Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23
Datum: 5 September 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Nie oor wat jy mag doen, maar oor wie jy is…. Doop
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Spreuke is aangename leesstof. Nie net is dit seker die mees praktiese boek van die hele Bybel nie, maar jy kan dit sommer net vir die lekkerkry lees – daar is net soveel baie amusante juweeltjies. Soos hy jou waarsku om tog maar spaarsamig te wees met jou kuiers by jou buurman, anders gaan hy nie meer van jou hou nie. Maak sin! Of dat ‘n mens sonder selfbeheersing is soos ‘n stad sonder ‘n muur, of een wat ons almal ken: as jy ‘n gat vir ‘n ander grawe, val jy self daarin. Baie van die spreuke het spreekwoorde in Afrikaans geword, om die eenvoudige rede dat dit net só waar en só prakties is! En dan nog plek-plek só snaaks is ook!
Maar moenie Spreuke ligtelik opneem nie. Want daar sit veel meer as humor agter elkeen van hierdie spreuke. Daar sit ‘n diep geestelike waarheid. ‘n Waarheid wat is die diep geheim is van ‘n gelukkige, geballanseerde lewe. Om die waarheid te sê, jy hoef nie baie diep in die boek in te lees om hierdie geheim te hoor nie. Sommer al in die heel eerste hoofstuk kry jy hierdie geheim. In die 7e vers staan die sleutel van hierdie hele boek, trouens, die sleutel van die hele Ou Testament. Kan ek maar sê, die sleutel van die lewe, vandag nog net so waar soos toe. Daar staan: “Kennis begin met die dien van die Here”. Die geheim van ‘n wyse lewe, ‘n sinvolle lewe is om die Here te dien. Daar kom ware insig, ware wysheid vandaan.
Ons moet vanoggend mooi daarna luister. Want ons lewe in verwarrende tye. Ons hoor geluide wat ons nog nooit gehoor het nie, verwarrende uitsprake deur mense van wie ons dit regtig nie verwag nie. Al die waarhede waarmee ons grootgeword het, die sekerhede waarop ons ons lewe gebou het, word nou bevraagteken. En natuurlik het alle menslike uitsprake oor die algemeen maar ‘n vervaldatum, jy gaan dalk môre self dit bevraagteken waarvan jy vandag so oortuig is. Daarom moet mens nooit te seker van ons eie opinies wees nie. Dis wel waar.
Maar nou word selfs die groot waarhede van die Bybel ook oral bevraagteken. Selfs deur sogenaamde teoloë. Daar is selfs van hulle wat die opstanding van Jesus ontken, al sê Paulus reguit dat dit die ruggraat van ons geloof is, en dat ons geloof leeg en sinneloos sou wees daarsonder! Byna weekliks bekla ‘n lidmaat by my kla sy ontsteltenis hieroor.
En dit is regtig verwarrend. Al die jare het dinge vir ons so duidelik gelyk – so swart op wit. Ons was gewoond daaraan dat daar baie duidelik vir ons gesê is wat reg en verkeerd is. En jy het geweet jy kan maar luister as 'n teologiese professor praat - dit was dit so goed of jy het dit self in die Bybel gelees. Maar nou het dit alles verander. En dit maak ons onseker. Dit voel of die mat onder ons uitgeruk word. Met al hierdie verwarrende geluide, hoe moet ons weet hoe ons moet lewe?
- Hoe moet 'n gelowige lewe?
Hoe moet 'n gelowige lewe? As dít jou vraag is, is bietjie in die moeilikheid. Want jy gaan baie uiteenlopende antwoorde daarop kry. Jy gaan dalk op die ou end meer verward wees as toe jy begin het. Maar gelukkig het God self vir jou ‘n antwoord daarop. In sy Woord is daar ‘n boek wat spesifiek net hieroor handel. Die Spreukeboek. Want Spreuke wil ons leer hoe 'n gelowige lewe. Dit wil jou leer om te alle tye met wysheid op te tree - en nie menslike wysheid wat ‘n vervaldatum het nie, maar met Goddelike wysheid, wat ewig vas staan. Lees maar net die Spreukeboek, en begin sommer by Spreuke 9:10. Daar staan die tema van die Spreukeboek: "Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig." Daar het jy dit. Die vertrekpunt vir 'n wyse lewe, 'n lewe tot eer van die Here, is: dien die Here.
En nou begin jy dalk verstaan dat Spreuke nie in die eerste plek ‘n reëlboek is, wat jou wil leer hoe om te maak nie, maar eerder vir jou wil leer wie jy is. ‘n Sinvolle gelukkige lewe hang nie af van wat jy doen nie, maar dit hang af van jou identiteit. Van wie jy is.
- En wie is jy dan nou eintlik?
