1 Tessalonisense 5:16-24
Datum: 17 Desember 2017
Prediker: Johan Morkel
Is ons as gemeente altyd bly, bid ons gedurig en is ons in alles dankbaar?
Dinge wat ons later in ons lewe met gemak doen, doen sonder om te dink, outomaties doen, het ons nie van die begin af so maklik reggekry nie. Ek dink maar aan dinge soos fietsry - aan die begin het iemand jou fiets vasgehou, jy het jou knieë nerf af geval en nou ry jy fiets asof tweede natuur is. Swem - terwyl jy leer swem het, het jy baie water gesluk, amper verdrink en nou swem jy sonder om eers te dink wat jy doen. Dit werk ook so met die aanleer van ‘n taal - toe jy klein was was dit eers babataal, toe woorde, kort sinnetjies. En nou praat ons vlot, party kan selfs ‘n tweede taal praat!
Die drie aspekte van die geloofslewe wat in die teksverse genoem word, is in die vroeë kerk as die essensiële aspekte van die geloofslewe beskou. Dit is blydskap, gebed en dankbaarheid. Die Skrifverklaarder Tom Wright sê die vroeë kerk het 1 Tess.5:16 - 22 waarskynlik soos ‘n rympie geleer sodat hulle dié aspekte van die geloof kon vaslê. Sodoende het blydskap, gebed en dankbaarheid deel van hul gedrag geword soos ons leer swem of fietsry of ‘n taal aanleer. Hulle het ast’ware dit outomaties begin doen. Om te begin, sal mens moet sê al drie hierdie sake hou verband met ons as gelowiges se reaksie op dit wat God in Jesus Christus vir ons gedoen het. Deur Jesus is ons verlos van ons sondes en die ewige verderf, het ons ‘n nuwe lewe ontvang, ‘n lewe wat voortduur tot in ewigheid, deur Jesus se soenverdienste is die H.G. uitgestort wat elke dag, altyd, by ons is, en deur Jesus het ons deel geword van ‘n geloofsgemeeskap. Ons reaksie hierop is om bly te wees, te bid en dankbaar teenoor die Here te wees.
Kom ons kyk na elkeen van die aspekte afsonderlik. Die eerste een - wees altyd bly, blydskap. Gewoonlik word die mens se blydskap bepaal deur jou omstandighede, wat met jou gebeur of nie gebeur nie, wat jy het of nie het nie. Met ander woorde jy is bly omdat dit met jou goedgaan, omdat jy goeie nuus gekry het, omdat iets goeds met jou gebeur het. Jy is bv. die eksamen deur, jy het bevordering gekry, jy het ‘n lekker vakansie wat op hande is, jou ou of meisie het ja gesê. Dit is nie verkeerd oor dié dinge bly te wees nie. Ons kan en mag geniet dit wat die Here vir ons gee. Maar die blydskap waarvan Paulus praat strek dieper as die blydskap wat oppervlakkige en tydelike omstandigheidsfaktore gee. Die blydskap wat hier ter sake is, is gewortel in Christus. In die feit dat ons kinders van God is, dat ons aan Hom behoort, dat Hy vir ons sorg en oor ons waak. Daarom kan Paulus sê: wees altyd bly. Altyd, in alle omstandighede. Ookal is die omstandighede sleg, ookal gaan dit nie goed met my nie, kan ek steeds blywees omdat dit ‘n innerlike blydskap is wat die Here in my binneste vir my gee.
Mens dink onwillekeurig aan Paulus en Silas wat vasgeketting in die tronk in Filippi sit. Hulle is egter steeds bly, so bly dat hulle om middernag lofliedere tot eer van die Here sing! Kom ons vra onsself: het ek hierdie blydskap? Leef ek blydskap uit, is dit ‘n kenmerk van my lewe? Ervaar ander my as iemand met blydskap? Is ek ‘n blye mens? ‘n Seuntjie en sy pa het ‘n ent met die motor gaan ry. Hulle ry verby perde wat in die veld loop. Die pa sê “kyk, die perde”. Die seuntjie sê dat hy nie die perde kan sien nie. Sy pa vra vir hom “nou wat sien jy? “ Toe antwoord die seuntjie “ek sien net kerkmense, hulle lyk netsoos kerkmense, kyk hulle lang gesigte!”
