1 Korintiërs 1:1-9

Datum: 7 Januarie 2018

Prediker: Hannes Burger

Wanneer jy aan die begin van ‘n nuwe jaar jou eerste preek voorberei, kan jy nie eintlik help om te wonder waar begin ‘n mens? nie. Want dis nogal belangrik waar jy begin – dit het die professor ons destyds op kweekskool geleer. Jou inleiding maak of breek jou preek, het hy gesê. Jy moet dadelik mense se aandag vasvang, sodat hulle sal hoor wat die Here vir hulle wil sê. Natuurlik is die res ook belangrik - maar die inleiding vra besondere aandag. Dit moet om mee te begin nie te lank wees nie. Daarby moet dit ook nie te oorweldigend wees nie, want anders onthou die gemeente op die ou end net jou inleiding, en nie jou preek nie.

Dis al moeilik genoeg. Maar hoe lei jy dan ‘n hele jaar se prediking in? ‘n Nuwe jaar met ‘n nuwe tema, waarvoor ons julle lankal voorberei: “Radikaal anders wees vir Jesus”. Waar begin jy? Verlede week het Chris ‘n baie oulike inleiding gehad met die beeld van die deurmekaar klerekas, maar ek kan dit ongelukkig nie gebruik nie. Want jy sien, Adri weet hoe lyk my klerekas, en ek het toe nooit die afgelope week daarby uitgekom om dit reg te pak nie. Ek sou ‘n ander invalshoek moes kry.

Dis die soort van ding waaroor dominees kopkrap terwyl hulle preek maak. En die afgelope week lees ek toe in my persoonlike Bybelstudie weer ‘n slag Paulus se brief aan die Korintiërs van die begin af. En slaan bietjie na in die dik boeke op my ra, en so kom ek toe agter die slim mense noem vanoggend se gedeelte “Die proloog tot Korintiërs”. Toe dink ek: dís dalk waar mens 2018 moet begin. Dalk wil die Here vir ons vanoggend uit “die proloog tot Korintiërs” vir ons ‘n proloog tot 2018 gee, wat ons as gemeente rigting kan gee vir hierdie nuwe jaar, en ons kan help om in 2018 regtig “Radikaal anders” te lewe.

  1. Wie is ons?

En natuurlik weet die Here presies waar om hierdie proloog tot Korintiërs te begin. Hy begin op ‘n baie belangrike punt. ‘n Baie belangrike vraag: Wie is ons regtig? Dis verskriklik belangrik, want hoe gaan ek en jy weet waarheen ons op pad is in 2018 as ons nie regtig weet wie ons eintlik is nie? Daarom begin Hy die brief aan die Korintiërs met ‘n herinnering – Hy herinner die Korintiërs aan wie hulle is. Ons lees al hier in vers 2 dat hulle – en ons natuurlik ook – ”mense is wat in Christus afgesonder is”. Letterlik staan daar in die Grieks ons is “mense wat geheilig is.”

As jy onseker is of jy regtig radikaal anders sal kan lewe in 2018, kom die Here hier met die verrassende nuus: Jy hoef nie anders te raak nie. God het jou klaar anders gemaak. Dalk vergeet jy dit by tye, ook in 2017, maar God het jou reeds geheilig deur die kosbare bloed van Jesus, Hy het die volle prys vir jou betaal en jou vrygekoop sodat jy syne kan wees. Jy is vir Christus afgesonder. Dis die vertrekpunt. Jy is reeds radikaal anders, want dis wat God jou gemaak het, en jy weet mos Hy doen nie halwe werk nie.

Ons is ”mense wat in Christus afgesonder is”. En dan gaan Paulus in dieselfde asem voort: ons is “geroep om aan Hom te behoort” – letterlik, in die oorspronklike Grieks, staan daar ons is geroepe heiliges. Met ander woorde: God het ons nuut gemaak om nuut te lewe. God het ons nie vrygemaak om net aan te gaan soos altyd nie, maar sodat ons in ‘n lewende verhouding met Jesus Christus sal lewe.

En dis wie ons is. Dis ons identiteit. Dis wat ons in gemeen het, ons klomp mense vanoggend hier saam in die kerkgebou. Nie een van ons behoort meer aan onsself nie; nie een van ons is meer die belangrikste persoon in ons eie lewe nie. God het my in Christus afgesonder en geroep om aan Hom te behoort. Dis wie ek is. En ek is dit omdat Hy dit gedoen het. Dis als God se werk. Hy het in sy groot genade die inisiatief geneem en ons klomp hopelose sondaars verlos, ons almal syne gemaak. Dit, terloops, is wat die woord “kerk” beteken: dit beteken: dit wat die Here s’n is.

