Matteus 5:38-48
Datum: 12 Februarie 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Vandag het ons weer een van daardie stories in die Bybel gelees wat my so laat wens dat ek self daar was, om dit eerstehands te hoor. Want ek dink ons kan ons vandag moeilik die impak voorstel wat Jesus gemaak het, toe alles wat Hy gesê het, nuut en oorspronklik was, en niemand nog ooit vantevore so iets gehoor of gedink het nie. En hierdie was so ‘n dag. Jesus het daar iewers teen die hange van ‘n berg gaan sit, en begin om op sy tipiese rustige manier die mense te leer wat daar om Hom versamel het. Hy het hulle geleer wat dit beteken dat die Koninkryk van God gekom het. Na alles was dit mos sy lewenstaak, dit waarvoor Hy spesiaal gekom het: Hy het ons kom leer van die Koninkryk. Dit was dan ook destyds die heel eerste ding wat hy gedoen het, nadat Hy uit die woestyn teruggekeer het, en vir Hom twaalf volgelinge bymekaargemaak het. Hy het begin rondgaan en vir die mense begin leer wat dit beteken dat die Koninkyk van God gekom het.
So neem Hy dit wat Johannes kom leer het, nog net daardie stappie verder. Johannes het mense kom waarsku dat die koninkryk baie naby was, en dat hulle hulleself gereed moet kry daarvoor. Jesus het mense geleer dat die Koninkryk nou hier is. Die oomblik toe Jesus gekom het, het die koningskap van God ‘n werklikheid in ons wêreld geword. Dit was nie meer ver nie, nie iets waarna jy reikhalsend moet uitsien nie. Jesus het dit gebring. Dis hier en nou.
- Die Koninkryk is hier!
Almal het gewonder: Waarvan praat Hy? Wat beteken dit, dat die koninkryk hier is? Ek het dan vanoggend niks snaaks agtergekom toe ek wakker geword het nie. Wat is die implikasies dan nou van hierdie aardskuddende realiteit dat God se koninkryk hier is? En dis met hierdie vraag wat in die lug hang, wat Jesus gaan sit teen die berg, en begin om die radikale werklikhede van die koninkyk te verduidelik. In God se koninkryk is dit die sagmoediges en die nederiges wat die aarde beërwe, en nie die geweldenaars wat ander terroriseer nie. In God se koninkryk is dit die barmhartiges en die diegene wat vrede najaag, wat die nuwe aarde gaan ontvang, en nie die wat onrus aanblaas tot hulle eie voordeel nie. In die koninkryk is dit die wat weet hoe totaal afhanklik hulle van God is, aan wie die koninkryk behoort, en nie aan die dinamiese, die selfversekerdes en selfvoldanes nie.
Sy toehoorders het hom met oop monde aangegaap. Want dit wat Hy sê, keer alles wat hulle nog ooit gedink en geweet het op sy kop om. Die lewe in die koninkryk is radikaal teenoor enigiets anders wat hulle nog ooit geken het, dit beliggaam totaal ander waardes as dié waarmee hulle grootgeword het, en wat hulle tot dusver in die kerk geleer is. Dis duidelik dat waar God Koning is alles, maar alles, anders is.
En dis op die ou end die kern van Jesus se bergrede, wat seker die bekendste en wonderlikste preek van alle eeue is. God se koninkryk is hier. God is nou ons Koning, nie meer status of geld of mag of materiële goed nie. Daarom godsdiens nie meer ‘n klein onderafdelingtjie van ons lewe nie - ons hele lewe is nou godsdiens. Want Hy is Koning oor alles.
Vergeet alles wat jy tot dusver gehoor of geglo het, vertel Jesus vir sy volgelinge. Van kleins af hoor jy dat dinge op ‘n sekere manier werk. Jy hoor wat “die mense sê”, wat ‘n mens behoort te doen of nie te doen nie. Vergeet dit alles nou net hier. Dis irrelevant. Want van vandag af geld wat God sê. Dit gee van nou af die deurslag. Dis ons enigste norm.
So byvoorbeeld, sê Jesus, het jy mos al van kleins af gehoor 'n man laat nie met hom mors nie. Jy moenie op jou laat trap nie. Ek weet nie waar kom dit vandaan nie – want dit staan beslis nie in die Bybel nie. Dis beslis nie hoe ons vir Jesus leer kan het nie. En dis beslis ook nie hoe Hy ons geleer het om te maak nie. Maar dis wat ek hoor vandat ek net so groot is.
