Openbaring 7

Datum: 8 Mei 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ek onthou hoe ons as gesin in my kinderjare altyd met die ou Ford in die nag gery het as ons op vakansie gaan – destyds kon jy dit nog doen, en my pa het gereken dis veiliger so. Maar vir ‘n kind voel daardie karoodorpe op beste van tyd bitter ver uit mekaar uit, en in die nag kan jy jouself nie besig hou deur na die skapies en die windpompe langs die pad te kyk nie. Dan voel dit ekstra lank. Daarom het my pa altyd vir ons gewys die oomblik wanneer mens die volgende dorpie se liggies kan begin sien. In die Karoo kan jy natuurlik tot in die toekoms toe sien, en op daardie stadium was die dorpie nog baie myle weg, maar jy was sommer klaar opgewonde net om te sien waarheen jy op pad is. Tot jy daar kom, natuurlik. Dan kom jy gou agter dis ook nie so vreeslik baie om na te kyk nie. Maar dis nie die punt nie.

 

Die eintlike rede hoekom ek die week weer daaraan gedink het, is omdat die Hebreërskrywer presies hierdie selfde beeld gebruik om die lewe van ‘n Christen te verduidelik. Ons is ook almal op ‘n reis, sê hy. Ons is op reis na die hemelse stad wat God vir ons belowe het, daardie stad waarvan ons eintlik die burgers is. En waar ons eindelik waarlik tuis gaan kom. En die reis raak maar somtyds lank, en dit voel vir jou asof jy net nooit daar gaan uitkom nie. Veral wanneer die pad maar somtyds opdraende en vol dorings raak. Maar geloof is om jou kop op te tel en verder as die opdraende te kyk, verder as omstandighede wat jou swaar laat kry. Geloof is om in die verte met jou geloofsoë die bestemming te sien waarheen ons op pad is, die hemelse stad wat God vir sy kinders gereed gemaak het, en waarvan jy alreeds ‘n burger is.

 

Selfs wanneer jy dit wat Johannes hier noem die “Groot Verdrukking” aan jou lyf ervaar. En nou het die mense in Efese aan wie Johannes hier skrywe, verstaan as hy hieroor skrywe. Want hulle het swaarkry geken. Hulle is aktief vervolg, maar daarby is hulle ook uitgesluit uit die samelewing en verarm. Hulle kon hulle baie goed identifiseer met die groot vraag van Openbaring 6: Hoe lank nog, Here? Want dis ‘n vraag wat hulle self ook nog elke dag gevra het: Hoe lank nog...?

 

Kyk mooi, sê Johannes vir hulle. Want in die donkerte kan jy in die verte al die liggies sien. Moenie vergeet waarheen jy op pad is nie, want dan gaan jy moed verloor en dalk tou opgooi.

Tel op jou kop en kyk bo-oor die stukkendheid van ons wêreld, die ekonomiese druk, die siekte en ellende, die kwaad en die geweld. Onthou heeltyd dat jy nie regtig meer deel is van hierdie wêreld nie. Jy is ‘n reisiger daardeur. En as jy mooi kyk, kan jy die liggies al in die verte sien...

 

Maar nou was daar ‘n standaard-vraag hier van die agterste sitplekke af wat ons elke keer gevra het as ons die liggies kon begin sien. Pa, wat se liggies is dit? Waarheen is ons nou volgende op pad? En dis presies hierdie vraag wat Johannes in Openbaring 7 aan die orde stel: wat is dit wat ons sien? Wat verwag ons regtig, verstaan ons waarheen ons op pad is?

 

  1. Die 144000 met die merk op hulle voorkop.

Op die oog af gee God vir Johannes hier in Openbaring 7 ‘n gesig van twee groepe mense. Maar nou stem die meeste skrifuitlêers eintlik saam dat dit eintlik twee fotos van dieselfde groep mense is. Eers lees ons van die 144 000 wat deur die engel gemerk word. Nou is baie goed al geskrywe oor hierdie merk van God, oor wat dit sou wees en beteken, en aan die meeste daarvan hoef jy jou regtig niks te steur nie. Heel waarskynlik is hierdie die eiendomsmerk van God, wat net Hy self kan sien. En dit sê vir ons twee goed van hierdie mense.