Laaste opmerking hieroor: Hier staan spesifiek dat ons “in Christus” afgesonder is: Dis die sleutel van die nuwe lewe wat God ons gegee het: ons nuwe lewe is ‘n lewe in Christus. ‘n Lewe in noue gemeenskap met Jesus Christus, verweef met sy opstandingslewe. Dis tog wat ‘n verhouding is: dis twee lewens wat verweef is. ‘n Verhouding is oneindig meer as om net om op Facebook te “in a relationship” te wees  - dit beteken: my hele lewe behoort aan jou, en jy is nou myne, elke oomblik van elke dag. Ek het geen identiteit los van jou nie. Ons is onlosmaaklik syne...

  1. In ‘n neutedop: Ons is begenadigdes.

In een woord kan jy sê: ons is begenadigdes. Dit staan oor ons almal en oor ons as gemeente geskrywe: God het sy genade in Jesus oor ons uitgegiet, soos die reën waarna ons so hartstogtelik smag. Sonder maat en sonder om terug te hou. Dis waar van Korinte, en dis waar van De Eike. Want soos die Korintiërs, kom ons eintlik niks kort wat Hy nie gegee het nie. Hy het ons geseën met eindelose gawes. Maar veral twee. Net soos in die geval van die Korintiërs, het God ons veral geseën met die woord en kennis. Want wat is daar oor die woord van God, wat jy nog nie gehoor het en wat jy nog nie weet nie? Met hoeveel vrymoedigheid behoort jy nie teen hierdie tyd al te kan praat oor die koninkryk en oor Jesus nie?

God het ons alles gegee. Ja, ons as gemeente is ideaal geposisioneer vir 2018! Vir ‘n opwindende avontuur van ware dissipelskap. ‘n Wonderlike jaar van radikale dissipelskap lê as’t ware in ons bereik. Jy kan amper daaraan raak.

Maar dan sê Paulus iets wat ons laat huiwer. Hy praat van die dringendheid waarmee die Korintiërs die Here dien: Hulle verwag Hom enige oomblik, en dit maak dat hulle Hom net met nog meer oorgawe dien. Maar dis net dan wat die alarmklokkies in jou kop begin afgaan as jy hier lees. Want ons ken mos die res van hierdie brief. Ons weet mos dat die gemeente beslis in baie opsigte onderpresteer het: ons weet van hulle onderlinge verdeeltheid en onvolwassenheid, van hulle sedeloosheid en al die strydende faksies in die gemeente, van hulle liefdeloosheid en eiebelang. En skielik besef jy dat die hemel nog nie neergedaal het op Korinte het – of beslis ook nie vir ons nie.

  1. God is getrou.

Daarom is daar een sinsnedetjie wat jy tog nie moet mis hier aan die begin van die brief nie. Sommer al in vers 9 staan dit glashelder uitgespel. Hier staan: “God is getrou”. Elke lidmaat van Korinte wat hierdie brief lees of aanhoor, moet dit weet: Ten spyte van hulle onvolmaakthede, sal God hierdie gemeente nie prysgee nie. Hy sal hulle nie op die pad vorentoe aan hulleself oorlaat nie. God sal sy kant bring in die gemeente. En dis vir ons ook waar. Ek en jy kan dit vandag ook aan die begin van hierdie nuwe jaar weet: Die Here het ook nie net De Eike tot hier gebring nie. Hy sal vir seker ook sy kant bring vir De Eike in 2018!

Maar jy moet elke oomblik onthou wie jy is. En onthou waarvoor jy geroep is in 2018. En om dit vir jou makliker te maak, vat die Here dit ten slotte in een enkele sin saam. Wat is die één ding wat die Here van jou vra, die één ding waartoe Hy jou roep in 2018? Ek en jy is geroep om “verenig te lewe met sy Seun”. Nog een laaste Griekse woord: hier staan dat ons geroep is tot koinonia met Jesus. Dís wat God van jou vra vir die jaar wat voorlê, en dis die hoofideaal, die vernaamste Nuwejaarsvoorneme wat jy vir jou moet stel. Lewe in 2018 verenig met Jesus. En die res sal in plek val – God sal daarvoor sorg!

AMEN