Net so het die Fariseërs ook destyds vir die mense geleer dat jy as gelowige iemand drie maal moet vergewe. Daarna kan jy maar kwaad bly, en maak soos jy wil, want dan is hy duidelik net moedswillig. En as iemand kies om jou vyand te wees, skuld jy hom niks. Dan kan jy enige tyd maar sy vyand ook wees, en hom haat. Dis mos sy keuse!
Maar toe kom Jesus. En Hy leer ons om nie net lief te wees vir die mense wat ook vir ons lief is nie. Ons moenie net sorg vir die mense die heel naaste aan ons, en die res moet maar sien en kom klaar nie. Nee, sê Jesus. God gee sy reën oor goeie en slegte mense, nie net oor sy kinders nie. As jy net gaaf en ordentlik is teenoor hulle wat net soos jy dink en heeltyd met jou saamstem, is jy nie anders as die wêreld nie! Ons moet omgee vir alle mense, selfs vir daardie ou wat niks van die Here en sy kerk wil weet nie. Wie weet, miskien gebruik die Heilige Gees ons nog om hom nader te trek!
- Wat sê dit vandag vir ons?
Hoe lyk 'n dissipel dan nou? En dan gee Jesus die antwoord vir ons, so eenvoudig soos jy sou kon hoop. Ware dissipels van Jesus, mense van die Koninkryk, lyk soos "kinders van ons Vader in die hemel" sê Hy in vers 45. En daarmee gee Jesus vir ons die vernaamste eienskap van sy volgelinge. Soos die koninkryk in alle opsigte radikaal anders is, so is God se kinders ook radikaal anders. Hulle lyk nie meer soos die mense van toeka af vir hulle gesê het reg is nie. Hulle is anders. Hulle vertoon Jesus se styl...
En dan kom dalk die grootste verrassing van die hele bergrede. As jy dan jouself amper nie kan help nie, en moet vra: En hoe lyk Jesus se styl? Verras Jesus jou. Want Jesus se antwoord lê op ‘n totaal ander vlak as wat ons sou verwag.
As jy my sou vra, sou ek nou verwag dat Jesus vir ons volledig uit sou spel hoe ware Godsdiens lyk. Dat Jesus sou praat oor volkome oorgawe, oor kinderlike vertroue, oor ware toewyding, ‘n ernstige gebedslewe en gedissiplineerde Bybelstudie. Dalk selfs oor die gee van dankoffers vir die Here! Ek sou dink Jesus sou vir ons verduidelik wat ware godsdiens is, in teenstelling met dit wat die Fariseërs geleer het. En dis presies wat Hy doen. Maar heeltemal glad nie soos ons sou verwag nie!
Wanneer Jesus hier praat oor die andersheid van ons lewe in die koninkryk, praat Hy eintlik min oor godsdiens as sulks. Hy praat eerder hoofsaaklik oor menseverhoudinge. Dis wat wys of jy regtig sy dissipel is, of self in beheer van jou lewe is. Jy het van kleins af gehoor wat "die mense sê". Hoe jy teenoor ander behoort op te tree. Maar nou is die koninkryk hier, en jy het deel daaraan gekry. Nou kom keer Jesus ook jou lewe op sy kop om. Nou is dit tyd vir die styl van die koninkryk om in jou lewe die deurslag te gee.
Ek is altyd verbaas hoe die Here goed oor ons pad stuur, wat ons daardie dag behoort te hoor. As ons net wakker genoeg is om dit op te tel, kom lei Hy ons elke dag deur klein goedjies. Ek het ‘n dagboek vir 2023 wat die week nogal besonder vol geskrywe was, maar een dag val my oog net op so ‘n kort gedagtetjie wat onder-aan die bladsy staan. En terloops, dis nie ‘n geestelike dagboek wat ek by CUM Boeke gekry het nie. Dis ‘n gewone sekulêre dagboek wat ek heel billik by ‘n gewone skryfbehoeftewinkel in ons omgewing gekry het. En onder-aan die bladsy staan daar, nogal van ‘n onbekende skrywer:
“People were created to be loved.
Things were created to be used.
The reason why the world is in chaos is
because things are being loved and people are being used...”
- Wat sê dit vandag vir ons?
Dis nie opsioneel nie. As dissipel van Jesus het jy nie ‘n keuse nie. Soos die koninkryk anders is, so moet jy anders wees. Trouens, Jesus gaan selfs nog verder. Hy vra hier van ons 'n geweldige ding: "wees dan volmaak". Want Hy weet, die versoeking is altyd daar om onsself wys te maak niemand sal dit tog ooit reg kry nie, en ons is tog nou nie só sleg nie. Maar in die koninkryk is om tevrede te wees met tweede beste, net nooit ‘n opsie nie.
Wees dan volmaak. Wees anders. Want in Jesus, is die koninkryk hier!
AMEN