 

In die eerste plek sê dit vir ons dat God presies weet hoeveel sy kinders is. Die getal is natuurlik simbolies van aard, dis die somtotaal van 12 x 12 x1000, waarvan 12 die Ou Testamentiese gelowiges verteenwoordig (daar was mos 12 stamme) en 12 die Nuwe Testamentiese gelowiges (daar was mos 12 apostels). Maar die belangrike ding wat jy moet hoor, is dat daar nêrens in ‘n donker hoekie een enkele van God se kinders is wat vergete bly nie. God ken elkeen van sy kinders, en weet presies hoeveel van ons daar is, sodat nie een van ons verlore sal gaan nie.

 

Maar dit sê ook vir ons dat Hy ons gemerk het as sy eiendom. Jy is God s’n, en Hy sal dit nooit vergeet nie. Dis in die eerste plek jou identiteit: jy behoort aan God. Jesus is jou Verlosser en Here, en daarom aanvaar die Vader volle verantwoordelikheid vir jou. En as dit ooit vir jou voel asof God jou vergeet het, moet jy weet dis net dit: ‘n gevoel. Dis geensins die waarheid nie. Die waarheid is dat God nooit sy kinders vergeet nie. Dwarsdeur hierdie groot verdrukking weet Hy van elkeen van hulle, en hou hulle styf vas. Daarom mag jy maar midde-in die storm veilig en geborge voel...

 

En onthou, hierdie is nie toekomsmusiek, soos my Griekse professor altyd gesê het nie – dis alreeds ‘n werklikheid. Jy is gemerk as die eiendom van God...

 

  1. ‘n Skrale troos?

Maar dalk wonder jy nog altyd wat se verskil dit regtig maak. Na alles leef ons nog altyd in hierdie Groot Verdrukking, kry ons nog altyd swaar op hierdie lang reis waarin ons op pad is. Wat baat dit alles ons, as ons steeds swaar kry?

 

Die Bybel se antwoord hierop is om die gordyn van die toekoms vir ‘n oomblik op ‘n skrefie oop te trek, en vir jou weer ‘n  foto van hierdie groep mense te gee. Maar hierdie slag is dit ‘n kykie in die hemel. Jy mag vir ‘n oomblik iets sien van die bestemming waarheen ons op pad is, die stad van God. En dit slaan jou asem weg. Want daar sien jy niks van die swaarkry wat jou elke dag omring nie. Die moeitevolle reis is verby, en wat jy hier sien, is ‘n uitbundige viering van mense wat jubel en juig, wat feesvier met palmtakke wat vreugde simboliseer, en wat die hele tyd aan God die lof gee vir wat Hy vir hulle bewerk het, en vir die feit dat Hy hulle getrou bewaar het deur die groot verdrukking, net soos Hy belowe het Hy sou. In die hemel sien ons ‘n prentjie van sorglose vreugde en vrede.

 

En dis ons bestemming. Dit wag vir elkeen wie se klere gewas is in die bloed van die Lam, Johannes se beeldspraak vir elkeen wat Jesus Christus as hulle persoonlike Verlosser aanvaar het. Dis vir elke gelowige. En dan staan hier iets wat my eie asem totaal wegslaan. In die Grieks staan hier dat God self sy tent bo-oor hulle opgeslaan het. Hy het hulle omring met sy teenwoordigheid en beskerming. Hy is orals en die middelpunt van alles.

 

  1. Vir seker ‘n idilliese prentjie!

Dis Openbaring 7. En dis bedoel om Johannes se lesers te laat moed skep, of hulle nou in die eerste eeu na Christus in Efese lewe  of in die 21e eeu in De Eike. En daarom stuur God jou vandag ook huis toe met hierdie twee punte om jou moed te gee vir die deel van jou reis waarin jy jou op die oomblik bevind. Veral as dit dalk moeisaam en opdraende voel:

 

Onthou in die eerste plek dat die fees reeds begin het. Ons sien dit nie altyd nie, en ons vergeet dit party keer as dinge vir ons rof raak, maar hierdie is nie ons finale bestemming nie. En op hierdie reis sal jy nooit alleen wees nie, al loop jou pad ook deur watter donker dieptes. Want jy is gemerk as die eiendom van God. Jy is syne en Hy weet dit. Hy aanvaar verantwoordelikheid vir jou. Ook vir jou het die fees reeds begin.

 

En in die tweede plek herinner hy jou net daaraan dat daar vir jou nog sóveel meer wag. Wat nooit eers in ons gedagtes opgekom het nie, dit het God vir sy kinders gereeds gemaak, en jy kan dit reeds in die verte sien. Dit wag vir jou...  AMEN