Maar wie is jy dan nou eintlik? Dit wil al vir my lyk ons weet nie meer lekker wat die antwoord daarop is nie. Ons weet nie meer regtig wie ons self is nie. So kom ons begin vanoggend daar. Wat sou jy van jouself sê: Wie en wat is jy regtig? En gelukkig kan ek jou darem daarmee help. Want ek weet wat ons antwoord behoort te wees. As gelowige kinders van die Here moet ons kan sê: "Ons is mense wat God nuut gemaak het." En verder: "Ons is mense wat elke dag onder leiding van die Heilige Gees lewe."
Dís wie ons is, en dis die kern, die groot waarheid oor ons lewe. Ons lewe as Christene word nie meer bepaal deur wat mense sê, of deur reëls nie: Ons groot vraag is nie meer: Wat mag ek doen? nie. Die gróót vraag is eerder: Wie is jy?
En as jy vanoggend antwoord: Ek behoort aan die Here! Ek is in Jesus Christus 'n nuwe mens! Dan moet mens dit darem seker in jou lewe kan sien. Dan moet jy lyk soos ‘n nuwe mens, dink soos ‘n nuwe mens, optree soos ‘n nuwe mens! Dan is die een grootste vraag wat ek heeltyd vir myself moet vra: Wat pas by my nuwe identiteit? Wat pas by iemand wat aan die Here behoort? Hoe tree hy of sy op teenoor ander mense? Hoe lyk hy by die werk, tussen sy vriende, en veral ook in sy eie huis, wanneer die voordeur toegetrek is?
Jy sien, my lewe het 'n storie. Daardie storie begin lank terug waar ek nog 'n sondaar was, wat besig was om verlore te gaan. Maar intussen het iets gebeur wat alles verander het. God het in my lewe ingekom, ingegryp en my verlos. En my sy kind gemaak. En toe boonop deel van my storie geword deur binne-in my te kom woon, sodat die Heilige Gees my elke dag kan lei en help om te lewe soos Hy graag wil. Dis my storie.
En wát ook al oor my pad kom, is dit die groot vraag wat ek moet vra: Pas dit in by daardie storie? Sal dit by my nuwe lewe pas, as ek net ignoreer wat die Here in sy Woord oor die huwelik leer, of as ek net weier om die minste te wees en die dienaar te wees wat Hy my leer om te wees, as ek net nooit vir enigiemand wil terugstaan nie?
Weet jy, dis dalk goed dat jy vandag so baie verwarrende geluide hoor. Want dit dwing jou om as Christen vir jouself die belangrikste vraag te vra: Wie ís ek regtig? Wat is my ware identiteit, en hoe moet ek dus lewe?
- Beteken dit dat elkeen nou maar kan maak soos hy wil?
Maar dalk is dit nie vir jou so baie lekker nie. Dit was dalk lekkerder en makliker toe jy presies voorgesê is wat reg en verkeerd is, en jy nooit self daaroor gewonder het nie. Miskien maak dit jou selfs bang en onseker, en wens jy iemand wou liewers vir jou voorskryf.
Maar moenie dit so sien nie. Want veel eerder wag daar vir jou ‘n nuwe avontuur saam met God. Dalk gaan jy nou vir die eerste keer regtig ontdek hoekom die Heilige Gees vir jou gegee is, en regtig begin ervaar hoedat Hy jou lei en vir jou die wysheid gee om te lewe volgens die wil van God. Nie omdat enigiemand dit vir jou voorgesê het nie, maar omdat die Here jou self so gelei het! Dalk gaan jy nou nuwe ontdekkinge maak, dat goed wat jy as vanselfsprekend aangeneem het, omdat jy al so gewoord geraak het daaraan, dalk glad nie deel van God se plan vir jou lewe is nie. Dalk begin hier vir jou ‘n opwindende nuwe pad, as kind van die Here. Want ware wysheid begin met die dien van die Here.
Daarmee gooi ons nie alle reëls oorboord nie. Jesus het ons mos self kom leer om nie die wet oorboord te gooi nie. Inteendeel! Hy laat juis die wet tot sy volle reg kom in jou lewe. Sodat dit nou net die natuurlike uitvloeisel van ons nuwe identiteit is – dis hoe mens lewe as jy ‘n nuwe mens in Jesus is!
En dit bring ons weer terug by Spreuke. Wat beteken dit dat jy die Here dien? Wat is die praktiese gevolge daarvan?
Slot: Wat maak ek dan met alles wat ek deesdae hoor?
Dis eintlik baie eenvoudig. Ons dra die merk van die Here, wat in die doop aan ons gegee is. Ons het Hom aangeneem as ons Verlosser en Here, en nou is ons sy kinders. En nou word my lewensstyl nie bepaal deur dit wat mense sê nie. Laat hulle dan maar raas as hulle wil. My lewensstyl word bepaal deur wie ek is. Ek ek is 'n nuwe mens, wat deur die Gees van God gelei word. Die wilde aansprake van mense wat nie in lyn met die Woord is nie kan nooit my optrede bepaal nie. Ek is 'n nuwe mens, wat deur die Gees van God gelei word. En dis wat my lewensstyl bepaal. My roeping is om elke dag só te lewe.
Amen