Deuteronomium 7:7 – 9 en 1 Kor.1:27 – 29

Datum: 13 November 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk

INLEIDING

Daardie geykte stelling dat ontvangers die vrugte pluk vir hulle harde werk en toewyding en dis hoekom julle vanoggend hier is, werk nie in die kerk nie. Julle is vanoggend hier omdat julle bereid is om laag te buig, kleiner te wees as ander. Julle is hier omdat niks aan julle behoort nie. Julle is net rentmeesters. Julle tyd, julle geld en dinge behoort  aan die Here. Hier wen ons nie gewildheidskompetisies of ontvang medaljes nie.

Hier word ons minder sodat die Here meer kan word. Hier word ons gestroop van alles wat tussen ons en Here staan. Vanoggend kies julle so ’n lewe. En dit vra toewyding. Moenie na vanoggend verdwyn nie. Vanoggend sê jy Ja, vir die Here. Dit is hoekom jy deel moet wees van ’n geloofsgemeenskap. ’n Geloofsgemeenskap is die plek waar ons mekaar dra en vashou, die plek waar ons saamgroei in geloof. Moet nooit sê dat jy by die huis bly want die dominee is sus en so of die musiek is nie na my smaak nie. Of ek kry niks in die erediens nie. As dit die geval is, wil ek jou vra: As jy dan nie hierdie gemeente betrokke is nie, vir watter rede ook al, waar is jy dan elders betrokke? Glo my vanoggend, as dit nie vir ’n geloofsgemeenskap was wat my vasgehou het nie, sou ek nie vanoggend hier gewees het nie. Ek kan nie myself indink hoe ’n lewe sonder die Here kan wees nie. Dus, kom ons klim van ons troontjies af en raak betrokke, eerder as om heeltyd kritiek te lewer en verskonings te maak hoekom ons nie deel is van hierdie gemeente is nie.

Hier gebeur wonderlike dinge in ons gemeente. Verlede Sondag het ons op AVALON die buitelug-erediens gehou. Weereens het ons op Sarel en Tarina se plaas die wonder van God se skepping beleef. Binne-in daardie lowergroen bos wat oortrek is met varings, struike en clivias wat blom, kon ons langs die fontein al die eer aan die Here bring. Daar was ook ’n kinder-oomblik waarna Rietta en haar leidsters die kinders op hierdie lowergroen gras iets van God se skepping kon laat beleef het. Die kinders het elkeen ’n spekboompie geplant en hulle het my vertel dat dit goeie ervaring was. Die groot oomblik in daardie bos was toe ons klein Anne-Mari met vars fonteinwater kon doop. Die grootsheid van die oomblik was om te besef hoe groot God se genade is. Dat ons Vader wat in die hemel is, die eerste tree gee en klein Anna-Mari merk om deel te wees van Sy verbondskinders. Die oomblik was, soos elke keer wanneer ’n baba gedoop word, vir my te groot. Dit is waar alles ook vir julle begin het.

NIKS, MAAR NIKS OM OOR TE ROEM NIE

Natuurlik is dit heerlik om op ‘n dag soos vandag bymekaar te kom, om hier te kan wees en die vreugde van ouers en jongmense te kan deel waar hulle belydenis van geloof aflê. Maar te midde van al die wonderlike mylpale en goeie oomblikke wat in julle lewens plaasvind is daar egter altyd die gevaar dat ons dink... ONS doen hierdie dinge,.... ons is so oulik, ....ons is die super ballerinas, .....ons offer so baie op vir God.

Vanoggend hoor ons ’n ander boodskap vanuit die Woord van die Here. Die twee gedeeltes wat ons vanoggend uit die Bybel gelees het herinner ons daaraan dat ONS niks het om op te roem nie:

  • Deut 7:7: “die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.”
  • 1 Kor 1:29: “Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.”

HOEKOM IS ONS VANDAG DAN HIER?

Hoekom is ons dan vandag hier? Wat het gemaak dat ons bereid is om hier te staan, en in die openbaar te sê wat ons glo? Net soos met Anna-Mari se doop verlede Sondag op Avalon in die bos, net so is dit waar alles ook vir julle begin het. Om dit te verstaan moet ons ongeveer so sewentien jaar terugbeweeg in tyd. Daardie tyd toe julle net soos klein Anna-Mari deur julle ouers ten doop gebring is. Dit was ‘n baken, ‘n oriëntasiepunt in julle lewens, al het julle niks daarvan verstaan op daardie tydstip van julle lewens nie. Julle kon niks vir julleself doen nie.

