Johannes 20:19-31
Datum: 27 April 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Dit is n week na Paasfees. Hoe raak die Goeie Nuus van Jesus se opstanding my en jou lewe?
Ons staan stil by Johannes 20 se deel oor Tomas. Alhoewel hy op 'n slegte manier bekend staan as "Ongelowige Tomas", vra hy niks meer as wat die ander reeds ontvang het nie: om Jesus, wonde en al te sien.
Die Paasseisoen van opwinding en halleluja’s kan soms min ruimte laat vir ons twyfel, ons vrese en ons pyn. Ons is geneig om te vergeet dat daar vir die eerste dissipels vrees, twyfel, pyn en verwarring was voordat daar begrip en vreugde was oor wat op daardie dag plaasgevind het. Een week nadat Jesus aan sy dissipels verskyn het, was hulle agter geslote deure bymekaar, wat duidelik wys Tomas was nie die enigste een wat nog versekering nodig gehad het dat Jesus die dood inderdaad oorwin het nie.
Die natuurlike ding om te doen wanneer ons angstig of bedreig voel, is om weg te kruip en die deure te sluit, en om op ons eie veiligheid te fokus. Maar Jesus kan nie deur ons geslote deure gestop word nie. Jesus kom na ons toe soos Hy na die eerste dissipels gekom het, te midde van ons vrees, pyn, twyfel en verwarring. Hy kom spreek vrede uit, en blaas die Heilige Gees in ons angstige lewens in.
Dit stop ook nie daar nie, Hy bly opdaag. Soos Hy 'n week later vir Tomas teruggekom het, kom Jesus week na week terug na Sy dissipels en wil nie hê dat iemand die lewe en vrede wat hy gee, moet misloop nie. Jesus verskyn aan Tomas. Ons weet nie of hy ooit aan Jesus raak nie. Maar Jesus het aan hom verskyn. Tomas maak die groot belydenis, en noem Hom nie net "my Here" nie, maar ook "my God".
Dit laat my wonder: Wat is dit wat 'n soortgelyke geloofsbelydenis vandag by ons sou aanspoor?
Die wonder van hierdie gedeelte is dat Jesus aanhou om sy dissipels en ons uit ons veilige, geslote vertrekke te stuur, na 'n wêreld wat, soos ons, sy gawes van lewe en vrede so broodnodig het.