Markus 5:21-43

Datum: 27 Junie 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Kindermoment:

Verlede week het ek mos daar by julle kom kuier daar by die kinderkerk, en toe het ons gesels oor Dawid. Onthou julle nog Dawid se baie groot probleem? Jy kan eintlik sê sy reuse probleem. Goliat. Niemand van God se mense het kans gesien om die reus Goliat aan te vat nie, want hy was net té groot en té sterk. Maar dit het nie vir Dawid te veel gepla nie. Want Dawid het geweet hy is nie alleen nie. Hy ken Iemand wat nog baie groter en baie sterker as Goliat is.

 

Dawid het vir God geken, en hy het baie goed geweet hy kan net na God toe gaan, en sy hulp by God gaan soek. En die rede hoekom ek julle vanoggend weer aan Dawid herinner, is omdat dit presies is wat ook in vandag se storie gebeur. Vandag se storie vertel ons van twee mense. Twee mense wat op die oog af baie verskil van mekaar, en eintlik glad nie dieselfde is nie.

 

Die eerste een se naam is Jaïrus. Hy was ‘n raadslid van die sinagoge, een van die heel belangrikste Jode in die hele stad. Dis glad nie so maklik vir hom om na Jesus toe te kom nie. Want die ander raadslede in die sinagoge sou net mooi niks daarvan hou nie. Buitendien, Jaïrus moet hy self bietjie vergeet hoe belangrik hy is, en hy moet vir Jesus hulp kom vra. Hierdie baie belangrike man moet nou kom hulp soek. En hy doen dit, want hy is baie lief vir sy dogter, en sy is baie siek.

 

Die ander een in ons storie is ‘n vrou. Ons weet nie eens wat haar naam is nie, maar sy sukkel al jare met haar gesondheid en niemand kan haar help nie. Dit het nie eens gehelp dat sy al haar geld al uitgegee het nie. Sy het net al sieker geword. Daarby het haar siekte gemaak dat niemand met haar iets te doen wou hê nie. Sy was ook nie eintlik belangrik nie. Net verskriklik eensaam en desperaat.

 

Maar in een opsig was altwee hierdie mense net soos Dawid. Hulle het geweet hulle kan maar na Jesus toe kom om hulp te soek. En nou is die vraag: Het jy al geleer dat ‘n mens maar vir Jesus alles kan sê wat jou pla? Jy ken mos ook Iemand wat alles kan doen, en Hy nooi ons selfs om dit te doen. Hy het een keer geê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Of jy groot en belangrik is, en of jy arm en eensaam is, maak nie saak nie. Kom na My toe en praat met My. Ek wil jou help. Kom ons gaan dan nou na God toe.

 

Ek is nou oor dit, sê iemand hierdie afgelope week deur sy masker vir my. Ek kon nog die tweede golf soort van hanteer, maar nou is ek oor dit! My moed is totaal gebreek as ek dink alles begin nou maar net weer van voor af. Jy kan niks beplan nie, want ons het geen idee wat wag in die toekoms nie, en intussen gaan die infeksiekoers net op en op. En weet jy, ek verstaan as iemand so voel. Want ons is almal oor dit. Ek is seker jy het dit ook in die afgelope week gehoor. Dalk self gesê ook... Daarom help dit nie ons steek vanoggend vir mekaar weg hoe ons voel nie.

 

Hoe voel jy op hierdie stadium? Dalk self maar bietjie vuisvoos en moedeloos? Of eerder baie vuisvoos en moedeloos. Covid-moeg? Dan sal jy jou dalk kan identifiseer met hierdie twee karakters aan wie Markus ons vanoggend bekend stel.

 

  1. Twee verhale, met baie in gemeen:

Want as daar die een ding is wat oor hulle altwee geskrywe staan, dan is dit in hoofletters die woord “Desperaat”. Hulle het hulle vasgeloop en hulle weet glad nie na wie toe om te draai nie. Jaïrus moes sy twaalfjarige dogtertjie dodelik siek by die huis los. Die blote feit dat hy haar gelos het en hier is, sê al klaar vir jou hoe desperaat hy is. En dat hy as leier van die Joodse sinagoge na Jesus toe kom om hulp te vra, spreek boekdele. Jaïrus moes al sy trots in sy sak steek, al sy vooroordele oor Jesus laat vaar, om hier te kan wees. Maar hy het geen ander opsie nie. Vir die Jode was sy twaalfjarige dogter ‘n jong vrou, op die drumpel van die lewe. En sy lê sterwend... en Jaïrus sal enigiets doen om haar te red.

 

Die ander karakter se naam ken ons nie eens nie. Ons weet net sy is nie ‘n gesiene figuur in die samlewing nie. Inteendeel. Sy is ‘n uitgeworpene. Wat se geld sy ook al gehad het, het sy lankal bestee aan mediese behandeling vir haar siekte, maar dit het haar niks gehelp nie. Inteendeel, haar situasie het net vererger. Nou kan sy nie eens meer kerk toe gaan nie, want met haar kondisie was sy nie daar welkom nie. Geen vriendin gaan haar in haar huis ontvang nie. Soos sy daar langs die pad vir Jesus wag, is sy die prentjie van desperate eensaamheid. Ook sy het nêrens waarheen sy kan gaan nie.

