Romeine 8:12-15
Datum: 19 Julie 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Min dinge in hierdie lewe is seker so kosbaar soos ‘n troetelnaampie. Dis mos nie iets waarop jy aanspraak kan maak nie. Ek glo nie jy kan iemand vra dat hy asseblief vir jou een moet uitdink nie. Dis iets wat ons spontaan vir mekaar gee, net om een rede, en dit is omdat ons daardie een liefhet. Dalk probeer jy nou baie hard onthou wat julle twee mekaar genoem het toe julle jonk was en begin handjies vashou het, of pas getroud was. Maar moenie nou afdwaal nie - ek gaan jou nie daarna vra nie. Want dis nie regtig waaroor dit vanoggend gaan nie. Ek gaan eerder sommer self vir jou ‘n voorbeeld gee. Toe my kleindogter begin praat het - en teen die tyd weet julle almal sy is besonder oulik en begaafd – maar toe sy begin praat was haar eerste woord tot almal se konsternasie nie Mamma of Pappa nie. Dit was Oupa. En dis nogal die waarheid! Wat nie waar is nie, is die gerug dat ek haar afgerig het om dit te sê. Dis ‘n lasterstorie.
Maar dis nog nie my punt nie. Baie kort daarna was ek nie meer “Oupa” nie. Al het niemand haar dit voorgesê nie, het ek “Oupie” geword, en dit is ek tot vandag toe. Die eerste maal het ek so half skeef opgekyk, maar vandag is dit vir my die wonderlikste eretitel in die wêreld. Ek wil niks anders wees as Oupie nie. En dis mos juis die wonder van ‘n troetelnaampie - daar sit net sóveel daaragter. Om die waarheid te sê, daar sit ‘n kosbare, lewensveranderende verhouding daaragter... en dis wat ‘n troetelnaam so kosbaar maak.
- Wat sit agter Romeine 8:12-15?
Maar vanoggend is nou seker nie die tyd om oor ons kleinkinders te spog nie. Al is dit mos maar wat ons Oupas doen. Maar glo dit of nie, daar is nogal ‘n punt aan my storie. ‘n Punt wat eintlik al klaar iets weggee van die groot geheim van hierdie 4 verse wat ons vanoggend gelees het. Maar voor ons daarby kom, kom ons begin by die begin. As ek jou vanoggend sou vra: wat dink jy is die heel belangrikste woordjie in hierdie vier verse wat ons gelees het, gaan jy heel waarskynlik nie reg raai nie. Want hier is heelwat wonderlike woorde. Maar die héél belangrikste woordjie is die een waarmee vers 12 begin. Die gedeelte begin: “Daarom dan...”
En dit sê vir ons, dat dit wat Paulus ons nou wil vertel, nie sommer net uit die lug geval het nie. Hierdie wonder is nie sommer toevallig nie. Dit het ‘n oorsprong, en om dit uit te vind, sal jy bietjie moet teruglees, tot by vers 9. Daar staan: “Die Gees van God woon in julle.” En dis die diepste wonder waarvan Romeine 8 vertel. Hy begin deur vir ons te herinner dat daar vir God se kinders geen veroordeling meer is nie. Die soenverdienste van Jesus Christus het al ons skuld van ons weggeneem asof dit nooit daar was nie. Hy het ons verhouding met God kom herstel, en die tasbare bewys daarvan is dat Hy deur sy Gees deel van ons lewe geword het. Die Gees het binne-in ons kom woon, sodat ek en jy nooit weer sonder God hoef te wees nie.
Die Gees woon binne-in jou. En binne-in jou is Hy besig om die magtige skeppingswerk van God voort te sit. Elke oomblik van die dag is die Gees besig om jou te her-skep. Jou volkome te restoureer sodat jy kan wees wat God jou eintlik gemaak het om te wees. Paulus noem dit die leiding van die Gees. Op ‘n ander plek noem hy dit die vrug van die Gees. Die Gees is besig om jou hele lewe nuut te maak. Nie net is daar vir jou geen veroordeling meer nie, maar die Gees het beheer van jou lewe oorgeneem, om jou in staat te stel om tot eer van God te lewe.
- Dit plaas ons onder ‘n verpligting...
Dis darem regtig die toppunt van dwaasheid om te dink dat daar só ‘n omwenteling in jou lewe kan plaasvind, en dat dit tog geen verskil gaan maak nie. Om te reken dat agterna maar net kan voortlewe nadat dit gebeur het, asof daar niks gebeur het nie. Want hoe kan jou lewe dieselfde bly as alles verander het? Hoe kan jy onaangeraak voortgaan na so ‘n wonder?
Daarom, sê Paulus in daardie eerste sin. Daarom staan ons onder ‘n verpligting. Enigiets anders sou totaal ondenkbaar wees. Daar is geen ander opsie nie. Jou lewe het verander, en jy staan onder ‘n verpligting om dit te wys... Om so te lewe.
- Dit klink darem nie lekker nie...
Maar nou is dit natuurlik presies wat mense laat terugdeins as hulle dit hoor. Want wie sien dan nou regtig kans daarvoor om die beheer oor jou lewe so totaal en radikaal af te gee? Wie sien kans om terug te staan, en die Gees toe te laat om jou te hervorm na die beeld van God?
Wat sou jou antwoord wees, as iemand jou langs die straat sou konfronteer, en deur sy lapmaskertjie vir jou sou vra: Hoekom dóén jy dit? Is jy dan nou mal om jou eie lewe so weg te gee?
Ek weet nie wat jy daarop kan antwoord nie. Ek self weet nie eers wat die antwoord daarop is nie. Jy kan net sowel vir my vra hoekom ek vir Adri so lief gekry het, of so lief vir my kinders en al drie my kleinkinders is? Daar is nie regtig ‘n waterdigte, rasionele antwoord daarop nie. Eintlik is daar net die wonder waarvan vers 15 vertel. Want sê Paulus, toe God ons sy kinders gemaak het, het ons ‘n troetelnaampie gekry vir God. Ons noem Hom nie meer God of Here of Jahwe nie. Ons noem hom: Abba. Vader, sê ons Afrikaanse Bybel, maar dis eintlik ‘n powere vertaling. Want g’n kleintjie sê meer vir sy Pappa “Vader” nie. Letterlik is dit “My Pa... Pappa”. God het ons vir Hom wat die Almagtige God van hemel en aarde is, die Skepper en die koning oor alles, vir Hom het Hy vir ons ‘n troetelnaampie gegee. My Pappa...
En daar sit net soveel agter ‘n troetelnaampie...
En dis hoekom ek Hom vertrou - genoeg vertrou, om my totale bestaan elke dag in sy hande te gee. Dis hoekom ek Hom genoeg vertrou, dat ek my eie wil, my eie planne, my eie vooroordele gekruisig het. Hoe kan ek dit vir jou verduidelik? Hy is my pa, en my lewe is in sy hande, selfs die dele wat nie nou vir my sin maak nie en wat ek nie self sou kies nie. Ja, daarom is daar eintlik vir my geen ander opsie nie. Ek staan onder ‘n verpligting. Ek gaan nie die duisternis wat nog in my oorgebly het, toelaat om my gedrag en my verhoudinge en my woorde te bepaal nie. Ek is ‘n kind van die wonderlikste Vader, “my Pa”, en my hele lewe behoort aan Hom, en dis hoe ek elke dag lewe. Ek laat sy Gees my hele lewe beheers. Want ek vertrou Hom. Hy is “my Pa”...
AMEN