paartjie geld gevra vir die verblyf nie. Ek het gevoel dat ek op ’n ander manier betaal is.

Dit is my storie. Daagliks dink ek terug aan die feit dat ek daardie aand vir Jesus amper nie plek gegee het in my lewe nie.

O ja. Ek dink dat ek vergeet het om my voor te stel. Ek is die herbergier!

TOEPASSING

Dis die verhaal van die lewe. So baie mense verkeer in hierdie moeilike posisie dat daar nie plek vir Jesus in hulle lewens is nie. Dat Jesus uitgesluit word.

Dat daar nie plek is vir Jesus in hulle harte nie.

Het jy al plek gemaak vir Jesus?

Op hierdie dag ontvang elkeen van ons die beste geskenk wat jy ooit sal kan ontvang.

Maar kyk vir ’n slag rondom julle.

Wat het geword van die Christelike belewenis van hierdie dag? Is dit wat Christus wil hê?

Gebede vir goeie besigheid en kinders wat bid vir mooi geskenke?

Ouers wat bid vir geld om hierdie groot geskenke te betaal? Magsmisbruik, ambisie, verraad, gulsigheid, konkelwerk, korrupsie, nepotisme, bedrog, sameswering, uitsluiting.

As jy regtig Jesus se geboorte wil vier hoef jy net lief te wees vir die mense rondom jou. Kom ons probeer iets vars en nuut.

Kom ons gee iets anders as waaraan ons land en sy mense gewoond is. Kom ons gee Jesus vir hulle.

AMEN