Die tweede eienskap wat genoem word , is gebed. Bid gedurig(O.V: sonder ophou). Dit beteken nie dat ons alles moet opgee en net heeldag moet bid nie. Dit kan tog nie. Ons lewens is gevul met baie ander noodsaaklike dinge. Dit beteken wel, wees heeldag in die gees van gebed, wees heeldag in afhanklikheid van God, wees heeldag bewus van die teenwoordigheid van die Here, wees heeldag soos iemand wat bid: soekend na die wil van die Here. Ek dink oor die algemeen is ons skuldig aan hierdie aspek van die geloof waaraan die vroeë kerk soveel waarde geheg het, gebed. Ek is altans. Om te bid, om daagliks te bid, om tyd en plek in te ruim in ons lewens vir gebed, om my gebede nie af te rammel sodat ek kan sê ek het gebid nie. En dan nog buiten gebed sê Paulus ook ons moet in gedurige gebedsafhanklikheid van die Here leef, gedurig in stille kontak met die Here wees, somtyds in stilte net dankie sê, asseblief sê, die Here loof (vir, bv. die reën wat begin val). Ons moet kennisneem dat hier nie staan ons kan kies of ons hierdie dinge wil doen of nie. Elkeen van die drie aspekte wat genoem word, is ‘n imperatief, ‘n bevel, ‘n opdrag. Daar staan eintlik julle moet bly wees, julle moet gedurig bid, julle moet dankbaar wees.
Die laaste eienskap wat Paulus noem, is “wees in alle omstandighede dankbaar” Dankbaarheid. Ons vind weereens die opmerking “ in alle omstandighede” Wees altyd bly., bid gedurig, en dan, wees in alle omstandighede dankbaar. Dankbaarheid lê ten grondslag van ons geloofslewe. Ons is dankbaar vir dit wat God uit genade vir ons gegee het, omdat ons uit genade gered is, omdat ons aan die Here behoort, omdat die Here vir ons sorg, ons beskerm. Mens kan dit ook andersom sê: Uit dankbaarheid vir wat die Here aan ons gedoen het, is ons lief vir Hom, dien ons Hom, gehoorsaam ons Hom, aanbid ons Hom. Op Laerskool A F Louw het daar ‘n dominee een oggend ‘n saalbyeenkoms kom doen. Hy het vertel dat die Here in die hemel twee engele geroep het en vir elkeen ‘n mandjie gegee het. Vir die een het hy gesê hy moet aarde toe gaan en die mandjie vol assebliefs maak. Vir die tweede een het Hy gesê hy moet sy mandjie met dankies volmaak. Na ‘n kort tydjie was die engel wat die assebliefs moes versamel, terug in die hemel met ‘n vol mandjie. Maar die engel wat die mandjie vol dankies moes maak, het nie opgedaag nie. Toe het die Here maar vir die eerste engel gevra om die een wat die dankies moes bymekaar maak, te gaan haal. En toe hy by die hemel aankom, is daar net ‘n paar dankies in die mandjie. Die storie het ‘n groot indruk op my gemaak. Tog behoort die basiese toonaard van die gelowige dankbaarheid te wees!
Iemand stuur die afgelope week die volgende watsapp vir die Sportmanne groep. ‘n Brood val uit ‘n bewegende broodwa en rol ‘n ent verder. ‘n Stukkie brood breek af en bly lê in die straat. Drie mossies peil op die stukkie brood af en begin baklei oor die brood. Dit kwetter en skreeu en baklei vir die vale. Een kry die oorhand en terwyl hy gretig die broodkrummels oppik, gaan sit die ander twee bedroë in die naaste boom en raas. Nie een van die drie het die groot brood ’n entjie verder gesien lê nie en het baklei oor die krummels. Ons maak rusie oor klein dingetjies in die lewe en ignoreer wat belangrik is. Ons baklei oor wie die huis moet skoonmaak, kosmaak, skottelgoed was, maar die seëning om ‘n huis te hê, sien ons nie raak nie. Ons bakliei oor die krummels van wie moet die motor was, petrol ingooi, maar die heel brood van om ‘n motor te hê, sien ons nie raak nie. Ons kwetter oor die krummels van mense by die werk wat dit of dat doen, maar die heel brood van ‘n seëning om om ‘n werk te hê en om gesond te wees om te kan werk, sien ons nie raak nie. Laat ons, voordat ons verstrengel raak in die krummels, rondom ons kyk en dankbaar wees vir die brood!
Iemand wys daarop dat die sin wat volg nadat oor blydskap, gebed en dankbaarheid gepraat is, wel verband hou met dié drie dinge. Daar staan: Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, maar bly weg van alles wat sleg is.(Profesieë beteken die bekendmaak van die wil van God, en nie voorspellings nie). Hy of sy wat nie luister na die stem van die H.G nie, wat nie erns maak met profesieë nie, nie besluite neem ten gunste van wat goed is nie en nie wegstap van wat sleg is nie, so iemand sal nie daarin slaag om te doen wat Paulus vra nie. So iemand sal dit nie regkry om ‘n lewe te leef van blydskap, gebed en dankbaarheid nie. Ons sal dit alleen regkry as ons die wil van die Here soek, sensitief is vir die leiding van die Heilige Gees (nie teenstaan), daadwerklik kies om die goeie te doen en kies om weg te stap van die kwade. Mag ek en jy dit regkry! Ons het die belofte dat die Here saam met ons is, v.23 sê: Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.
Amen.