  • Eerstens het julle ouers beloof om julle lief te maak vir Jesus. Dit is baie meer as om saans die Kinderbybel vir julle te kon lees. Julle ouers moes self besef dat ‘n lewe saam met God beter is as ‘n lewe sonder Hom EN hulle moes dit aan julle modelleer.
  • Die belangrikste wat daardie dag gebeur het is egter dat God self uitgereik het, toe julle nog niks verstaan het nie, en vir julle gesê het dat Hy beloof om vir jul lief te wees. En nog meer, Hy het die teken van water gegee sodat jul altyd iets kon hê om herinner te word aan God se liefde.
    So behoort ons doop vir elkeen van ons ‘n versterking te wees.

Toe die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer in die tronk sit as gevolg van sy geloof, toe die Nazi’s hom forseer om toe te gee en sy geloof te verloën – toe skryf hy uit wanhoop: “Wie is ek?” God het hom egter genade gegee om daarby te skryf: “Wie ek ook al is, o God, U weet ek is U s’n.” En dit is waar van elkeen van ons – te midde van watter moeilike omstandighede of twyfel, kan ons uitroep: “U weet ek is U s’n.!”

U weet ek is U s’n......Here u weet waar om my te kry.

Julle kom vanoggend om iets te sê. Iets wat ons ander, wat dalk al lankal lidmate is, ook met ons lewens moet sê. Dit gaan NIE hier oor wat EK kom sê nie, nee dit gaan oor voortgaande bevestiging van God se werk in my lewe:

  • Ons lewe word deur die Gees van God gelei as ‘n uitlewing van wat Jesus gevra het. Jesus het gevra dat ons SY voorbeeld navolg. Hoe lyk ons getuienis?

En daardie keuse wat jy vir Jesus in jou lewe maak is ‘n lewe IN DIE GEMEENTE waar ons take, bedieninge opneem (1 Kor 12), waar ons groei in insig, waar ons volhard in die lewe van gebed (Rom 8), waar ons sekere houdings, gesindhede uitleef teenoor ander (Gal 5). 1 Kor 12:20 sê nie verniet nie: “nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.” Ons word geroep om sorg te dra vir mekaar, om deur die Gees gelei, Jesus se gesig vir mekaar te wees! Dit vra vir ons om NIE skewe liefde uit te deel nie.

  • Die feit dat ons vandag, of iewers in die verlede, belydenis van ons geloof kon aflê, die feit dat julle vanoggend, sewentien jaar later, met die gemeente as getuies, hardop kan antwoord op God se uitnodiging destyds by jou doop, bevestig dat God SY doopbelofte gestand gedoen het – Hy seën ons! Dit is louter genade dat ons hier kan staan en sê, “Ek glo in God die Vader, Seun en Heilige Gees.”

DIE HERE SE SEËN MOET SIGBAAR WEES IN ELKE FASE VAN ONS LEWENS

Seën wat sigbaar word en moet word in elke fase van ons lewens.

  • As kind aanvaar ek en leef ek met ’n absolute kinderlike vertroue en borrelende wete dat God vir MY liefhet! Ek is ‘n voorbeeld vir die grootmense met my geloof.
  • As jongmens gee ek myself op ‘n avontuurlike en energieke wyse aan God – soms op maniere wat dalk die bestaande orde hier in die gemeente gaan uitdaag!
    •    As jong volwassenes ontdek ek dalk in my werk dat ek my roeping as Christen voluit kan uitleef.
  • As iemand in my middeljare is die ontdekking dalk dat God my gebruik, juis my posisie in die gemeenskap kan gebruik om Sy getuie te wees.
  • As ouer persoon het ek dalk meer tyd om my roeping as gelowige uit te leef, om my wysheid tot Sy eer te gebruik.

SLOT

Maar alles is egter net genade. Onverdunde seën wat ons uit God se hand ontvang wat dwarsdeur ons lewens by ons bly. Om belydenis van geloof af te lê, is nie om ‘n doel te bereik nie. As ek gekies word vir die Springbokspan, kan ek nie maar net rustig agteroor gaan sit asof ek ge-“arrive” het nie! Nou is die tyd vir speel in die span. Gebruik die genade van God, genade wat Hy beloof het toe jy niks verstaan het nie, genade waarmee Hy jou gebring het tot vandag, genade waarmee Hy ook in jou lewe vorentoe met jou sal wees, gebruik dit, leef daaruit deur die Gees wat in jou woon, om elke dag en oomblik tot Sy eer te leef!

AMEN