 

Hulle kan hom nie eens in die privaatheid van ‘n spreekkamer of in sy studeerkamer sien nie. Hulle het geen ander keuse as om Jesus op hierdie uiters openbare plek te nader nie, ten aanskoue van almal wat nuuskierig daar ronddraai. Jaïrus kon nie die donkerte van die nag gebruik om weg te kruip en sy vernedering weg te steek soos Nikodemus nie, en hierdie vroutjie het geen ander keuse as om haar toestand voor almal rugbaar te maak nie. My hart bloei vir altwee hierdie desperate, magtelose mense.

 

  1. Wat leer ons van hierdie twee in ons eie krisisse?

Maar die punt is, hulle maak die regte keuse en hulle is nou op die regte plek. En op die ou end kry hulle albei hulp in hulle hulpelose situasie. Jaïrus kry hulp, omdat hy vergeet van homself en sy eie posisie. Omdat hy kans sien om te vergeet van sy status, sy trots in sy sak te steek en Jesus te nader. Hy kry hulp omdat hy in sy situasie sy vertroue op Jesus stel, al dink of sê wie ook al wát daarvan. Jaïrus bring sy krisis na Jesus toe, en hy word nie teleurgestel nie.

 

Die vrou het niks meer om te verloor nie. Al wat sy waag, is dat Jesus haar dalk kan afjak of wegjaag, en op die een of ander manier weet sy dit sal nie gebeur nie. Tog wil sy Hom nie eens steur nie. Dalk was sy net te skaam om haar probleem uit te stal, maar sy raak net aan die tossels van sy kleed geraak, en dadelik is sy gesond. Niks en niemand kon haar help nie, maar toe sy waag met Jesus, kan sy hoor: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

 

  1. ‘n Verhaal van teenstellings.

Twee uiteenlopende mense, met verskillende krisisse. Twee mense wat hulle toevlug tot Jesus neem, wie se stories wonderlik eindig. Maar wat my op die ou end die meeste bybly van hierdie stories, is dat dit ‘n verhaal van uiterste teenstellings is.

 

Aan die een kant hierdie vrou se desperaatheid. Selfs nadat sy genees is, het sy geskrik en gestaan en bewe, sê die Bybel. En reëlreg daarteenoor staan Jesus se rustigheid. Hy besef dadelik wat gebeur het, maar Hy weet ook hierdie vrou het meer as net fisiese genesing nodig. Sy het nodig om haar geloof onder woorde te bring en op haar knieë voor Hom te kom staan. Anders sou sy dalk die res van haar lewe vertel het hoe gelukkig sy was dat Hesus nie eens agtergekom het Hy genees haar nie! Maar na dese kon sy vertel hoe Hy haar liefdevol aangekyk, en in genade aangespreek het, en dit is wat eintlik haar lewe verander het, meer nog as haar genesing.

 

Maar ook in die twee deel van die verhaal kry ons hierdie skrille kontras. Aan die een kant die situasie by Jaïrus se huis, waar die histerie van die destydse Joodse roupraktyke in volle swang was toe Jesus daar aankom. Dit was ‘n “hele gedoente” van mense wat “verskriklik huil en te kere gaan”. ‘n Prentjie van magtelose mense, wat geen beheer oor hulle situasie het nie. Maar Jesus ignoreer hulle, en vat net die ouers en sy dissipels in na haar kamer toe. Want Jesus is anders. Hy in beheer. En so wek Jesus haar weer op.

 

Ek hoef nie vir jou te herinner dat dit ook die storie van ons tyd is nie. Jy weet dat ons lewe in ‘n tyd van massa-histerie en desperaatheid. Mense se gesprekke en praatjies op sosiale media getuig daarvan dat hulle desperaat is en dat alles buite hulle beheer is. Maar aan die ander kant hoef ek jou ook nie daaraan te herinner dat Jesus nog niks verander het nie. Hy is steeds rustig en in beheer. Em dit is waaraan Markus 5 jou vanoggend kom herinner. Raak nou net ‘n slag weer bewus daarvan. Los die histerie, en kom tot rus in God.

 

Ek en Chris het die afgelope week weer gepraat oor die vreemdheid wat ons nou ervaar, en hoe moeilik dit maar vir ons ook is, dat alles so totaal buite ons beheer is. En wonder ons, of dit nie dalk juis God se plan is nie, dat ons net ‘n slag agterkom ons het nie alles onder beheer nie. Ons het Hom nodig, ons het sy vrede in ons lewe nodig.

 

Dis tyd dat ons ophou raas en tekere gaan, en na Hom toe gaan.

Amen